Die sterftesyfer van seuns by inisiasieskole is Vrydag aangepas tot 26.
“Altesaam 26 jong seuns het sedert die begin van die winterseisoen by inisiasieskole gesterf,” het Obed Bapela, minister van die departement van tradisionele sake, Vrydag gesê. Maroela Media het Donderdag berig 23 jong mans is reeds dood by inisiasieskole, hoofsaaklik weens mislukte besnydings.
Die departement het Donderdag gesê 104 seuns is vir dehidrasie, besnydingswonde wat besmet geraak het, gangreen en ander verwante beserings in hospitale opgeneem.
Een seun is in die Wes-Kaap dood, vier in Mpumalanga en 21 in die Oos-Kaap. Bapela sal volgende week gebiede in die Oos-Kaap besoek waar die hoogste aantal sterftes aangemeld is.
Sewe mense is in die Oos-Kaap in hegtenis geneem in verband met onwettige inisiasieskole. “Die regering kan nie net toekyk terwyl ons kinders doodgaan nie,” het Bapela gesê. “Dit moet nou tot ʼn einde kom.” -SAPA
Lees ook:
23 sterf by inisiasieskole