Stern-skildery wat as kennisgewingbord gebruik is vir miljoene opgeveil

Irma Stern se Arab in Black

Irma Stern se Arab in Black

‘n Irma Stern-skildery wat vroeër vanjaar ontdek is waar dit as ʼn kennisgewingbord in die kombuis van ’n woonstel in Londen gebruik is, is Woensdag vir £842 500 (of R17 693 080) opgeveil.

Die afslaer Bonhams het die skildery opgeveil nadat een van sy deskundiges, Hannah O’Leary, in Julie daarop afgekom het toe sy die woonstel besoek het om kunswerke te waardeer. Die eienaars van die woonstel het die skildery, getiteld Arab in Black, as ʼn kennisgewingbord gebruik en poskaarte en rekeninge daaraan vasgespeld, onbewus van die waarde daarvan.

Volgens Bonhams het die skildery in die 1970’s in Brittanje beland toe die eienaar daarvan geëmigreer het en is dit later aan die vorige eienaar, waar dit in Julie gevind is, bemaak. Die skildery het oorspronklik aan Betty Suzman behoort. Sy was die dogter van Max Sonnenberg wat Woolworths in Suid-Afrika gestig het en die skoonsuster van Helen Suzman, anti-apartheidsaktivis.

Die skildery is in die 1960’s op ‘n veiling verkoop om geld in te samel vir Nelson Mandela en sy medeverweerders se regskoste in die opspraakwekkende hoogverraadverhoor. Die skildery dateer van 1939.

Bonhams het in 2011 ‘n soortgelyke Stern-skildery vir meer as £3 miljoen (sowat R60 miljoen) opgeveil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.