Stellenbosch-sakeman in hof vir moord

Johan “Mossie” Serdyn het Vrydag glo ’n vermeende betreder op sy sakeperseel doodgeskiet. (Foto: Facebook)

’n Bekende sakeman en kranige kanovaarder van Stellenbosch sal vandag (3 Augustus) weer in die landdroshof op dié dorp op aanklag van moord verskyn.

Johan “Mossie” Serdyn (69) het Vrydag glo ’n vermeende betreder by sy sakeperseel in Plankenbrug doodgeskiet en is sedertdien in aanhouding.

Serdyn het Maandag in die hof verskyn waar hy ook om borgtog aansoek gedoen het. Die saak is egter tot Dinsdag uitgestel.

Serdyn se prokureur, William Fullard van Gideon Engelbrecht Inc, het aan Maroela Media gesê dat die ondersoekbeampte vir uitstel gevra het sodat hy eers Serdyn se sogenaamde “borgtogprofiel” kan evalueer.

Dit beteken dat die ondersoekbeampte eers wil bepaal of Serdyn onder meer ’n vlugrisiko inhou en geskik is om op borgtog vrygelaat te word.

“Ek was eintlik baie verbaas dat hulle eers sy borgtogprofiel wou evalueer. Serdyn se rekord is silwerskoon. Hy het ’n vaste woonadres en woon al byna 40 jaar op Stellenbosch.

“Serdyn is ’n bekende kanovaarder en het al verskeie kere die Comrades voltooi.

“Toe ek hom Vrydag vir konsultasie in die selle besoek het, het ek sy gesig herken – so bekend is hy in die gemeenskap. Sy naaste familie woon ook in Stellenbosch en sy paspoort het boonop lankal verval.”

Fullard sê voorts dat hy die ondersoekbeamptes ook die afgelope naweek persoonlik gebel het om te sê dat hulle hom enige tyd kan kontak indien hulle vrae het.

Hy sê dit is sleg dat Serdyn, wat in Desember vanjaar 70 word, nóg ’n nag in die selle moet deurbring, maar dat dit onder omstandighede goed gaan met sy kliënt.

“Ek en Serdyn kon nog nie voldoende oor die meriete van die saak konsulteer nie aangesien ons nog nie baie tyd of privaatheid gehad het nie.

“Ek kan wel bevestig dat ons beslis sal argumenteer dat Serdyn uit selfverdediging en binne die raamwerk van die wet opgetree het.

“Voorlopig fokus ons egter eers om hom op borgtog uit te kry.”

Fullard sê sakepersele in Plankenbrug loop deur onder misdaad. Dit is ook nie die eerste keer dat Serdyn ’n slagoffer van misdaad in dié omgewing is nie.

“Hy is op 24 Julie by die einste sakeperseel aangeval en van sy vuurwapen beroof. Die voorval is ook by die polisie aangemeld.

“Die alarm by Serdyn se sakeperseel het verder, nes Vrydag, verskeie kere oor die afgelope paar weke afgegaan.

“Ek kan egter nie in dié stadium bevestig hoe laat die voorval presies Vrydag plaasgevind het nie.”

’n Kennis van Serdyn, wat verkies om anoniem te bly, het aan Maroela Media gesê dat sy baie verbaas was om van die aanklag teen hom te hoor.

“Ek sal hom as ’n nederige, topfikse en hardwerkende persoon beskryf wat altyd ’n glimlag op jou gesig sit wanneer jy hom sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Harley Davidson ·

Onbevoegde, moedswillige polisie,die wet is duidelik maar word geintripiteer deur ‘n individu wat hom verhewe ag omrede hy ‘n polisie kenteken het.Ek gaan weer sê net ‘n onafhanklike tuisstaat kan ons red.

Thom ·

Die ” tuisstaat ” is die belaglikste idee ooit ! Gaan Orania toe .

Harley Davidson ·

Orania is ‘n groot plaas binne in die piesang Republiek onderworpe aan piesang wette.

Andreas ·

@Thom, was jy al in Orania gewees? Hulle het nie daardie soort probleme nie.
En wat daar werk, sal ook anders werk. Ek neem egter aan jy is ‘n bietjie “te goed” om met jou eie hande te werk, probeer liewer erens ‘n pos op die soustrein kry waar jy toesig oor “goedkoop Arbeid” kan hou en ‘n bietjie kleingeld kan kry.

Anton ·

Hy en miljoene ander burgers behoort te staat aan te kla vir hulle onvermoë om ons veilig te hou

ES ·

Klink vir my of die polisie bevooroordeeld is – hy is ‘n bejaarde man, sakeman of nie – en hy het die reg om sy lewe te beskerm.

Baie sterkte aan hom, hierdie gaan ‘n moeilike tyd wees wat voorle, kom ons hoop dat geregtigheid seefier.

