Steun ʼn student-veldtog: 5 000 studente benodig studiegeld 

studente

Foto: Argief

Die vakbond Solidariteit het pas sy ‘Steun ʼn student’-veldtog bekendgestel.

Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum is vroeg vanjaar oorval met ʼn rekordgetal aansoeke vir studiehulp, tot so ʼn mate dat soveel as 5 000 voornemende studente nie met finansiering vir vanjaar se studie gehelp kon word nie.

Hierdie uitdaging het ontstaan ten spyte van die feit dat die studiefonds ’n rekordgetal van 1 500 studente in 2017 met studies gaan help. Die totale bedrag van R40 miljoen is die grootste bedrag wat hierdie studiefonds tot nog toe uitbetaal het.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê duisende oproepe van voornemende studente stroom sedert 3 Januarie in. “Die nood is groot en die behoefte nog groter. Daar word rekord gehou van hierdie jongmense se name en ons wil poog om hulle op ’n individuele grondslag behulpsaam te wees.”

Hermann het gesê hoewel sommige voornemende studente hulself op tersiêre vlak kan bekwaam, het hulle nie toegang tot die nodige geld nie. “Dit is nie altyd moontlik vir studente om lenings aan te gaan nie en die staat se befondsing is ook nie vir hulle beskore nie,” verduidelik Hermann.

Solidariteit wil hierdie 5 000 studente ook met studiegeld help en doen ʼn beroep op die publiek om betrokke te raak en ʼn verskil in hierdie jongmense se lewens te maak. “Word vandag deel van dié boufonds en skenk maandeliks ʼn bedrag aan die studiefonds wat aangewend sal word om ʼn student te ondersteun.”

Die Solidariteit Helpende Hand Studiefondssentrum (voorheen bekend as die Afrikaanse Beursinstituut) is in 2003 gestig om die behoefte van Solidariteit-lede en hul kinders ten opsigte van finansiële hulp vir tersiêre opleiding te help bevredig. Solidariteit Helpende Hand bestee jaarliks miljoene rande om verdienstelike studente, wat andersins nie sou kon studeer nie, te help.

SMS “Studeer” na 34802 of besoek www.solidariteit.co.za.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jem ·

Baie geluk aan Solidariteit. Dankie aan almal wat by draw om n verskillende te maak. Ek is baie trots op Solidariteit.

Trots Afrikaans ·

Maak net seker hulle is Christelik Afrikaans en vir Christus en Afrikaans.

Jay ·

Gestel sommige voornemende studente is wel Afrikaans, maar hang nie die Christelike dogma aan nie, wat dan?

Koos ·

Hoekom die vereiste? As die kind Afrikaans is maar ‘n ander geloof het hoekom is dit ‘n probleem? As dit die houding is en gees agter hierdie beurs sal ek weier om finansieel by te dra

jaco ·

Gaan hierdie studente almal eendag werk kry nadat hulle hulle wonderlike grade gekry het? Dieselfde Solidariteit het dan tot by die VN gaan kla oor hoe regstellende aksie toenemend blankes werkloos maak.

Jane ·

Ja Jaco. Hulle kan selfs ‘n eie besigheid oopmaak met hulle kwalifikasies en aan duisende ander mense werk verleen. Ten minste gaan hulle ook die land kan verlaat met ‘n ordentlike graad en nie een wat hulle met 20% geslaag het nie. JA die kinders gaan erkende grade verwerf en goeie werk kry. As dit nie in SA is nie, is dit ten minste in die buiteland waar hulle hoogs gesog en hoog aangeskrewe is.

Jay ·

Jaco, om aan ń universiteit te studeer, beteken nie net om vir ń beroep of professie voor te berei nie. Dit is ook veronderstel om die persoon as mens uit te bou en hom/haar te help om onder andere kritiese denke te ontwikkel. By hoeveel universiteite laasgenoemde nog gebeur, kan mens maar net oor spekuleer.

Koos ·

Dalk moet daar ook gekyk word om eerder wetenskapsgrade te bevorder. Ons het te veel mense wat BA gaan swot

Jane ·

TROTS OP JULLE WOW .. Dankie dat julle bou en werk aan kinders wat al moed verloor het se toekoms. Ek het ongelooflik baie agting daarvoor. GELUK!

jaco ·

Studeer deur akademia sonder feea must fall optogte en maande sonder enige klasse. Kry jou graad oor 4 jaar en stap dan, in die jaar 2021 uit en begin werk soek. Die een deur na die ander gaan in jou gesig toegeklap word met: sorry no work because you are white”. Begin dan n eie besigheid. Ek weet nie hoe nie, want jou studieskuld gaan op R600 000 of meer staan. Nou stel jy mense in jou eie besigheid aan en dan verplig arbeidswette jou om regstellende aksie toe te pas. Doen jy dit nie, word jy beboet. Doen jy dit wel, kry jy die wind steeds van voor want jy is die eienaar en daars beskuldigings dat “management” nog steeds te wit is. Jy kan nie wen teen die ANC se national democratic revolution nie.

Bernice ·

As ‘n student wat werk om te kan swat – baie dankie dat julle die help wie se finansies dit nie toelaat nie of nie ‘n werk kan kry of een kan hou nie.

Ek bid dat daar werk sal geskep word wat op meriete kies en nie op voorkoms nie en dan dat ons kan saam staan en die in nood help.

manie ·

Ek het gestudeer en met 2 grade in politieke wetenskap n goeie werk in die staatsdiens gekry. Toe kom die nuwe SA en regstellende aksie en ek verloor daardie werk. Daarna was dit n gesukkel. Behalwe my ras, moes ek ook baie hoor ek is “over qualified” of “wrongly qualified” en dat ‘n BA-graad ‘n “glorified” matriek is. Meisies wat 2 jaar lank HR op n tegniese kollege gestudeer het, het gedink BA beteken Business Administration en het my vir werk afgekeur. Eks weggewys vir werk wat ek weet ek kon doen. Uiteindelik het ek my CV gedokter. Die 1 jaar in die weermag het ek verander na 2 jaar. Die 4 jaar op universiteit en die 2 grade wat ek daar behaal het, het ek verander na 3 jaar se blote “attended university” . GEEN werksonderhoud het dit ooit bevraagteken nie en uiteindelik het ek weer ordentlike werk gekry.

manie ·

Na al my slegte ondervindings met werk soek, het ek begrip vir mense wat CV’s dokter, matriek- en graadsertifikate vervals ens ens. Wit mense slimmer as ek en wat meer beroepsgerig gestudeer het, het , weet nie wat dit is om werkloos te wees nie. Wit mense wat wil gaan studeer en dié wat hulle finansieel wil help, moet goed dink oor wat hulle gaan studeer. Sorg dat dit vir n onmisbare beroep is wat ook in die buiteland (waar nie regstellende aksie is nie) gesog is. En asseblief bly weg van gewone BA-grade. As dit BA moet wees, doen dan BA regte. Een waar ding wat hierdie snuiter agente by recruitment agencies gesê het, is dat gewone BA maklik en n glorified matriek is.

Koos ·

Daar is nie meer iets soos BA regte nie, daar is bloot LLB, wat baccalaureus vlak aangebied word. Ek stem saam met jou dat mense moet slim kies watter vakrigting hulle in wil gaan studeer. Daar is ongelukkig baie mense wat BA grade studeer maar baie min in vergelyking wat BSc gaan studeer

sarie van heeden ·

Ek stem saam dat aandag gegee moet word aan Natuurwetenskapsvakke en grade want sodiale wetenskappe (BA/MA) is nou oorvol.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.