Stemmery oorsee: Departement ontken kommunikasieblaps

Argieffoto

Argieffoto

Die departement van internasionale betrekking het Dinsdag gerugte verwerp dat honderde Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, weens ʼn kommunikasiefout deur die regering nie aan vanjaar se verkiesing sal kan deelneem nie.

“Suid-Afrikaners in die buiteland sal môre [Woensdag] kan stem vir vanjaar se algemene verkiesing,” het Clayson Monyela, die woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, gesê.

The Times het Dinsdag berig dié departement en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het nie aan Suid-Afrikaners in die buiteland gekommunikeer dat hulle ʼn spesiale vorm moet voltooi as hulle aan vanjaar se verkiesing wou deelneem nie.

Jeanette Ndhlovu, Suid-Afrika se hoë kommissaris in Ghana, het aan die koerant gesê dié fout het probleme regoor die wêreld veroorsaak. “Ek was in kontak met my kollegas by ander ambassades. Talle uitgewekenes het versuim om betyds die VEC10-vorms in te dien, en hulle sal gevolglik nie in staat wees om môre te kan stem nie,” het sy gesê. Die sperdatum vir die voltooiing van die VEC10-vorm was 12 Maart. Lees meer hier.

Monyela het egter gesê dit is nie waar nie. “Die verkiesing word deur ʼn onafhanklike liggaam beheer, nie deur die regering nie. Alle inligting oor die verkiesing, hetsy hier of in die buiteland, word deur die OVK hanteer,” het hy gesê.

Kate Bapela, die woordvoerder van die OVK, het gesê sy sal die saak ondersoek en binnekort ʼn verklaring uitreik.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dié inligting was baie duidelik gekommunikeer. “Talle Facebook-bladsye, webwerwe en nuusbriewe (ook AfriForum se nuusbrief), het inligting bevat oor die stemmery en die VEC10-vorm genoem,” het Baily gesê. “Die vereistes is baie duidelik uitgespel. Die Demokratiese Alliansie het ook baie moeite gedoen om kiesers op te lei oor registrasie buite Suid-Afrika. Indien iemand nie kan stem nie, is dit omdat hy/sy nie hul plig gedoen het om die OVK se blad te besoek en die inligting te kry nie.”

Volgens Bailey kon persone die vorms van die OVK se webwerf aflaai en ʼn kieser kon sy status daar gaan kontroleer indien hulle dit nie ontvang het nie, om dit reg te stel.

“Die reg om te stem is nie net ʼn reg nie, maar ook ʼn plig,” het sy bygevoeg. “Net so met mense in die land: dit is nie die plig van die departement van binnelandse sake of jou munisipaliteit om stemprosedures en registrasie aan jou te verduidelik nie, maar die OVK s’n.”

Sy sê hulle word ook oorstroom met klagtes oor “die ANC wat ons stemreg wegneem” van mense wat nou skielik spesiale stemme wil uitbring, terwyl die registrasie hiervoor al op 17 April gesluit het.  “Verkiesings gaan onhoudbaar duur raak as daar aan almal se vereistes voldoen moet word.  Mense moet betyds beplan en navraag doen,” het sy bygevoeg.

Bailey het egter gesê sy is besorg oor die gebrek aan stempunte in groot lande soos die VSA en Australië. “Kiesers kan eenvoudig nie twee dae afneem (een vir registrasie en een om te stem) om telkens 1 000km of meer heen en weer te reis nie.  In aanloop tot die volgende verkiesing gaan AfriForum aanhou om gesprekke met die OVK te voer oor die moontlikheid van elektroniese stemme, wat dié probleem en ook die krisis oor spesiale stemme kan uitskakel.”

Bailey maan Suid-Afrikaners in die buiteland ook om te onthou om beide hul identiteitsdokumente en Suid-Afrikaanse paspoorte saam te neem indien hulle gaan stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elsa ·

Dit is ook onregverdig om te verwag mense moet duisende km ver ry om te stem. Waarom kon dit nie in Al die groot stede gedoen word nie. In New Zealand is die kommisaris in Wellington Daar is maar net so om en by 20 ,000 Suid Afrikaners in die ommidellike omgewing. Waar daar in Auckland 85,000 Suid Afrikaners woon. Ons moes ook net tussen 9 en 11 stem. Dit is lag wekkend. Reel asb volgende keer beter. Maar nou moet mens 5 jaar wag voor ons ons stemme kan uitbring deur onbevoegde beplanning.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.