Stemboodskap oor Christene by NWU ‘nonsens’

Hoofgebou-potchefstroomkampus1

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus.  (Foto: Maryke Laas/NWU)

Die Noordwes-Universiteit (NWU) was Donderdag weer in die spervuur nadat ʼn stemboodskap wat beweer dat studente nie hul Christenskap op die universiteit se Potchefstroom-kampus mag uitoefen nie, wyd versprei is.

Die universiteit het intussen teruggekap en sê die bewerings is loutere snert.

“Dit is nie net belaglik nie, maar lagwekkend en vreeslik ontstellend,” het die NWU in ʼn kort kennisgewing oor die wydverspreide stemboodskap gesê.

Die stemboodskap is op Donderdag wyd versprei en het talle mense warm onder die kraag gehad.

Die persoon wat in die stemboodskap praat, stel haarself voor as “Mira” wat op die PUK studeer.

“Ons het aan die begin van die week nuus gekry dat koshuise glad nie meer aanbiddingsaande mag hou nie en vanoggend [vermoedelik Donderdag] gehoor dat studente glad nie meer in hul koshuiskamers, in privaatheid, mag bid nie.”

Sy beweer verder dat ʼn huiskomiteelid (HK) van ʼn ongenoemde koshuis onlangs geskors is nadat dié opgestaan het teen die nuwe reëls.

Die spreker doen dan ʼn beroep op lede van die publiek om vir die koshuise en sy studente te bid.

“Dit is net ons Christene wat nie mag bid nie, enige ander geloof mag bid. Dit is hoogs onregverdig,” voeg sy by.

Volgens die NWU is boodskappe soos hierdie daarop gemik om “disharmonie en polarisasie” onder die NWU-gemeenskap te kweek “en moet veroordeel en streng gestraf word wanneer die oortreders gevind word”.

Die universiteit voer aan die skending van mense se grondwetlike regte word geensins by die NWU toegelaat nie.

“Ons doen afstand van die inhoud van die stemboodskap en doen ʼn beroep op ons belangegroepe om die soort optrede te ignoreer.”

Dit is die tweede keer dié week wat die NWU vure moes doodslaan en die gemoedere van die publiek moes kalmeer.

ʼn Herrie het vroeër ontstaan nadat daar glo die aand voor die eerstejaars se verwelkomingsgeleentheid die afgelope Saterdag vir dorpskoshuise gesê is dat hulle nie divers genoeg is om die geleentheid in die amfiteater op die kampus by te woon nie. Daar is glo ook deur ʼn SR-lid gesê dat dit “te wit gaan lyk” wanneer hulle gevra gaan word om op te staan.

Hoewel ʼn SR-lid, wat skynbaar niks met die voorval te doen het nie en net vir die koshuise opgestaan het, vandeesweek geskors is, voer die NWU steeds aan dat die koshuise weens ʼn gebrek aan spasie in die amfiteater uitgesluit is en dat die rassebewerings ongegrond is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Heinrich ·

Waar ‘n rokie trek…Die probleem is dat dit nie moeilik is om te glo nie.

Blits ·

Eks so bly om die artikel te lees. Want vir my was die stemboodskap moeilik om te glo

Erik ·

Natuurlik is dit nie waar nie. Kan nie glo mense val vir sulke snert nie. Geen Universiteit kan teen die grondwet optree nie.

Nettie ·

LOL Eric.
Dink jy dis grondwetlik om te sê mense mag nie Afrikaans praat nie?
Dink jy dis grondwetlik om eksperimentele mediese prosedures as vereiste vir toelating tot hul gronde te stel?
Dink jy dis grondwetlik om te sê slegs X % van ‘n koshuis of kursus mag wit wees?

Tog het al bogenoemde 3 by verskillende universiteite die afgelope 2+ jaar plaasgevind.

Kwikkie12 ·

Die Asbury christelike universiteit in die VSA het Woensdag 8 Feb ‘n “chapel service” gehad en die diens gaan aan tot vandag toe dit het ook wyd versprei na ander universiteite oor Amerika! Suid-Afrika het dit ook dringend nodig.

skurweberg ·

Die gebeure die afgelope tyd by die NWU die afgelope tyd is maar net deel van die totale aanslag teen die Christendom. Al is hierdie insident ontken. Ons weet en sien wat die invloed van sugesties op die psige van mense het. Nie net in SA nie, maar wêreldwyd.

