Steun vir ANC op ‘ongekende laagtepunt’ – peiling

Partye se plakkate vir die plaaslike regeringsverkiesing op 1 November. (Foto: Reint Dykema)

Onlangse voorverkiesingspeilings deur Ipsos dui aan dat steun vir die ANC op ʼn ongekende laagtepunt is.

Sou van die 26 miljoen geregistreerde kiesers Maandag in groot getalle by stemlokale in die land uitslaan om aan die plaaslikeregeringsverkiesing deel te neem, behoort die ANC – gebaseer op Ipsos se steekproef – sowat 43,4% van alle stemme te wen.

Sou dit wel die geval wees, behoort sowat 24% van kiesers vanjaar vir die DA te stem en 14,8% vir die EFF.

Ipsos beskryf die afname in steun vir die regerende party as ʼn “ongewone verskynsel” aangesien die ANC ná 1994 nog altyd meer as 50%-steun in Suid-Afrika gehad het. Die party het egter nie een keer bo 50% in Ipsos se Oktober-peilings behaal nie.

Die jongste bevindings dui ook op ʼn verdere afname in ANC-steun vergeleke ’n peiling wat die maatskappy in September vanjaar gedoen het.

Tydens dié opname is ook bevind dat die ANC heelwat steun oor die afgelope twee jaar verloor het.

Ipsos het sy jongste reeks meningspeilings namens eNCA gedoen en altesame 3 018 telefoniese onderhoude met geregistreerde kiesers gevoer. Die onderhoude is tussen 9 en 14 Oktober (groep 1) en 23 en 27 Oktober (groep 2) gedoen en sluit kiesers van alle agtergronde en ook landelike gebiede in Suid-Afrika in.

Uit die onderhoude met groep een het 25,5% van kiesers nié ʼn party gekies om voor te stem nie en 31% in groep twee.

Respondente het verskeie redes hiervoor aangevoer, onder meer dat hulle nie aan die plaaslike verkiesing gaan deelneem nie en weens wantroue in politici en partye.

Ander respondente was van mening dat deelname aan die verkiesing geen verskil sal maak nie, terwyl ander bloot geweier het om die vraag te beantwoord.

Teëspoed vir ANC, ander partye

“Oor die afgelope aantal jare het nuusberigte die interne twis van verskillende faksies in die ANC uitgewys, asook korrupsie en finansiële probleme in die party.

“Dit is interessant dat opposisiepartye nie voordeel in terme van steun getrek het in die jare wat die ANC moeilikheid ondervind het nie. Nuus oor faksiekwessies, korrupsie en finansiële probleme was egter nie tot die ANC beperk nie.”

Ipsos meen dat alle politieke partye sedert 2019 teëspoed beleef.

“Voeg die Covid-19-pandemie by, die stadige pas van inentings, die kwessies van dienslewering en bestuur in die meerderheid munisipaliteite, beurtkrag en watervoorsieningskwessies en die huidige gejaagde en verskrompelde verkiesingsveldtog, is dit onmoontlik om met sekerheid te voorspel wat die uitkoms van hierdie taamlik morsige en unieke verkiesing sal wees.” Boonop het die pandemie partye se vermoë om grootskaalse verkiesingsveldtogte van stapel te stuur, geweldig ingeperk.

Opkoms van kiesers die bepalende faktor

Uit respondente se antwoorde het Ipsos ʼn model ontwikkel wat drie scenario’s op stemdag identifiseer.

Indien 59% van alles kiesers opdaag om te stem, word dit as ʼn hoë opkoms beskou. ʼn Middelmatige opkoms sal sowat 42% en ʼn lae opkoms – wat minder waarskynlik is – sal 27% wees.

Hoe die politieke partye vandeesweek sal vaar, sal volgens Ipsos grootliks deur dié drie scenario’s bepaal word.

Ipsos meen ʼn laer opkoms sal tot voordeel van die DA wees en die ANC benadeel.

Maroela Media het voorheen ook berig dat ʼn swak opkoms nie net nadelig vir die ANC sal wees nie, maar ook vir die demokrasie.

Dít het gevolg nadat baie minder mense – veral jong mense – geregistreer het om aan vanjaar se verkiesing deel te neem, wat kan aandui dat nuwe toetreders geensins tot die kiesstelsel en demokratiese proses verbind is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

annie ·

Nooit! Wanneer het die ANC van sy ‘planmakers’ onslae geraak? Die prez dra dan nou juis vandag een van oorle prez Mandela se mooi blink hemde. Sies vir julle om nou vir die 2 000 ander partye te stem. So sal die ANC mos nie wen nie… Of dalk juis.

Nie Verbaas ·

Te danke aan ANC se korrupsie, wanbestuur, wanbesteding en onbevoegde lede in hoë posisies. So het julle julself verwoes. Kry vir julle.

Thom ·

Dit is jammer dat soveel mense gewoon net nie gaan stem nie ___ ‘n stem TEEN die ANC is ‘n beter alternatief !

Kokerboom ·

Na bewering ry hul bakkievragte mense na stemlokale in Pta

Di ·

Word seker weer betaal of lee beloftes gemaak om te gaan stem.

koos10 ·

Die vraag is nie of die stemme gaan daal nie, maar eerder of die ANC dit sal aanvaar? Hulle het mos al hoeka bewys dat die land se grondwet vir hulle ‘n bietjie vaag word as dit by party sake kom!

Sarel ·

Moet nie bly word nie…..nou tot die Nasionale verkiesing
Baie tyd om weer stemme te koop met toelaes vanuit
Belastingbetaler se sak…” Basic Income”
Mediese sorg en Grondonteiening gaan nou met rasse
skrede toeneem. Maar geen programme vir
Werksskepping nie

Kobus ·

ANC het reeds voor die verkiesing 16 miljoen stemme. Dit is min of meer die getal mense wat al die toelaes ontvang. CR het mos juis te kenne gegee dat dit gann wegval indien die ANC nie wen nie. Dan het hy mos ook beloof dat Escom onder ANC beheer nie weer beurtkrag sal implimenteer nie. Hy het ook melding daarvan gemaak dat ek sal swanger raak. So,ge-agte ontleders,doen weer ‘n berekening

JohanR ·

Ou Jacob Regop lyk lekker sterk. As hy klaar gestem het is dit 18 putjies golf, en dan zipline iewers?

Barney ·

Julle sal eendag die anc verstaan as julle verstaan dat die anc is nie in guns van die weste nie. Haha.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.