Sterkfontein-reservaat steeds gesluit: ‘Gee terug ons dam’

Inwoners van die gebied, asook gereelde besoekers aan die oord, sê dit is nou lankal tyd dat sake na normaal terugkeer. (Foto: Charl Wewege)

Terwyl dit in die verlede by die Sterkfonteindam en -natuurreservaat gewemel het van besoekers – veral kranige vissermanne – was daar die afgelope paar maande weinig teken van lewe by dié eens gewilde oord.

Vissermanne en sakelui is woedend omdat die reservaat naby Harrismith – en op die grens tussen die Vrystaat en KwaZulu-Natal – sowat 19 maande nadat beheer daarvan aan die departement van gesondheid oorgegee is, steeds nie weer sy deure vir die publiek oopgestel het nie.

Die oord is in Mei verlede jaar aan die gesondheidsdepartement oorgegee sodat dit as ʼn kwarantynfasiliteit vir Covid-19-gevalle in die Vrystaat gebruik kon word. Sedertdien was dit taboe vir enige gewone besoekers.

“Dit lyk meer soos ʼn spookdorp as enigiets anders,” sê ʼn gids wat in die verlede gereeld vissermanne op die gewilde dam vir veral vlieghengel-uitstappies begelei het.

“Die gordyne van die chalets is dig toegetrek en daar staan geen voertuie in die motorhuise nie. Dit lyk nie soos jy sou verwag ʼn plek sou lyk wat gebruik word nie,” sê hy.

Vissermanne en ander besoekers, ook dagbesoekers, het gewoonlik deur die munisipale oord toegang tot die dam verkry. Die dam kan steeds gebruik word, maar nie deur die oord nie. Ander opsies om toegang tot die dam te kry is veel duurder, of die toegangsroetes sleg.

Die gids, wat hoop dat besoekers binnekort weer na die oord sal mag terugkeer, wil nie sy naam genoem hê nie uit vrees dat dit verhoudings tussen hom en amptenare kan versuur wanneer die reservaat weer sy hekke oopmaak.

“Ons soek ons dam en ons reservaat terug – as jy dit nie meer as Covid-19-fasiliteit gebruik nie, heropen dit dan.”

Nog ʼn inwoner van die gebied sê die gastehuis wat sy in die omgewing bedryf het, moes sy deure sluit nadat gaste, hoofsaaklik vissermanne, opgedroog het. Die vrou sê die perseel word nou permanent verhuur en sy moes noodgedwonge ʼn ander bron van inkomste vir haarself begin genereer.

Charl Wewege, ʼn inwoner van die gebied en kranige visserman wat help om besoekers en gidse met mekaar in verbinding te bring, het onlangs ʼn petisie begin in ʼn poging om meer druk op die owerhede te plaas om die oord weer oop te stel.

In die petisie sê Wewege daar is geen rede waarom die dam nie vir sport- en ontspanningsdoeleindes oopgestel kan word nie. Dit is boonop ʼn groot toeriste-aantreklikheid en “die brood en botter vir talle visvang- en toerismegidse”.

Die Sterkfonteindam lê op die grens tussen die Vrystaat en KwaZulu-Natal en lok veral hengelaars en avontuursport-entoesiaste. (Foto: SA Tourism)

Dr. Mbulelo Nokwequ, hoof van die Vrystaatse departement van ekonomiese en kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea), sê hy hoop die oord kan die naweek reeds minstens vir hengelaars en kampeerders heropen word.

Die departement van gesondheid het die oord reeds weer aan Destea oorhandig, maar Nokwequ sê ʼn behoorlike bateopname moet eers gedoen word voordat die chalets byvoorbeeld weer vir besoekers oopgestel word.

Maroela Media verneem heelwat skade is glo aan fasiliteite aangerig.

Volgens Nokwequ sal die bateopname ook hierna kyk, asook na enige bates wat moontlik vermis of beskadig is. Chalets sal ook grondig skoongemaak word. Daar is egter nog geen tydsaanduiding van wanneer die chalets weer vir die publiek beskikbaar gestel gaan word nie.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, sê die dam is ʼn belangrike bron van inkomste en een van die min plekke waar plaaslike inwoners en ander besoekers kan kom uitspan.

