Stemme van kinders gehoor in skolegodsdienssaak

paul-colditz-fedsas

Paul Colditz van Fedsas. Foto: Argief.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sal vandeesmaand ’n uitgebreide verslag oor kinders se menings rakende godsdiens in skole beskikbaar stel. Vir dié rede sal die hofstukke van die ses skole wat betrokke is by ’n toetssaak oor skole se godsdiensbeleid en -beoefening moontlik eersvolgende maand by die hof ingedien word. Daar is verlede Dinsdag (24 Maart) by die Gauteng-hooggeregshof aansoek om uitstel ingedien.

Die toetssaak in aanspraak verwys na die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie wat verlede jaar gevra het dat die grondwethof dit ongrondwetlik verklaar dat sekere godsdienspraktyke voorkeur geniet bó ander. Ses skole word in die aansoek genoem.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, sê dat tyd nie die bepalende faktor in die saak moet wees nie omdat die omvang en impak daarvan te groot is.

“Die stem van die kinders is deurslaggewend. Nie alleen is hierdie bepaling al herhaaldelik deur die grondwethof bevestig nie, maar die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie se eie grondwet stel dat kinders die reg het om te sê wat hulle dink moet gebeur en dat hulle opinies in ag geneem moet word wanneer volwassenes besluite maak wat kinders affekteer. Die organisasie het egter tot dusver nie aangedui dat die stem van die kind werklik in ag geneem word nie,” het Colditz gesê.

Om te verseker dat daar gehoor gegee word aan die stem van kinders het die betrokke skole ʼn psigiatriese forensiese maatskaplike werker, dr. Tanya Robinson, betrek om te verseker dat die stem van die kind in die aansoek na vore gebring word.

“Dr. Robinson se ondersoek verg intensiewe navorsing. Dit sluit onder meer in besoeke aan elk van die ses respondentskole gedurende die eerste kwartaal van vanjaar, ’n peiling om leerlinge se siening rondom godsdienstige praktyke vas te stel, die verwerking van data en die opstel van ’n omvattende verslag. Dit is ’n tydrowende taak en die verslag sal dus nie voor die middel van April beskikbaar wees nie,” het Colditz gesê.

Colditz beklemtoon dat sake soos dié op diepgaande en deeglike navorsing berus.

“Die neem van ingeligte besluite is immers ’n kernaspek van ’n demokrasie. Ingeligte besluite berus op deeglike inligting en Fedsas sal as deel van die skole se regspan voortgaan om seker te maak alle moontlike feite rakende die aangeleentheid word ingesamel en ondersoek,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SNEL ·

Niemand se mening moet gevra word nie….God sê in sy Woord ons moet ons kinders van Hom leer en ook as iemand n kind tot val bring sal dit beter wees as hy n meulsteen om sy nek vasmaak en in die diepste see spring. Nou ja, voor wie buig julle dat julle nou wil hoor wat kinders sê. Doen wat God sê en basta met die res. Haal God uit die skole uit en moet dan nie huil as dinge afdraend loop nie, want julle wou Hom mos nie daar hê nie.

anne ·

Ek stem 100% saam, ons het ‘n verantwoordelikheid om ons kinders van Hom te leer by die skool en by die huis punt.

Eliza-beth ·

Kinders gaan meestal sê wat hul ouers hul voorsê so die ware mening sgaan nie gelug word nie. Dis vir my interessant dat, toe ek verlede jaar by ‘n swart skool in die platteland was vir hul einde van die jaar storie het hulle geopen met gebed. Nie net deur die hoof maar ook deur ‘n ander onderwyser. Die “funksie” was buite gehou omdat hulle nie oor ‘n skoolsaal beskik nie. Van die kinders het naderhand “stout” begin raak – dit was warm en ek dink sommige het verveeld geraak ook. Een onderwyser het met sy lyfband swaaiend rondgestap en net die sien van dit het hulle gou laat stilsit. Ek was verbaas oor die disipline oor die algemeen by die klein skooltjie. Kinders was ook oor die algemeen beleefd!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.