Stemdag: Dít is wat jy moet weet

verkiesing-2019-da-good-plakkate

Argieffoto: Discott/Commons.wikimedia.org

Daar is minder as 48 uur oor voordat stemlokale Woensdagoggend landswyd sal open vir die sesde nasionale demokratiese verkiesing.

Kiesers sal by altesaam 22 924 stemstasies landswyd hul stem kan uitbring. Daar sal nege uitslae-sentrums in die onderskeie provinsies beskikbaar wees, asook die nasionale verkiesingsentrum in Pretoria vir die nasionale verkiesingsuitslae.

Altesaam 26 736 805 kiesers is geregistreer om in vanjaar se nasionale verkiesing te stem. Van hierdie kiesers het 774 094 toestemming gekry om vandag en môre ʼn spesiale stem uit te bring. Van vanoggend het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) begin om alle verkiesingsmateriaal van plaaslike pakhuise na die stemstasies te vervoer ter voorbereiding van die spesiale stemme.

Dit sluit in meer as 60 miljoen stembriewe vir die nasionale en nege provinsiale verkiesings, byna 300 000 stembokse, byna 45 000 stemhokkies, ongeveer 25 000 aanwysings na stemlokale en 56 255 skryfbehoeftepakkies. Die vervoer van dié materiaal word deur veiligheidsbeamptes van onder meer die polisie vergesel om te verseker dat dit stemlokale veilig bereik.

Hiér is inligting wat jy moet weet voordat jy Woensdag jou kruisie gaan trek.

  1. Wanneer kan ek gaan stem?

Kiesstasies sal Woensdag om 07:00 open en om 21:00 sluit. Jy kan enige tyd deur die loop van die dag by jou betrokke stemlokaal aanmeld om te stem. Persone wat Woensdag teen 21:00 nog in die ry is, sal toegelaat word om te stem.

Spesiale stemme sal reeds vandag en môre uitgebring word. Dit is vir kiesers wat vooraf aansoek gedoen het om ʼn spesiale stem uit te bring, insluitend mense wat op stemdag moet werk en daarom nie kan gaan stem nie, bejaardes en gestremdes wat weens fisieke uitdagings nie op stemdag na ʼn stemlokaal kan reis nie en kiesers wat op stemdag nie naby die stemlokaal waar hulle geregistreer is gaan wees nie.

  1. Wat presies gebeur by die stemlokaal?

Jy kan enige tyd gedurende die verkiesingsure by jou betrokke stemlokaal aanmeld om te stem. Afhangend van hoe besig dit op daardie spesifieke stadium by die stemlokaal is, sal jy moontlik in ʼn ry moet wag vir jou beurt om te stem.

Jy sal jou identiteitsdokument aan die verkiesingsbeampte aan diens toon wat sal nagaan of jou naam op die kiesersrol verskyn. Indien die beampte tevrede is dat jy die korrekte ID getoon het, dat jy ʼn geregistreerde kieser is en dat jy nog nie gestem het nie, sal jou naam op die rol afgemerk word, jou ID sal gestempel word indien jy nog ʼn groen ID-boekie gebruik en jou duimnael sal met ink gemerk word.

Die verkiesingsbeampte sal vir jou die korrekte aantal amptelike stembriewe gee en eers ʼn stempel agterop elk van hierdie stembriewe aanbring. Jy kan dan hierdie stembriewe na ʼn leë stemhokkie neem, jou stem op die stembriewe met pen aanbring (penne sal verskaf word), die stembrief vou sodat jou keuse nie sigbaar is nie en self jou stembrief in die stemboks gooi.

Indien jy fisiek gestremd is of blind is, kan jy iemand wat ouer as 18 jaar oud is saamneem om jou by die stemlokaal te help.

  1. Wie kan almal in die verkiesing stem?

Alle Suid-Afrikaners wat 18 jaar of ouer is, in besit is van ʼn geldige identiteitsdokument of tydelike identiteitsdokument en geregistreer is om te stem, kan in die komende verkiesing stem. Permanente inwoners wat nié Suid-Afrikaners is nie, sal nie toegelaat word om te stem nie. Suid-Afrikaners wat nie vooraf geregistreer het om te stem nie, en wie se naam dus nie op die kiesersrol verskyn nie, sal nie toegelaat word om te stem nie.

  1. Kan ek nog registreer om te gaan stem?

Registrasies om Woensdag in die nasionale en provinsiale verkiesings te stem het reeds gesluit. Dit is dus nie moontlik om nou nog vir hierdie verkiesing te registreer nie; kiesers sal ook nie toegelaat word om op stemdag by die stemlokale te registreer nie.

Kiesers kan egter ter enige tyd registreer om op die kiesersrol gevoeg te word om in toekomstige tussenverkiesings en nasionale verkiesings te stem. Kliek hier vir meer inligting oor hoe om te registreer.