Kokerboom ·

Dat Polisie hul werk moet doen is aanvaarbaar , maar:
1) hul het altyd verskuilde agendas
2) die man is ‘n maklike teken want hy het ‘n vaste adres, hy het geen oortredings, sy pigment tel teen hom, hy is nie ‘n vlugrisiko(hoekom aanhou), hy is bekend ens
3) hul faal totaal om inwoners en besigheidsmense van land te beskerm
4) hul is onbevoeg, swak opgelei, ongemotiveerd agv top politiekery
Selfverdediding is skynbaar nie ‘n opsie by SAPS
Vertrou hy word regverdig behandel!!!

Andreas ·

Dis net soos wat jy se. Dis die “maklike teikens” wat gepoliseer word. Mense wat jou nie sal aanrand nie om rede jy as onbevoegde polisieman lastig raak. Mense moet hier egter kreatief raak, iemand sal iets vir die arres geteken he. Kry maar al die besonderhede van so ‘n saak en swak diens hou nie van publisiteit nie.

Aai ·

Moeilik om nou enige iets te se niemand ken die omstandighede.Sterkte daar.

Johan ·

Hoekom word die woord “moord” gebruik in die opskrif? Dit moet eerder lees ” …vir die doodskiet van ‘n betreder”.

Aai ·

Omdat hy word aangekla vir moord en dan onskuldig bewys as hy is.Hy het ‘n persoon gedood beteken nie hy was verkeerd dit is so as enige persoon gedood word ook as ‘n polisieman sy werk doen word hy van moord aangekla en dan word dit geondersoek.(GO)As hy onskuldig kom sal dit ‘n geregtelike dood wees.

Johan ·

Dan moet die opskrif eerder “vermeende” moord wees, net soos die sogenaamde “vermeende” betreder.

Kokerboom ·

Beslis. Hy het NIE beplan om persoon(lees rower) dood te skiet maar my magtig HOE verdedig/beskerm jy jou belange in lig van permanent afwesige Polisie?

JM ·

As hy een van “our people” was, het hy onmiddellik borg gekry.

Gert ·

Jy is nie geregtig op jou eiendom of besittings nie. Omdat jy iets het mag die luie krimineel van dit of als vat want jy sal werk en nog kry. Moet ook nie vergeet dat jy glad nie jouself mag verdedig nie, jy moet net vat wat na jou kant kom. Wees bly as jy dit oorleef want die krimineel is genadig

Deon ·

En as die persoon/e wat geroof word lewendig daarvan af kom, dan se ons almal, “dank die Vader niemand is dood nie” Alles is onderstebo deesdae

Botterblommetjie ·

Ek kry jou jammer, bitter jammer…. ons is heeltyd onder beproewinge in die lewe…. klou net vas aan God se hand… moet nie die sel of die dinge om jou raaksien nie… bly bid. Hoe moeilik ook al, bly bid. Gee als in Sy hande oor… Ek dink soms God laat toe dat goed met goeie en slegte mense gebeur… ons kans om God die eer te gee… gee net oor…. nie op mense en dinge (Soos geld bv.) vertrou nie… ons vertroue is misplaas. As jy nie glo nie, blaai verby my opmerking (tog hoop ek stilletjies dat dit ‘n hartsnaar roer)… hierdie is slegs my Christelike opinie en sien dat die kinders van God al hoe meer op hul knieë moet deurbring en ons sondes bely… ons sit soveel voor God en vertrou op ons eie ek….

Anoniem ·

Onregverdigheid seëvier in hierdie land. Die “persoon” het geen reg gehad om onwederregtelik op Johan se perseel te wees nie. Hy het ter beskerming van homself en sy eiendom opgetree. Glo en bid en jy sal hierdie saak wen. Ons bid saam.

Tokkel ·

Twee stelle reëls…..sommige kry borgtog van R500 en R1000, maar ons moet nag in tronk slaap.
Tyd dat die polisie vir ‘n slag opgelei moet word hoe mens sake hanteer.

RC007 ·

Ek kry vir oom Mossie bitter jammer. Nie een van ons weet wat daardie nag gebeur het nie, dus gaan ek myself nie daaroor uitlaat nie. Waaroor ek wel beskik is die feit dat ek oom Mossie my hele lewe lank al ken. Inteendeel ek het tot vandag toe fotos waar ek, my vrou en my swaer as 8 jarige kindertjies op sy stoep sit en met van sy klein baba hondjies speel. Vandag is ek 38 jaar oud en kan met lof en deernis oor hom en sy persoonlikheid praat. Hy is ‘n sagmoedige en eerlike mens wat soveel vir die gemeenskap doen en beteken en sy deur staan altyd oop vir hulp. Dis ‘n bitter swaar insident wat oor sy pad gekom het en hy het almal van ons se hulp nodig waar dit gegee kan word. Alle sterkte my oom!

Catherina ·

Jy mag inbreek, martel, doodmaak maar ai, die ander persoon mag homself nie verdedig nie. Skiet maar food…hier is ek.

Andreas ·

Ek hoop hy dagvaar die aanspreklikes vir sy onregmatige arrestasie.

Johannes ·

Is hy nie ook te oud om in die tronk te sit nie. Wat van sy menseregte en veral nadat hy homself en sy eiendom verdedig het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.