Sterk voorleggings oor politieke finansiering op eerste oggend

(Foto: Maroela Media)

Die Taj Hotel in die Kaapse middestad was Donderdagoggend die toneel van diepsinnige politieke debat toe die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) voorleggings aangehoor het van belanghebbendes oor die toekomstige regulering van partypolitieke finansiering in Suid-Afrika.

Die OVK moet kragtens die onlangs uitgevaardigde Wet op Partypolitieke Finansiering die regulasies bepaal. Dat hulle daarvoor die wysheid van Salomo en die geduld van Job gaan benodig, was reeds uit vanoggend se uiteenlopende voorleggings duidelik.

Eerste aan die beurt was die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac). Hul voorlegging, deur Lawson Naidoo, se hoofpunt was dat daar sterker strawwe moet wees vir finansiering wat onregmatig bekom is. Casac voel sterk dat alle gedrag wat deur die OVK as potensieel onregmatig geklassifiseer word, voor die kieshof gedaag moet word vir beoordeling.

Volgende was ‘n sterk voorlegging deur die organisasie My Vote Counts (MVC). Hulle het gesê daar moet ‘n streng tydlyn vir die implementering van die wetgewing gestel word, en dat daar nie onnodig daarmee gesloer moet word nie.

Een van MVC se bekommernisse is dat daar nie genoegsame omskrywing van die OVK se ondersoekende magte is nie. Hul vrees is dus dat die kwessie van ondersoekende magte deur ‘n herhaling van dieselfde lang proses sal moet gaan as wat tans oor die algemene regulasies gevolg word. Daar is volgens MVC ook nie genoegsame beskerming van fluitjieblasers nie.

MVC het met Casac saamgestem dat strenger regulasies teen wederregtelike skenkings ingestel moet word, en het uitgewys dat die feit dat slegs skenkings bo R100 000 aangemeld moet word, ‘n skuiwergat skep vir donasies van byvoorbeeld R99 999.

MVC dring aan daarop dat die volle register van skenkers ook elektronies beskikbaar moet wees op die OVK se webblad, en dat dit binne sewe dae van publikasie moet gebeur, elektronies deursoekbaar volgens tyd van skenking, naam van skenker en bedrag.

MVC is gevolg deur die Phillippi Horticultural Organisation, wat basies net die DA-beheerde stadsraad van Kaapstad aangeval het en deur die OVK kortgeknip is omdat dit niks met die wetgewing te doen gehad het nie.

Die ondersoekende joernalistieksentrum amaBhungane het uitgewys hoe die gebrekkige dreinering van sleutelterme in die wetgewing skuiwergate vir omseiling skep. Hulle het gevra dat sowel ‘n natuurlike as ‘n regspersoon oor dieselfde kam geskeer word.

AmaBhungane het die OVK behoorlik laat kopkrap met hul vraag hoe die omseiling van die R100 000-drempel deur byvoorbeeld skenkings van net-net minder as R100 000 elk deur aandeelhouers van dieselfde belangemaatskappy of dieselfde familie gereguleer sal word.

Hulle het voorts gevra dat finansiering van fopnuus oor sosiale media gekriminaliseer word, asook skenkings deur derde partye namens belanghebbendes.

Die OVK het al amaBhungane se punte toegegee en gevra dat hulle weer ontmoet om dit uit te stryk.

Maar die grootste kopseer van die dag vir die OVK is veroorsaak deur die voorsitter van die DA se federale dagbestuur, James Selfe. Selfe en sy kollega Alf Lees, wat die DA se nasionale tesourier is, het uitgewys dat elke tak van elke groot politieke party sy eie bankrekening het, wat tot 5 000 bankrekeninge elk vir die drie groot partye, naamlik die ANC, DA en EFF, beteken.

Selfe het dus aangevoer die regulasies, soos dit tans daarna uitsien, is prakties onuitvoerbaar en stuur op groot regsprobleme vir die OVK af, want hulle sal dit nie kan uitvoer nie en sal dus wettiglik aanspreeklik wees vir die versuim.

Selfe het gevolglik teruggeval op die ou beginsel in die Romeins-Hollandse reg dat die bedoeling van die wetgewer nie oorskry mag word deur die regulasies nie.

Aangesien die bedoeling van die wetgewer verwoord kan word deur die teenwoordige politici, wat die wet in die parlement geskryf het, was dit ‘n uitklophou, soos die uitdrukkings op die gesigte van die OVK-kommissarisse duidelik aangetoon het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George in Bloem. ·

Die OVK is maar net nog ‘n tentakel van die ANC seekat. Op die geloofwaardigheidsmeter registereer hulle in my boek ‘n ronde nulletjie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.