Twee mynwerkers is in afsonderlike voorvalle by twee AngloGold Ashanti-myne in Gauteng oorlede, het die maatskappy Saterdag gesê.
“ʼn Rotsbooroperateur en ʼn toesighouer is vandeesweek noodlottig gewond tydens ʼn rotsstorting en ʼn tremongeluk by Kopanang en TauTona-myne,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê.
Die departement van minerale hulpbronne is in kennis gestel van albei voorvalle en inspeksies is op die toneel gedoen. Alle sekondêre ondersteuningsbedrywighede by Kopanang en tremaktiwiteit by TauTona is opgeskort.
“AngloGold Ashanti betuig sy meegevoel met die families, vriende en kollegas van die twee werknemers. Die bestuur werk saam met die twee families om hulle by te staan deur hierdie moeilike periode,” het die maatskappy bygevoeg.