Sterwende pasiënt, dokter getuig in genadedoodsaak

(Argieffoto)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die dokter wat gaan getuig in die sogenaamde genadedoodsaak, se getuienis sal in camera aangehoor word, wat beteken dat die media glad nie toegang tot dié getuienis sal hê nie. Dit is glo om pasiënte wie se name sy tydens getuienis gaan noem, se identiteit te beskerm. Sy sal na verwagting getuig hoe sterwende pasiënte, wat genadedood verkies het, gely het.

Die hooggeregshof in Johannesburg het vandeesweek virtueel getuienis aangehoor in die genadedoodsaak. Diethard Harck en sy dokter, Suzanne Walter, ʼn spesialis in palliatiewe gevalle, het die hof in 2017 gevra dat die wet verander word sodat mense wat terminaal siek is wel dié opsie het.

Die aansoek word egter deur die Raad op Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) teengestaan.

“Die wettiging van genadedood sal pasiënte kwesbaar maak vir sameswerings tussen gewetenlose dokters en familielede,” het die raad vroeër vandeesweek gesê.

Maroela Media het destyds berig dat dié pasiënt en dokter ʼn gesamentlik aansoek in die Johannesburgse hooggeregshof ingedien het om die wet teen genadedood ongrondwetlik te verklaar. Walter het ʼn tipe bloedkanker en haar pasiënt, Harck, het motorneuronsiekte.

Regter Neels Claassen hoor die getuienis van Harck en Walter aan voordat die hofdatum, wat na verwagting later vanjaar vasgestel gaan word, in werking tree. Getuienis word nou al aangehoor ingeval die paar te siek is om te getuig, of reeds oorlede is.

Harck en Walter wil mediese selfdood met die bystand van ʼn dokter (PAS) en genadedood met behulp van ʼn dokter (PAE) dekriminaliseer. Wanneer ʼn pasiënt selfmoord met behulp van ʼn dokter wil pleeg, word medisyne deur die dokter voorgeskryf waarna die pasiënt self die dodelike dosis toedien. Wanneer ʼn pasiënt ʼn genadedood met behulp van ʼn dokter wil hê, word die dodelike dosismedisyne slegs deur die dokter toegedien.

Adv. Adrian D’Oliveira, van die RGBSA, het aan die kommissie gesê dat die raad geheel en al teen die wettiging van genadedood en mediese selfdood is. “Die raad meen ook dat daar reeds wettige opsies bestaan vir mense wat hul lewe wil beëindig omdat hulle aan terminale siektes ly.”

Walter se getuienis

Die media en lede van die publiek is belet om Walter se kruisondervraging en getuienis, wat via Zoom gaan plaasvind, aan te hoor.

Volgens D’Oliveira gaan Walter verwys na spesifieke pasiënte se gevalle en dit kan dus gebeur dat een van die lêers tydens die virtuele getuienis voor die kamera beland.

Walter se regsverteenwoordiger, Hendrik van Nieuwenhuizen, het Donderdag gesê dat daar tussen die partye ooreengekom is dat haar getuienis en kruisondervraging voor ʼn kamera aangehoor sal word en dat hulle ʼn regter nader vir ʼn bevel wat dit bevestig.

“Ons wil nie iets van die lede van die publiek of media wegsteek nie. Dit is om die betrokke pasiënte se privaatheid te beskerm dat ons tot hierdie gevolgtrekking gekom het.”

Sy sal na ongeveer vyf pasiënte verwys, het Van Nieuwenhuizen gesê. Die dokumente is sodanig saamgestel dat pasiënte se name en persoonlike besonderhede verwyder is. Daar sal slegs na hulle verwys word as byvoorbeeld pasiënt A, B en C.

Harck se kruisondervraging

Tydens Harck se kruisondervraging Woensdag het D’Oliveira gesê dat baie arm mense in Suid-Afrika wat aan terminale siektes ly, verplig kan voel om ʼn dodelike dosis te neem sodat hulle nie ʼn las word nie.

“Jy kan jou voorstel dat die druk om te sterf groot sal wees in ʼn huis waar daar nie voldoende beddens vir almal en voedsel nie volop is nie. Dit sal dus nie ʼn vrye keuse wees nie en die wet sal hulle nie kan beskerm nie,” het D’Oliveira gesê.

