Stemboodskap oor noedels is onsin

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Markus Winkler/Unsplash)

Die omstrede stemboodskap wat die afgelope paar dae die rondte doen dat ʼn swanger vrou dood is nadat sy glo noedels geëet het, is nonsens. Só sê die speurder wat betrokke is by die ondersoek na die dood van drie kinders wat wél dood is nadat hulle gekookte noedels geëet het.

Die boodskap is wyd op Whatsapp rondgestuur nadat die kinders, onder wie ʼn vier maande oue baba, in die Oos-Kaap dood is, en beweer het dat ʼn swanger vrou in ʼn hospitaal se ongevalle-afdeling opgeneem en later dieselfde dag dood is. Die onbekende sender van die boodskap gaan voort om te sê dat die vrou glo voor haar dood kitsnoedels geëet het, ʼn maagpyn ontwikkel en bloed begin opgooi het.

Die boodskap noem nie waar die beweerde voorval plaasgevind het en in watter hospitaal die vrou opgeneem is nie.

Die naam van die noedels wat die kinders geëet het, is nie bekend nie en dit is ook nog nie vasgestel dat die noedels wel die kinders se dood veroorsaak het nie. Dit het sosialemediagebruikers egter nie gekeer om selfs foto’s van bekende handelsmerke te deel en te beweer dat dié handelsmerk die oorsaak van die kinders se dood is nie.

Phindile Zweni, private ondersoeker wat saam met die polisie die kinders se dood ondersoek, sê nou hy kon daarin slaag om die oorsprong van die stemboodskap op te spoor en dat dit van alle waarheid ontbloot is.

Dit lyk boonop of die boodskap uit Gauteng afkomstig is, terwyl Zweni verlede week reeds aan Maroela Media bevestig het dat die soort noedels wat die kinders geëet het ʼn plaaslike handelsmerk is, wat nie wyd bekend of versprei is nie.

“Daar is ook geen gevalle soos dié wat in die stemboodskap genoem word in enige hospitale aangemeld nie.”

Volgens Zweni het hy reeds ʼn aantal oproepe ontvang van mense wat beweer dat hulle óf hul kinders siek of byna dood is nadat hulle ʼn sekere handelsmerk se noedels geëet het. Zweni kon dié mense egter nie weer na afloop van die oproep opspoor nie.

“Dit is uiters gevaarlik vir mense om allerlei bewerings rond te gooi en maatskappye se name deur die modder te sleep. Mense moet besef dat hul bewerings ernstige gevolge kan inhou.”

Moenie dat fopnuus jou vang nie

Die privaatspeurder Mike Bolhuis het aan Maroela Media gesê dat fopnuus ʼn wêreldwye probleem is. Hy meen egter dat daar ʼn aantal stappe is wat mense kan doen om nuus soos dié vinnig in die kiem te smoor.

“Indien jy enige boodskap of brokkie inligting deur sosiale media ontvang moet jy eerstens jou gesonde verstand gebruik en die bron daarvan identifiseer,” sê hy.

“Doen ʼn behoorlike ondersoek en verifieer eers van waar dit aanvanklik afkomstig is. Mense stuur dikwels allerhande stories aan wat veral sappig is en mense nuuskierig maak. Dit is juis bedoel om jou te skok en aan te spoor om dit verder aan te stuur.”

Volgens Bolhuis versprei disinformasie juis so vinnig omdat dit soetsappig is en mense dink dat hulle een of ander misterie onthul het.

“Dit is egter uiters belangrik om eers twee keer te dink voordat enige nuusbrokkie aangestuur word.

“Enigiets wat hoorsê is of vermoedelik gebeur het, is dikwels bloot fopnuus,” sê hy.

Bolhuis sê mense moet versigtig wees wat hulle sê en aanstuur, want dit kan soms katastrofiese gevolge vir die sender en hul geliefdes inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johanna ·

Ek wens iemand wil regtig die oorsprong van daardie whatsApp message opspoor en daardie mens tot verantwoording roep. Al hierdie hoax boodskappe word uitgestuur deur SIEK mense.

TASHA ·

Het presies dieselfde vir my dogter gese toe sy di stemboodskap vir my speel en haar ook die lefiete voorgelees oor vals nuus,

Jackie ·

Ek is veral skeppies oor fb, whatsapp en sms’e wat begin met: ‘Boodskap van polisie’ of ‘Bekende wetenskaplike beweer’ ens

Kiewiet ·

As n mens mooi na daardie boodskap luister kan mens die valsheid daarvan hoor…ek kan net nie verstaan dat mense in DIE onseker tye genot daaruit put om met sulke nonsens uit te kom nie…dis so onmenslik..ek hoop hierdie vrou word opgespoor en gestraf!!

Martie Smartie ·

En almal aanvaar die twee privaat speurders se menings? Ek glo netso min die twee se menings as die storie self.

Danie ·

Dit is lankal tyd dat hierdie verspreiders van vals nuus krimineel vervolg word.
En sommer finasieel uitgetrek word vir die volgende 20 jaar van hul lewe weens laster.
Dis nie moeilik nie maar te veel moeite.

Alma ·

Dit maak my bitterlik kwaad as ek so ‘n whatsapp ontvang. Wat dink die persoon? Wat wil sy nou eintlik bereik??? Wat dink hulle in daardie oomblik wat hulle die liegstorie opmaak… hoeveel mense gaan nou my boodskap kry en rondstuur? En dan klink dit gewoonlik na welopgevoede mense… ag nee wat, dis tyd dat daar ‘n voorbeeld van hierdie mense gemaak word.

Helizna ·

Alle stemboodskappe moet die afsender se naam, dag en datum asook plek byhê. Anders beskou ons dit gewoonlik as fopnuus op ons groepe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.