  1. Pres. Cyril Ramaphosa word onder luide toejuiging verwelkom by die ANC se provinsiale verkiesingsmanifesbekendstelling in Rustenburg Noordwes. Foto: ANA

    Hoe weet ek waar ek geregistreer is om te stem?

Jy kan seker maak van jou geregistreerde stemlokaal deur jou ID nommer na 32810 te SMS (SMS’e kos R1) of deur die OVK se kontaksentrum by 0800 11 8000 te skakel.

  1. Ek het klaar geregistreer om te stem, maar ek wil my kiesstasie verander. Kan ek dit nog doen?

Nee. Geen veranderinge kan aan die kiesersrol aangebring word nadat kieserregistrasie gesluit het nie. Jy kan wel jou besonderhede opdateer vir die volgende verkiesing.

  1. Ek kon voorheen nie registreer om te stem nie omdat ek 17 jaar oud was, maar ek het intussen 18 geword. Is daar ʼn manier waarop ek kan stem?

Nee. Jy kan slegs stem as jy reeds 18 jaar oud was op die dag wat die verkiesingsdatum amptelik in die Staatskoerant geproklameer is.

  1. Kan iemand namens my gaan stem?

Nee. Jy moet in persoon by die verkiesingslokaal aanmeld om te stem.

  1. Wat moet ek saamneem om te gaan stem?

Om te stem moet jy ʼn geldige identiteitsdokument of tydelike identiteitsdokument saamneem – die groen ID-boekies én die nuwe ID-slimkaarte word aanvaar. Kiesers kan nié met ʼn bestuurslisensie of paspoort stem nie – slegs ID’s word by stemlokale aanvaar.

  1. Ek het my ID verloor. Wat nou?

Jy kan slegs met ʼn geldige identiteitsdokument stem – geen ander vorm van identifikasie sal aanvaar word nie. Indien jy dus jou ID-dokument verloor het of dit gesteel is, kan jy jou naaste kantoor van binnelandse sake besoek om ʼn tydelike identiteitsdokument te bekom wat jy kan gebruik om mee te stem.

  1. My nooiensvan verskyn op my ID, maar my getroude van is op die kiesersrol. Wat nou?

Dit is nie ʼn probleem nie. Jou identiteitsnommer word gebruik en vergelyk met die nasionale bevolkingsregister. Jou naam soos dit op dié register verskyn word op die kiesersrol aangebring. Jy sal steeds kan stem al verskyn jou nooiensvan op jou ID.

  1. ‘n Advertensiebord wat deur die DA opgerig is as deel van dié party se verkiesingsveldtog. (Foto: Verskaf/DA)

    Kan ek by enige stemlokaal stem of slegs die lokaal waar ek geregistreer is?

Jy moet stem by die stemlokaal waar jy geregistreer is om te stem. As jy egter op verkiesingsdag buite jou stemdistrik is, kan jy wel by ʼn ander stemlokaal gaan stem. As jy buite die provinsie is waar jy geregistreer is om te stem, sal jy slegs in die nasionale verkiesing kan stem en nie in die provinsiale verkiesing nie, en jy sal gevra word om ʼn VEC 4-vorm by die stemlokaal te voltooi.

  1. Ek is ver swanger en/of fisiek gestremd en kan nie lank in ʼn ry staan nie – kan ek voorkeur by ʼn stemlokaal kry?

Werknemers van die OVK wat op stemdag by die stemlokale aan diens gaan wees, is opgelei om vroue wat ver swanger is, bejaardes en mense wat fisiek gestrem is voor in die ry te laat staan om te voorkom dat hulle lank op hul voete moet wees. Praat gerus met ʼn verkiesingsbeampte by jou betrokke stemlokaal indien jy nie in staat is om lank in die ry te wag nie.

  1. Kan ek stem as ek in die hospitaal is op verkiesingsdag?

Indien jy in die hospitaal is op verkiesingsdag, sal jy slegs kan stem indien jy vooraf aansoek gedoen het om ʼn spesiale stem uit te bring. Aansoeke vir spesiale stemme het egter reeds gesluit.

  1. Word gevangenes toegelaat om te stem?

Ja. Alle gevangenes wat Suid-Afrikaners is, in ʼn besit van ʼn geldige identiteitsdokument is en geregistreer is om te stem, sal toegelaat word om in die verkiesing te stem.

  1. Ek het geregistreer om te stem, maar wil nou nie meer stem nie. Is dit ʼn probleem?

Nee. Om te stem is nie verpligtend nie en dit is elke kieser se reg om te besluit of hy/sy wil gaan stem. Die OVK moedig egter alle stemgeregtigde Suid-Afrikaners aan om wel hierdie burgerlike plig na te kom.