Die raad beweer dat familielede en dokters ook die stelsel kan misbruik vir ʼn persoon se geld of erfenis. D’Oliveira het gesê dat niks dan gewetenlose dokters en familielede sal kan keer nie.

“Dit kan ongelukkig in ʼn samelewing soos ons sʼn voorkom as die mag van genadedood en mediese selfdood deur die wet verleen word.”

Harck het egter daarop aangedring dat die pasiënt wat ly die mag het, en nie die dokter wat die dodelike dosis voorskryf of toedien, óf die familielede wat moontlik daaruit sal baat vind nie. Deurlopende kontrole sal ook enige magsmisbruik voorkom en stopsit.

D’Oliveira het voortgegaan om te sê dat die algemene gebrek aan vertroue in dokters sal vererger indien dokters toegelaat word om mense te help sterf. Hy het gesê dat sou die hof, of die parlement, uiteindelik genadedood toelaat, sal dit deur behoorlik opgeleide mense wat nie mediese dokters is nie, gedoen moet word.

Hy het verder verwys na twee aanlyn dokumente waarin uiteengesit word hoe mense wat hul lewe wil beëindig, dit reeds wettig kan doen.

Een opsie sou wees om voedsel en water te weier. ʼn Ander, vir diegene wat dit kan bekostig, sou wees om na ʼn land soos Switserland te reis waar genadedood wettig is. Hy het ook inligting verskaf oor die gebruik van sekere middels en inerte gasse wat gebruik kan word om ʼn mens se eie lewe mee te beëindig.

Volgens D’Oliveira is dit ook wettig toelaatbaar dat ʼn palliatiewesorg-dokter ʼn pasiënt wat ly in ʼn verdowing kan plaas wat soortgelyk aan narkose is.

Harck se advokaat, Claire de Witt, het dié stelling egter teëgestaan en gesê dat terminale verdowing nie vir alle pasiënte beskikbaar is nie. Dit moet ook klinies aangedui word wanneer dit blyk dat die pasiënt naby aan afsterwe is. Indien dit nie gebeur nie, kan dokters skuldig bevind word aan ʼn verskeidenheid van klagte.

“Dit is uiters ontstellend dat dít die enigste opsies is. Dit laat my magteloos en kwaad voel,” het Harck gesê.

“Ligte verdowing sal nie my vrees en begeerte aanraak nie. Inteendeel, dit sal my langer laat leef en dus langer laat ly.”

GroundUp het die berig oorspronklik gepubliseer. Lees die oorspronklike berigte hier en hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Thom ·

Die reg om met waardigheid te sterf moet deel van die grondwet word _____ om in ontsettende lyding en in jou eie gemors te lê moet geen opsie wees nie .

Ovelia ·

Ek dink hul mut dit toelaat want kyl hoeveel mense probeer selfmoord pleeg nt om dt oor en verby tr kty

Anel ·

Dit staat wil volle beheer oor jou lewe hê. Verder word aborsies gewettig, wat moord is. Dis my lewe. Maar die ongebore baba is iets anders.

Drico ·

Bg 2 kommentare maak absoluut sin en ek is geneig om saam te stem. Maar aan die ander kant mag jy nie jou eie lewe neem volgens die Bybel nie. Hoe dan nou gemaak? Genadedood kom tog op die end neer op of moord of selfmoord. Genadedood word toegedien deur of iemand anders (moord) of deur jouself (selfmoord) .

Thom ·

Renata , hier en daar bied die bybel waardevolle morele rigtingwysers maar alles kan nie verletterlik word en / of ernstig opgeneem word nie byvoorbeeld die skepping van die aarde in 6 dae is loutere snert . Lees die bybel soos enige ander boek en indien iets nie geverifieer kan word nie is dit gewoon onwaar .

Sarel ·

Hulke baklei vir Genade Dood vir Pasiënte, kinders iitgesluit , wat Terminaal siek is en self wil besluit oor lewe en dood. Net jammer met Aborsie het die slagoffer geen keuse nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.