Jankielsohn sê dit lyk nie of daar onwilligheid by die owerhede is om die oord te heropen nie, maar dat dit klaarblyklik met heelwat burokratiese rompslomp gepaard gaan. “Niemand wil hulle tot ʼn besluit verbind nie. Die regering wil hom nie verbind tot enigiets nie, nie eens visvang nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

casper ·

Is daar enige departement in hierdie land wat nog enigsins kan funksioneer??
Klomp onbeholpe en onkundige idiote.

Perdeby ·

Dit gaan nog gratis plase vir hulle ondersteuners of kaders word.

Frikkels ·

Ons regering se styl is deurspek met tonele van algehele verval en irrasionele besluite. Hulle moet die kostes dra om die oord weer te laat herstel tot sy eertydse glorie. Hulle moet tog nie toegelaat word om die herstelwerk self te bestuur nie, dan gaan die oord totaal vergaan. Hulle tipe herstel en regdenkende mense se manier van herstel, verskil hemelsbreed.

Samuel ·

Is dit blote vertragingstaktiek om inwoners te frustreer? Jy kan mos nie die regering met enigiets vertrou nie. Hoe moeilik is dit dan om ‘n voorraadopname te doen? Kom aan.

anniekiewiet ·

Vir die onbekwame mense wat net salaris kry, baie moeilik.

Andries ·

Hoekom moet hul werk as hul kan sit en die holrug geryde storie van covid opdis om niks te doen nie

Feite ·

Daardie dam en oord was eens n trotse en mooi plek waar ons heel dikwels heen gegaan het. Ek kan nie glo wat hier gebeur het nie. Daardie pragtige Chalets wat so oor die dam gekyk het is seker nou vodde! Dit was n groot aantrekkings punt en het die mense in die omgewing van Harrismit baie voordeel in gehou. Maar die selfsug en stupidity van hierdie land se “regeerders” het geen perke!

anniekiewiet ·

Daardie chalets was lankal nie meer so spesiaal soos jare gelede nie.

Josua ·

Op die nood, kyk somer ook na Potchefstroom dam dieselfde het daar gebeur en sover my kennis strek is die dam steeds gesluit vir besoekers, was blykbaar gebruik vir afsondering vir covid maar ek voel daar is baie ander plekke in die omgewing wat ook daarvoor gebruik kon word. So nog n lekker oord deur onbevoegdheid bestuur!

Ilze ·

Wel. Die mense wat dit aan die GESONDHEID oorgegee het, het n dom beasuit gwneem. Jul kry dit beslis nooit weet terug nie. Of het jul dalk geen keuse gehad nie?

Ilze ·

Ok. Dan is dit n ander saak en n skelm saak daarby. Van die Gesondheid en Covid komitee se kant af.

anniekiewiet ·

Gaan kyk ook na al die ander oorde van daardie departement in die Vrystaat. Dis n hartseer werklikheid van verval en treurigheid. Nie omdat die personeel daar nie omgee nie. Maar omdat die leiers en hoofde van die departement, soos oral in die staatsdiens, vere voel daarvoor. En van die bekwame mense wat die plekke opgebou het, is net n paar nog in diens.

msp ·

As die regering iet oorneem moet jy maar net sê “GOODBYE ” Al wat oor bly is goeie herhinderinge!!!!

Marius ·

Na die ewigdurende vooraadopname en bepaling van struktuur skade aan gebou moet ‘n kwotasie vir die vervanging van linne, meubelement, kombuistoebehore, elektriese ware ens vir die department van gesondheid gestuur word wat verantwoordelik is vir die skade en verlies terwyl die oord in hul sorg oorgelaat was.

Dit is tyd dat regering verantwoordellikheid neem vir hul dade of tekort daaraan.

Rudolph ·

Ek is seker die visse is bly. Reservaat en visvang is twee woorde wat nie saamgebruik kan word nie. Lank lewe die visse!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.