Stem só vir behoud van Afrikaans by Maties

US-raadverkiesing-Afrikaanse-Alumni

Foto: Afrikaanse Alumni-vereniging/Facebook.

Die Afrikaanse Alumni-vereniging het verlede week sy steun aan prof. André Coetzee, Heinrich Gonzales en adv. Jan Heunis toegesê vir die huidige raadsverkiesing by die Universiteit Stellenbosch (US). Oud-Maties mag drie nuwe raadslede aanwys.

Volgens die vereniging is die verkiesing oud-Maties se geleentheid om hul stempel ten gunste van Afrikaans en teen oordrewe politieke korrektheid af te druk. “As u soos ons bekommerd is oor wat met Afrikaans op Stellenbosch gebeur, die invloed van Open Stellenbosch op die universiteitsbestuur, die onbegryplike skorsing van twee persgeverfde studente en meer, is dit baie belangrik om die regte kandidate tot die US-raad te verkies,” verduidelik prof. Jacques van der Elst, ʼn woordvoerder van dié vereniging, in ʼn skrywe op die vereniging se Facebook-blad.

Dié drie kandidate word ook deur prof. Hermann Giliomee, nog ʼn lid van die vereniging, in ʼn ope brief gesteun. Giliomee beskou die drie kandidate “as mense wat hulle sal beywer vir sowel akademiese voortreflikheid as ‘n volwaardige en volhoubare plek vir Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch in alle fasette van die universiteitslewe.”

Volgens die Afrikaanse Alumni-vereniging se Facebook-blad, het Coetzee ʼn visie vir ʼn nierassige universiteit waar akademiese meriete die prioriteit is en Afrikaans as gelyke akademiese en bestuurstaal in ʼn meertalige omgewing behou word.

Gonzales het in 2011 sy LLB-graad aan die US voltooi en is tans in diens van die burgerregte-organisasie, AfriForum, se hoofkantoor in Pretoria. “Dit is my visie om ʼn spreekbuis vir Maties-alumni te word ter bevordering van Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit Stellenbosch,” het Gonzales gesê.

Heunis het voorheen in die US-raad gedien en is tans president van die universiteit se konvokasie. Sy visie as kandidaat is om in ooreenstemming met die Grondwet te verseker dat Afrikaans ʼn primêre taal van onderrig by die US bly.

Oudstudente van die US word gevra om te stem deur hier te klik, of die aanwysings te volg op die US se webblad. Die verkiesing sluit om 12:00 op 10 Maart 2016.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jaco ·

Ek sien nie een bruin/kleurlinggesig onder die kandidate nie. Afrikaans word tog nie net deur wit mense gepraat nie.

Michael ·

Hoekom moet ‘n persoon van kleur altyd in wees dit is hoekom hierdie land is waar hy is. Ek sê kies die beste bekwaamde persoon as almal wit is is dit reg as die bekwaamste persone bruin of swart is dan sal ek dit aanvaar.

TTh ·

Dit gaan nie oor kleur nie, dit gaan oor die behoud van Afrikaans en die drie voorgestelde persone sal dit kan behartig – dit hoef nie altyd een of ander stupid kwota van iets nog meer stupid te wees nie

chrisp ·

Jaco .
Aangesien dit jou so baie pla stel voor man dan kyk ons met liefde daarna.
Dalk Jansen?Kom ek se jou wat noem een wat vir Afrikaans veg asb.
Dit is nie te se as jy Afrikaans praat jy die taal graag wil behou as onderig-taal nie .Dink Wim hy praat mos Afrikaans?

anna ·

Daar was dalk nie iemand in die bruin gemeenskap wat daarvoor gestaan het nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.