Steun van internasionale sportliggame oor sportkwotas

afriforumDie burgerregte-organisasie AfriForum het ‘n omvattende veldtog van stapel gestuur om Suid-Afrikaanse sportondersteuners se steun te werf teen rassekwotas in Suid-Afrikaanse sport. As deel van die veldtog word die publiek gevra om hulle name te voeg by amtelike klagtes teen die kwotastelsel, wat AfriForum by die Internasionale Rugbyraad en ander internasionale sportfederasies aanhangig wil maak.

AfriForum se veldtog volg nadat die minister van sport, Fikile Mbalula, onlangs aangekondig het dat sportspanne gedwing gaan word om ‘n 60-40 kwotabeleid toe pas, waarvolgens 60% van die spelers swart moet wees.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sal die publiek se steun gewerf word met koerant- en radio-advertensies, asook deur die die sosiale media soos Facebook, Twitter en SMS’e. Die publiek word in die advertensies en in die sosiale media versoek om die saak te ondersteun deur hulle name na 45343 te SMS of ‘n petisie te onderteken by www.afriforum.co.za.

Kriel het daarop gewys dat sy organisasie se klagtes by internasionale sportfederasies op sterk bene sal staan, aangesien byna alle internasionale sportliggame se regulasies enige vorm van rassediskriminasie en regeringsinmening in sport uitdruklik verbied. Hierdie verbod op rassediskriminasie en regeringsinmenging word volgens Kriel ondubbelsinnig verwoord in Internasionale Olimpiese Komitee se Olimpiese Handves, wat van toepassing op die meeste sportsoorte is, sowel as die regulasies van onder meer die Internasionale Rugbyraad, Internasionale Krieketraad en die Internasionale Netbalfederasie.

Volgens Kriel gaan die steun van sportliefhebbers verseker dat AfriForum se klagtes teen die kwotastelsel nog groter gewig by internasionale sportliggame sal dra.

“AfriForum kan nie net stilsit en toekyk hoe jong mense se drome en sportloopbane vernietig word deur rasbehepte politici en sportadministrateurs nie. Ons sal daarom geen koste en moeite ontsien om by elke moontlike internasionale sportliggaam te gaan veg teen die blatante diskriminasie in Suid-Afrikaanse sport nie,” het Kriel bygevoeg.

Kriel het daarop gewys dat AfriForum ten gunste van sportontwikkeling is, sodat almal die geleentheid kan kry om aan sport deel te neem. ʼn Rassekwota-beleid dra volgens Kriel egter nie daartoe by om nuwe spelers te onwikkel nie en benadeel alle sportsterre. “Talentvolle swart spelers word benadeel deur kwotas omdat die geldigheid van hulle opname in die spanne voortdurend onder verdenking is, terwyl kwotas ook talentvolle jong wit spelers van geleenthede ontneem,” het Kriel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.