Stellenbosch-moord: Verdagtes in hof

Marie Verwey. Foto: Verskaf

Marie Verwey. Foto: Verskaf

Die drie verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op Marie Verwey (80) van Paradyskloof het Maandag in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.

Die saak teen Nicole Geldenhuys (32) en haar kêrel, Romeo Hendricks (40) sowel as ʼn derde verdagte (33) is uitgestel tot 2 Maart om die drie geleentheid te gee om om regshulp aansoek te doen.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media gesê Geldenhuys het aangedui dat sy nie in die stadium om borgtog gaan aansoek doen nie.

Maroela Media het vroeër berig Verwey is vroeër vandeesmaand in die Villa Merwe-gastehuis in Paradyskloof vermoor. Verwey was die eienaar van die gastehuis.

Francois Verwey, Marie se seun, het aan Maroela Media gesê hy en sy ma het saam gebly. “My pa [Stephen] is in Desember 2014 oorlede. Hy was vir ‘n lang tyd siek en ek het al vroeg in 2014 terug huis toe getrek om na pa te help omsien maar ook om daar vir my ma te wees. Na my pa se afsterwe het ek my plek verkoop en permanent by my ma gebly,” het Verwey gesê.

Volgens hom was Nicole [ook bekend as Nicolize] eers sy pa se tuisverpleër. Sy het ná Stephen se afsterwe vir Marie versorg. Francois het gesê Nicole se dienste was na sy pa se afsterwe nie meer op standaard nie en hulle het daarna besluit om haar dienste te beëindig.

“Nicole het my ʼn week voor die moord op my ma op WhatsApp gekontak en my ma gebel. My ma het besluit om haar maar weer ʼn kans te gee oor naweke. My ma was nog redelik sterk so Nicole het net die bed reggekry vir die aand en haar nagklere op die bed gesit. Sy het die reeds voorbereide aandete en ʼn koppie tee na my ma gevat en net klere opgehang in die oggend. Sy het ook saam met my ma badkamer toe geloop aangesien my ma met ʼn driewiel-loopraam geloop het,” het Francois vertel.

Francois het gesê ʼn buurman het sy ma se liggaam gekry toe die huishulp, Emily Julius, huis toe gebel het en daar geen antwoord was nie. “Hulle het haar gekry op die stoel waar sy altyd in die sitkamer gesit het. Sy het veelvuldige steekwonde opgedoen,” het Francois vertel.

“My ma was ‘n baie mooi en goed versorgde vrou met die sagste geaardheid wat altyd gesê het sy wil in vrede leef met haar naaste. My ma was ook ʼn baie goeie sakevrou en het haar gastehuis baie suksesvol opgebou. Ons sal haar altyd onthou as ʼn ware dame met ʼn sagte gees wat die Here gedien het en baie geliefd was onder haar vriende en die gemeenskap. My ma was 80 jaar oud en moes met ʼn loopraam loop en was totaal weerloos,” het Francois gesê.

Marie word oorleef deur nog ‘n seun, Gabriël. “Van kleins af was ek altyd by my ma. Ons was besonders naby aanmekaar en het amper nooit verskil nie. Na my pa se dood was ek altyd aan haar sy as ek nie by die werk was nie. My ma was my hele lewe en volgens my die perfekte vrou.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AL ·

My innige simpatie aan die naasbestaandes. Geen goeie mens verdien om so dood te gaan nie.

PJ ·

Siek man…’n weerlose ou dame…hoop julle kry wat julle verdien..julle is rubbish!

Susan@ ·

Stank vir dank!!!! Wys jou net sy moes nie haar werk terrug gekry het nie. Want kyk nou net wat het hulle gedoen!!Sies man ñ lewe is kosbaar vir ons Vader wat se mense is julle wat net ander om die lewe bring!!

apie ·

Dit moes ‘n waarlik besonderse dame wees as haar kinders so oor haar voel. Wat ‘n voorbeeld is die familie nie!. Hoed af vir wat julle vir jul ouers gedoen het ! ‘n Mens het nie woorde nie, ek dink elke dag aan hierdie afgryslike daad en aan hierdie familie se leed

nhk ·

Hierdie moord is vooraf beplan. Innige simpatie aan die 2 seuns

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.