  1. Mag mense politieke partye se klere in die stemlokaal dra?

Partyagente en kandidate mag volgens die Verkiesingswet geen klere van politieke partye of regalia in die stemstasies dra op verkiesingsdag nie. Gewone kiesers en lede van die publiek, mag egter dra wat hulle wil wanneer hulle kom stem.

  1. Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, en Peter Marais, die party se topkandidaat in die Wes-Kaap vir die eersdaagse verkiesing. Foto: Verskaf

    Wat kan ek doen om te voorkom dat ek my stembrief bederf?

Maak jou kruisie duidelik langs die party of kandidaatnaam waarvoor jy graag wil stem. Maak seker dat jou kruisie nie oor die lyne gaan en sodoende in meer as een blokkie verskyn nie. Maak slegs ʼn kruisie in die betrokke blokkie – moet nie “ja” of “nee” skryf nie. Moet nie meer as een blokkie op ʼn stembrief merk nie – jy mag slegs vir een party of kandidaat stem. Moet geensins enige plek op jou stembrief skryf nie.

  1. Mag ek ʼn selfie in die stemlokaal neem?

Nee. Volgens wet mag kiesers nie foto’s in die stemlokaal neem of sulke foto’s op sosiale media publiseer nie. Die hoofrede hiervoor is om die geheimhouding van jou stem en die privaatheid van ander kiesers te beskerm. Jy mag wel selfies buite die stemlokaal neem wanneer jy klaar gestem het.

  1. Wanneer sal die verkiesingsuitslae bekendgemaak word?

Die aankondiging van die nasionale en provinsiale verkiesingsuitslae sal na verwagting op Saterdag 11 Mei 2019 by die nasionale verkiesingsentrum gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

willem Bothal ·

Goed so,dan kan ek my VF+ hemp dra,my DA hemp reeds saam met my multichoice dekodeerder verbrand.

Bollie ·

Ag nee regtig julle, ek persoonlik ondersteun vir n minderheidsparty, maar om vir hulle te stem is pateties, hul kry nie seutels nie en verteenwoordig jou nie. Stem liewer vir n alternatiewe groter party as die een aan bewind en maak n verskil.. as hulle nie n verskil maak in 4 jaar na bewind nie stem dan maar vir jou kleiner partyjie

Schalla ·

Jammer Bollie, daai fout het ek reeds vantevore gemaak so ek sal nou maar jou raad volg en vir die kleiner partytjie stem.

Penellope Jones ·

Ek sou graag 7-uur daar wou wees, maar ek dink heelwat mense gaan ook so redeneer. . . . . .

kolla ·

Om 2% te kry sal die VF+ met meer as 100% moet groei. Dit beteken omtrent 350000 stemme. Onwaarskynlik.

Judge Dredd ·

Hoeveel het die DP nou weer in 1994 gekry?
O, nou onthou ek – 1.73%.

Theoman ·

Ja Klein Jan, sien ons is nou klein maar ons VF PLUSERS gaan groot word en jy gaan kleinjan bly

hercu ·

moenie lui wees nie, gaan & trek jou kruisie, en moet tog nie jou cv vergeet nie, gooi dit sommer in, almal belowe “werk”

Dries du Toit ·

Klein Jan as jy die politiek gevolg het deur die jaar sou jy agter gekom het daai 2% maak reeds n verskil. Ons saak en ongeregtighede word deur die VF+, Afriforum en Solidariteit wereldwyd versprei suksesvol ou maat. Wees dankbaar dat jy gedra word. Die DA doen niks van daardie aard nie

KrokodilBotha ·

Kyk die youtube video wat die DA probeer verban. Indien daar nog skaapies is wat vir hulle wil stem

AJ. ·

Ek verstaan dalk iets nie lekker nie. Daar is 26736805 geregistreerde kisers in die land ,maar daar is 60 miljoen stem briewe gedruk.
Miskien kan ek nie tel nie.

Eben P ·

Jy is eeg AJ maar dis waar die korrupte anc inkom met hul deel om aan bewind te by.

kolla ·

VF+ gaan ‘n plafon bereik met hierdie verkiesing. Die konserwatiewe rassiste wat vir die DA gestem behoort hierdie verkiesing (hopelik) terug te gaan waar hul hoort. Soek nie hierdie apartheidsimpatiseerders in die DA nie.

kolla ·

Daar’s twee stelle stembriewe, een vir nasionaal en een vir provinsiaal.

jaco ·

die konserwatiewe party is juis in 1982 gestig uit protes, omdat die Nasionale Party ‘n hand van vriendskap na die kleurlinge uitgereik het. En nou reik die VF-Plus, wat maar grootliks uit die Konserwatiewe Party ontstaan het, n hand van vriendskap na die kleurlinge uit. uiters vreemd. waarom is dit dan nou ok en waarom was dit in 1982 nie ok nie???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.