Stem vir goeie skole, krag, veiligheid – Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa, ook leier van die regerende ANC, gesels met ‘n vrou in Folweni, naby Durban in KwaZulu-Natal, tydens ‘n deur-tot-deurstemwerwingsveldtog. (Photo: Rajesh Jantilal/AFP)

Suid-Afrikaners gaan oor presies ʼn week na die stembus om hul kruisies in die plaaslikeregeringsverkiesing te trek en pres. Cyril Ramaphosa het ʼn beroep op mense gedoen om dit met dieselfde entoesiasme te benader as wat hulle in ʼn nasionale en provinsiale verkiesing sou doen.

Burgers kan vir meer as 94 000 kandidate stem, talle van hulle verbonde aan nuwe politieke partye of onafhanklike kandidate.

Ramaphosa sê die verkiesing gaan oor die sogenaamde “brood-en-botter-sake”.

“Die verkiesing is ʼn geleentheid vir mense om hul stemme te laat hoor oor die belangrikste kwessies wat hul daaglikse lewe raak. Dit is ook ʼn geleentheid om verkose verteenwoordigers aanspreeklik te hou vir die beloftes wat hulle aan gemeenskappe gemaak het,” sê Ramaphosa.

“Die verkiesing is oor die werklike kwessies wat die meeste saak maak vir mense: Toegang tot water en elektrisiteit, hospitale en klinieke wat behoorlik funksioneer, veiligheid en sekuriteit gewaarborg deur ʼn doeltreffende polisiediens, en goed toegeruste staatskole.”

Ramaphosa sê die land het wyksraadslede nodig wat ʼn duidelike plan het om beleggings en sakegeleenthede in hul buurte te bevorder. “Hulle moet verstaan dat munisipale dienste betroubaar en bekostigbaar gelewer moet word om die lewens van inwoners te verbeter en te verseker dat ondernemings kan sake doen en floreer.”

Volgens die president moet raadslede die bemagtiging van jong mense en vroue prioritiseer en selfs munisipale verordeninge en regulasies wysig sodat hulle maklik ondernemings op die been kan bring, toegang tot munisipale tenderprosesse kan kry en opleiding en steun ontvang.

“Sonder aanspreeklikheid van verkose verteenwoordigers en staatsamptenare, of dit nou op nasionale, provinsiale of plaaslike regeringsvlak is, word die vertroue in die regering en die mense maklik geskend en dit is moeilik om dit weer terug te kry,” skryf Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief.

Hy hoop diegene wat vanjaar verkies word, neem die kwessie van “aanspreeklikheid ernstig op”.

“Uiteindelik gaan enige verkiesing oor vertroue.

“Burgers het ʼn verwagting dat die beloftes wat aan hulle gemaak is, nagekom word. Terselfdertyd verwag verkose amptenare dat gemeenskappe saam met hulle sal werk om sake in ʼn spesifieke wyk te pak. Daar is gemeenskaplike verantwoordelikheid omdat raadslede en gemeenskappe ʼn gemeenskaplike doelwit het om almal se lewensgehalte te verbeter.”

Hy het mense ook gevra om saam te werk met wie ook al verkies word – ongeag van die politieke party wat hulle steun. Altesame 27 jaar na die aanvang daarvan, het Suid-Afrika se demokrasie meer volwasse geword. “Ons politiek moet ook. Ons het dalk verskillende politieke lojaliteite, maar ons wil eindelik ʼn Suid-Afrika sien wat beter is vir ons en ons kinders.

“Kom ons stem verantwoordelik. Kom ons stem slim. Kom ons onthou dat dit net diegene is wat die beste belange van Suid-Afrikaanse mense op die hart dra, wat jou stem behoort te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
Juffrou

Ag toggie, word wakker man! Ons het geen van daai waarvoor jy sê ons moet stem. Die arme mense wat jy só mislei met ń pakkie mieliemeel en ń hempie. Vandag oor ń week gaan die bom bars.

Pierre

en natuurlik dink hy die ANC is die verkore party wat aleen mag regeer en aleenlik die land se probleme (wat die ANC veroorsaak) kan uitsorteer, hoe vertrou enige iemand nog die ANC?

Hendrik

Mooi woorde sonder opregte bedoelings, want volgens die anc se s e b belyd bestaan daar nie n verantwoordelike blanke persoon nie.

Blikkies

Wonder of my Munisipaliteit my gaan toelaat om ‘n besigheid te begin en kan deelneem aan Munisipale tenderprosesse? Ek droom seker net, want ek is wit! Gaan nie gebeur nie….

Johann

Hy maak beloftes met belasting geld. Het het hy opgelet die afname in belasting betalers?