Ster-Kinekor in sakeredding geplaas

‘n Fliekteater (Foto: Pixabay)

Die raad van Ster Kinekor Theatres (Pty) Ltd het Vrydag aangekondig dat die maatskappy vrywillig met sakereddingsprosedures begin het, in ʼn poging om die onderneming te rehabiliteer. Dié besluit het Donderdag reeds in werking getree.

In ʼn verklaring verduidelik die raad dat die Covid-19-pandemie en gepaardgaande afsonderingstydperk veroorsaak het dat dié onderneming tans teen ʼn verlies bedryf word. Die raad het egter benadruk dat fliekteaters vir die duur van die sakereddingsproses oop sal bly.

“Tot Februarie verlede jaar het Ster Kinekor jaarliks miljoene fliekgangers in hul teaters ontvang. Die onderneming was winsgewend en het goeie vooruitsigte vir die toekoms gebied,” lui die raad se verklaring. “Weens die Covid-19-pandemie en die gevolglike ekonomiese afsondering wat aan die einde van Maart deur die Suid-Afrikaanse regering ingestel is, was alle teaters genoop om te sluit. Ons is eers in Augustus toegelaat om te heropen en slegs onder baie streng maatreëls, soos ʼn aandklokreël en beperking op hoeveel mense op een slag in die teater toegelaat word. Die datums vir die vrystelling van lokprente is boonop uitgestel. Toe die tweede golf van Covid-19 Suid-Afrika en ander lande in Desember tref, is verdere afsonderingsmaatreëls en inperkings heringestel.”

Die raad voorsien boonop dat verdere verliese weens ʼn tekort aan filminhoud in die volgende paar maande gely sal word, en dat kontantvloei nog verder benadeel kan word.

“Die raad meen dat sakeredding ʼn oplossing vir dié uitdagings bied en die onderneming só weer winsgewend kan word.”

Motheo Matsau, waarnemende uitvoerende hoof van Ster Kinekor, sê fliekgangers kan steeds hul kaartjies aanlyn of by die teater koop. Streng Covid-19-maatreëls word toegepas en fliekgangers se temperatuur sal geneem en hande ontsmet word.

Stefan Smyth is as sakereddingspraktisyn aangestel. “Ek en my span sal onmiddellik aan die werk spring en met rolspelers vergader wat deur die besluit geraak word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Willem ·

En so gaan nog werksgeleenthede daarmee heen. Geen besigheid kan 310dae gaan sonder besigheid. Belaglik

Sarel ·

So gaan die Ekonomie al hoe verder agter uit.
Covid 19 die regulasies vernietig meer mense en gesinne as die virus self.
Werkloosheid….armoede….huismoles( sonder alkohol) ens ens. Daarvan hoor ons nooit.

Johann ·

Ja wel soos drank in plaas van kos in n restaurant die bestaan van n besigheid bepaal…neem ek aan die popcorn en coke pryse het die fliek sukses bepaal? Hoop die sakeredders begin daar….

Baardman ·

So sal die regering al die besighede in die grond in regeer, soos Mosambiek, Zim, ens, ens. Uiteindelik hulle eie ook.

Jacoline ·

Bring die inry teaters terug. Dit is meer Covid vriendelik.

Mariana ·

Dit sou nou goeie idee gewees het, maar dit sal baie kriminele lekker vastrapplek gee. Moord en roof…….en wat nog.

Hennie J ·

Baie dankie huigelaar en kopdoek. Julle is stadig maar seker besig om te kry wat julle eintlik soek, tewete volkome diktator mag.

Fritz ·

Ek dit alles net om watse klein persentasie van die mensdom te red? 5%? 10%?. Die wêreld gaan aan asof homo sapiens n bedreigde spesie is. Homo sapiens plant erger voort as rotte man.

Piet ·

Ek neem aan jy gee nie om om een van die Covid-statistieke te word nie.

Karel Kobus Kruger ·

En ek neem weer aan jy gee nie om om een van diegene te wees wat hul besighede verloor het nie.

Fritz ·

Ek sal my bes probeer om nie te dooi nie, maar ek kan nie van die ander 7.8 miljard mense verwag om vir my agteroor te buig en opofferings te maak nie. Niemand is só spesiaal nie. Verwag jy dat die res van die wéreld vir jou opofferings moet maak?

Mariana ·

Net nog ‘n besigheid wat deur regering gekelder is. Dit hou net nie op nie. Wanneer gaan dit stop.

Sarel ·

” Sakeredding” is dit nou nuwe woord vir ” Kuratorskap”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.