Drie vragmotors en ʼn motor het Maandag in die vroeë oggendure op die N12 naby eMalahleni (Witbank) in Mpumalanga gebots. Dié botsing het ʼn ammoniak-storting tot gevolg gehad met sterk walms wat later die oggend nog in die lug gehang het. Ammoniak is ʼn verbinding van waterstof en stikstof en het ’n skerp, irriterende reuk.
Hoewel niemand in die voorval beseer is nie, is insittendes van die motor op die toneel behandel nadat hulle van die ammoniakwalms ingeasem het. Verskeie inwoners in die omgewing het ook wakker geword van die walms in die lug, het Moeti Mmusi, woordvoerder van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, in ʼn verklaring gesê.
Volgens Mmusi het die botsing kort ná middernag plaasgevind. ʼn Vragmotor het vermoedelik ʼn ander vragmotor probeer verbysteek toe die botsing plaasgevind het. Nog ʼn vragmotor en ʼn motor was ook in die botsing betrokke.
Mmusi het gesê een van die vragmotors het energiedrankies vervoer. Dit is nie duidelik hoe die botsing tot ʼn ammoniak-storting gelei het nie.
Volgens Mmusi het dit owerhede ’n hele ruk geneem om die toneel te bereik as gevolg van die sterk walms in die lug. Dié walms kon vanoggend selfs so ver as Tasbet Park, 10 km van eMalahleni, geruik word.
Gabisile Shabalala, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het vanoggend die toneel besoek en ʼn beroep op vragmotorbestuurders gedoen om veiliger te bestuur.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
3 Kommentare
En ek het gedink dat daar aandklokreel is?
Seker net in stede nie op al die snelwee.