Stem nou aanlyn vir nuwe openbare beskermer

'n Skermskoot van 'n paar van die kandidate vir wie gestem kan word om die posisie van Openbare Beskermer te beklee.

‘n Skermskoot van ‘n paar van die kandidate vir wie gestem kan word om die posisie van Openbare Beskermer te beklee.

Die teenkorrupsie-organisasie, Corruption Watch, het ʼn aanlyn stemstelsel bekendgestel waardeur die publiek vir hul gunstelingkandidaat kan stem om die huidige openbare beskermer (OB), Thuli Madonsela, op te volg.

ʼn Ad hoc parlementêre komitee het vandeesweek onderhoude met 14 kandidate gevoer wat op die kortlys is om as die nuwe OB aangestel te word. Die onderhoude is tydens ’n marathonsessie van 20 uur gedoen en het eers Vrydag in die vroeë oggendure tot ʼn einde gekom nadat dit Donderdagoggend 08:00 begin het.

Corruption Watch het intussen die Bua Mzansi-veldtog van stapel gestuur waardeur die organisasie poog om bewusmaking rondom die aanstelling van die nuwe OB te skep. Madonsela se termyn as OB sal in Oktober tot ʼn einde kom.

“Ons beplan om seker te maak Madonsela se opvolger word op ʼn deursigtige manier aangestel en word beïnvloed deur die openbare mening. Ons wil met hierdie veldtog verseker dat die kandidate behoorlik gekeur word, dat hulle gekwalifiseerd en gepas vir die posisie is en dat die hele proses in die openbare kollig hanteer word,” het Corruption Watch op sy webwerf gesê.

Die organisasie het gesê hulle sal die ad hoc-komitee inlig oor die uitslae van die aanlyn stemproses om sodoende die publiek se mening onder die komitee se aandag te bring.

Dr. Makhosi Khoza, die komitee se voorsitter, sal binnekort ʼn datum vasstel wanneer die komitee weer sal vergader om oor die onderhoude te beraadslaag en te besluit op ʼn kandidaat wat hulle teen 31 Augustus vir die Nasionale Vergadering sal aanbeveel. ʼn 60%-meerderheid van die Nasionale Vergadering moet ten gunste van die kandidaat wees waarna pres. Jacob Zuma ʼn aanstelling sal maak.

Mense kan vir hul gunstelingkandidaat stem deur Corruption Watch se webwerf te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kobus ·

Daardie Keogh, Bohler-Meuller en Wiener dames het hulle al as onberispelik bewys, opgewasse vir die taak. Hulle is ysters. Ek glo net dat DR Makhosi Khoza, gaan ‘n haas uit die hoed trek, wat dalk net vir Zuma kan bevoordeel. Dit lyk of sy die proses in hierdie vroeë stadium al in ‘n rigting wil stuur. Plaas dat hulle net soos met die onderhoude, om so deursigtig te bly wees, ook die verdere keuringsproses vir die publiek op die TV laat volg. Dan sal mens nie wantrouig daarteenoor wees nie.

Wern ·

Ek het nie tyd gehad om die onderhou die te kyk of tyd nou om oor die kandidate te lees nie, so die wat weet, gee asseblief vir ons raad. Dankie Kobus vir jou opinie, maar sal nog meer mense julle opinie gee, en sal Maroela self riglyne kan gee of opsommende kommentaar oor die kandidate gee? Herman Toerien, jy is baie lewenswys, kan jy asseblief iets hieroor skryf?

Yster ·

Tot wanneer kan ons stem? Ons moet almal asseblief stem want hierdie is n baie ernstige saak.

Santie ·

Wie van die kandidate dink julle sal ons belange op die hart dra?

Keimoes ·

Ons het nou leiding nodig. Vir wie sal ons stem, en hoe kan ons saamstaan om soveel mense moontlik aan te moedig om te stem? Sal Afriforum hiermee help?

Strydom Bruwer ·

Watter van die vyf oorblywende kandidate kan as geskik geag word vir die pos van OB?

Kobus ·

Gaan Google gerus die kandidate, daar is ook berigte oor onder andere die dames wat ek hierbo genoem het, wie hulle is en wat hulle al vermag het. Die Keogh dame se organisasie het bv die SA regering ‘n tyd gelede aangevat omdat hulle Al Bashir in die land toegelaat het, hom nie in hegtenis geneem het nie.

Charmaine ·

Jy is reg Kobus. Op Corruptionwatch se webwerf kan jul die onderhoude kyk en veral die tipe van vrae van die onderskeie persone en die kandidate se antwoorde gee dadelik ‘n besondere in diepte insae in verskillende karakters en opinies. Soos hul die noem ” an eye opener” . Stem dan aanlyn en sien resultate tot dusver.

Columbiana ·

Hoe kan mens stem vir mense wat jy sommige nog nooit eens van gehoor het nie.
Daar is ook net mooi enige bewys dat die stemming in ag geneem sal word vir die aanstelling. Jammer maar dit wil voorkom asof dit meer oor populariteit as vermoe gaan in die stemming. Dis ‘n foefie met geen insae in die aanstelling nie. As jy dink jy kan vir iemand stem wat Afrikaner belange gaan beskerm is jy onder illusie. Dis die PUBLIC PROTECTOR. Sy/hy gaan gun een groep se be lange bo ander stel of beskerm of wel dis die ideal.

Lance ·

Willie is nie ons man nie.. hy her versuim om zuma aantekla …en gevolglik het SA onherroeplike skade gehad oor die afgelope paar jare …hy verpak dit nou mooi en praat baie slim oor dit maar hy het nie opgestaan vir wat reg was nie en in sy hart weet hy dit …kyk nou mooi hoe word hy nog aangestel om zuma verder te beskerm . Ons gaan Thuli nog mis glo ek.

Stemdom ·

Been to Zim recently to see what that type of policy do to an economy and the people?

lynette ·

Ek voel so dom . Kan ons bietjie riglyne kry wie dink julle sal in ons belange kan omsien . Ek se niemand sleg nie . Waar begin ek ?

Anna J van Neuwenhuizen (mev) ·

Wil graag stem maar die “Vote now” werk nie. Wat kan ons doen om te stem asb?

Narnia Bohler – Mueller dink ek maar Solidarityd “wys” en se of dit ‘n goeie idee is asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.