Sterk vroue wen SA se enigste medalje by Wêreldspele

Suid-Afrika se vrouetoutrekspan (Foto: Facebook)

Suid-Afrika se vrouetoutrekspan het die afgelope naweek by die Wêreldspele in Pole vir ʼn tweede agtereenvolgende jaar ʼn algehele derde plek behaal en sodoende die land se enigste medalje by dié spele gewen.

Die vrouetrekspan, wat bestaan uit Leonell Steyn (kaptein), Kittie Terblanche (onderkaptein), Rene Groenewald, Rene Ras, Ane Ras, Samantha Wilmot, Nadine Stoop, Claudia Lassen and Jancke de Wet, sê hulle is baie tevrede met dié derde plek, aangesien die kompetisie vanjaar heelwat strenger was.

Die span het by die vorige spele, wat in Colombia gehou is, ook ʼn bronsmedalje verwerf nadat hulle Switserland gewen het. Vanjaar se eersteplekwenners was die Chinese Taipei-span, gevolg deur die toutrekspan van China.

Suid-Afrika se span het vanjaar stof in die Nederlandse span se oë geskop nadat dié span ʼn tweede plek behaal het by die vorige spele.

Anton Gerber, die span se afrigter, sê die span het hard gewerk en lank voorberei vir dié spele.

“Ons het dié keer baie gefokus op kragoefeninge, veral om die vroue se bene sterker te maak. Ons het ook teen ander spanne meegeding sodat hulle teen ʼn ‘regte’ span kon oefen. Deel van ons voorbereiding was dat ek en twee van die atlete sowat twee weke in Taiwan saam met die Chinese Taipei-span deurgebring het om meer te leer. Ons vroue het dié jaar minstens 10% verbeter,” sê hy.

Gerber het gesê die span kon Nederland in die laaste rondes uitstof danksy ʼn “taktiese benadering”.

Ander sporte waar Suid-Afrika ook teenwoordig was, is sweefkuns, boogskiet, snoeker, gimnastiek, kragoptel en bergklim.

Suid-Afrika het op die vorige Wêreldspele vier medaljes gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kaptein ·

So trots op julle!!! Dankie Anton Gerber en elke span lid wat so hard gewerk het. TOUTREK IS TOPS!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.