Marius ·

Wat het geword van kinders wat net universiteit toe gaan om n kwalifikasie in die lewe te kry?
Deesdae is daar meer politiek as leerwerk op die kampusse , en ek weet presies waar dit vandaan kom……

Grassie ·

Ek sal nie verbaas wees as hierdie storie waar is nie. Die aanslag teen die Christelike geloof is besig om wêreldwyd ernstig toe te neem. Ou Niek is besig om sy soldate orals in te wurm en onheil te skep. Hy sal mos nou nie ‘n universiteit vol jong mense uitlos nie.

Elma ·

Ja né. Volgens NWU is al hierdie skokkende dinge wat openbaar gemaak word blykbaar “loutere snert”. Die goed wat uit NWU woordvoerders se monde kom is die enigste loutere snert wat ek kan identifiseer!

Elma ·

Studente leer die konsep van “disharmonie en polarisering” regstreeks by NWU.

Ferryman ·

Van die kommentators hier raak onnodig opgewonde. Die Grondwet waarborg Vryheid van Geloof en geen persoon kan verbied word om in privaat of saam met medegelowiges saam te kom nie. Vryheid van Geloof beteken ook dat jy nie sonder jou eie wil in ander geloofs gerbuike ingesleep kan word nie. Julle kan maar kalmeer. Daai studente kan nog in hulle privaatheid of in groepies bid solank dit nie inbreek maak op ander se regte nie.
Al wat by NWU verander is dat die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk gaan afskei van die Universiteit omdat die Universiteit wat aan die Staat behoort nie een kerk bokant ‘n ander kan bevoordeel nie.

Nettie ·

Die grondwet het ook my veiligheid van eksperimentele mediese prosedures gewaarborg. – Dit het “spectacular” gefaal.

Die grondwet het ook gewaarborg daar sal nooit weer volgens ras gediskrimineer word nie….

Die grondwet het ook gewaarborg dat enige persoon sy taal vrylik mag praat….

Dis reeds daardie “solank dit nie inbreuk maak op ander se regte nie”. Sodra ander mense en gelowe beweer Christene maak inbreuk, vlieg Christene se regte by die venster uit….

Herman L ·

Wat gaan die NWU doen om die oorsprong van die stemboodskap op te spoor? En wat gaan hulle doen aan die skuldige? Die feit dat hulle dit as loutere snert bestempel laat nie die boodskap verdwyn nie.

Cherokee ·

Hermanus, jy laat dit klink asof jy seker is van hul onskuld.

BARNEY ·

Ek is jammer maar ek is geneig om die universtiteit se reaksie te bevraagteken, daar broei iets en dit Sal een of ander tyd uitkom. Ons moet as Christene begin wakker word en besef dat die dag gaan kom wat ons soos in talle ander Afrika lande dalk vervolg gaan word vir ons geloof.
E stel voor dat ons bid vir die PUK en al die ander universtiteite, en vir die algehele vryheid van ons geloof in Jesus Christus.

Nie Verbaas ·

Volgens die NWU is boodskappe soos hierdie daarop gemik om “disharmonie en polarisasie” onder die NWU-gemeenskap te kweek “en moet veroordeel en streng gestraf word wanneer die oortreders gevind word”. NWU presies wat julle doen en waar daar n rokie trek is daar n vuurtjie.

Anel ·

Kyk, en kan glo dat die eerste jaars uit gesluit was, maar daar kon mos ‘n plan gemaak word. As daar te min plek was, deel die klomp in groepe! Wat was so moeilik?

Nettie ·

Ek sukkel om te verstaan hoe ouers in die amfiteater toegelaat was, maar eerstejaar studente nie?

As plek ‘n probleem was….

Republikein in die Wes Kaap ·

Jy en ek kan kan raai hoe het dit by die hek gelyk. En die kos was seker smaaklik.

skurweberg ·

Genadiglik weet ons dat die verlede, hede,en die toekoms steeds volgens “PLAN” verloop

Papsak ·

Sit God terug inalles en hulle sal sien hoe floreer alles in hierdie land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.