Stembokse: Kiesers se stemme nie benadeel

Van die stemmateriaal wat by die huis aangetref is. Foto: Power987 News / Twitter

Van die stemmateriaal wat by die huis aangetref is. Foto: Power987 News / Twitter

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Dinsdag bevestig dat die integriteit van die stemme by die stempunt, waar verkiesingsmateriaal by ʼn beampte se huis gestoor is, nie in gedrang gebring is nie.

“Die stembriewe kom in pakke van 100 en ons het 98, en slegs twee persone het tydens die spesiale stemmery die betrokke stempunt besoek,” het Mashego Sheburi, verkiesingsbeampte in Gauteng, gesê.

Die polisie ondersoek die saak en ʼn aantal verklarings is reeds afgeneem.

“Daar was bewerings dat die partybeampte ʼn lid is van die ANC, maar dit is nog nie bevestig nie,” het Sheburi gesê.

Twee stembokse is by ʼn party-agent se huis opgespoor. Die betrokke personeellede is reeds uit hul pos verwyder. Die voorval het by wyk 77 in Kwatema, Springs, plaasgevind.

Die verkiesingsbeampte en party-agente het Maandagaand, nadat die spesiale stemme afgehandel is, ingestem om van die materiaal elders te stoor. “Dit is slegs ʼn tydelike stempunt, ʼn tent, en dit was dus nie veilig om die materiaal by die stempunt te stoor nie,” het Sheburi verduidelik. “Hulle het ingestem om dit by ʼn huis te stoor. Ons was in daardie stadium nie bewus van die feite nie. Die polisie is ontbied en hulle het twee stembokse opgespoor.”

Sheburi sê die OVK is gereed vir Woensdag se verkiesing in Gauteng. “Ons is gereed om meer as 6 miljoen kiesers by 2 647 stempunte in die provinsie te ontvang,” het hy gesê. -SAPA

Lees ook:
Stemmateriaal by party-agent se huis gekry

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.