Steve Biko-hospitaal: Stelsel sal wagtydperk drasties verminder

Mense staan Maandag van vroegoggend in 'n ry buite die Steve Biko-hospitaal. Foto: Verskaf

Mense staan al vroegoggend in ‘n ry buite die Steve Biko-hospitaal. Foto: Verskaf

ʼn Nuwe stelsel wat onlangs by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria in werking getree het met die doel om buitepasiënte se wagtyd te verminder, ervaar nog “groeipyne”, het die hospitaal gesê.

Maroela Media het Dinsdag berig sedert die nuwe stelsel verlede week in werking getree het, moet buitepasiënte in die vroeë oggendure glo sonder toegang tot geriewe in lang rye buite die hospitaal staan en wag. Mense wat vroeër vroegoggend opgedaag het, kon onmiddellik by die hospitaal ingaan, waar daar genoeg sitplek en toiletgeriewe was en boonop toegang was tot ʼn koffiewinkel. Lees meer hier.

Dr. Ernest Kenoshi, die hospitaal se uitvoerende hoof, het Woensdag aan Maroela Media gesê die nuwe elektroniese pasiëntvloeistelsel (EPFS) het eers op 21 Augustus in werking getree en ervaar steeds “groeipyne” omdat die stelsel maar nog net ʼn paar dae aan die gang is. “Die stelsel is soortgelyk as die een wat by alle Suid-Afrikaanse Inkomstediens-kantore en takke van die departement van binnelandse sake gebruik word,” het hy gesê.

Volgens Kenoshi worstel die Steve Biko-hospitaal, soos meeste staatshospitale, met die probleem van lang rye en wagtydperke. “Pasiënte het voorheen herhaaldelik in opnames aangedui dat hulle dit verpes om in lang rye by hospitale te wag. Die bestuur van die hospitaal het ag geslaan op ʼn versoek deur die minister van gesondheid en die LUR van gesondheid om met ʼn beter stelsel vorendag te kom om seker te maak dat pasiënte nie meer so lank in ʼn ry hoef te staan en wag nie,” het hy bygevoeg.

Kenoshi het gesê die deure van die buitepasiëntafdeling by die hospitaal het nog altyd Maandag tot Vrydag eers om 07:00 oopgemaak, maar pasiënte het al hoe vroeër begin opdaag en sommiges het selfs so vroeg as 03:00 opgedaag. “Dit is nie duidelik waarom hulle so vroeg opdaag nie, maar die tendens het groot ongerief vir pasiënte veroorsaak en hulle het gekla dat hulle te lank moes wag voordat hulle gehelp word.”

Die hospitaal ontken dat die ry só lank is dat dit deur die parkeergebied, deur die veiligheidshek en tot in die straat strek, soos wat een pasiënt aangevoer het. “In die eerste vier dae was die ry nooit langer as 40 meter nie. Personeel het gereeld met pasiënte in die ry gepraat om die nuwe stelsel aan hulle te verduidelik. Daar word selfs sop bedien aan almal in die ry bedien om hulle warm te hou,” het Kenoshi gesê.

Hy het ook gesê die toiletgeriewe was nog altyd beskikbaar en toeganklik vir almal. Die hospitaal het ook ʼn wagkamer by die hospitaal se hoofingang waar pasiënte kan sit en wag totdat hulle gehelp word.

Kenoshi versoek buitepasiënte om nie op weeksdae vroeër as 06:30 op te daag nie. “Die stelsel is ontwerp om teen 06:30 in werking te tree.” Elke pasiënt ontvang ʼn unieke nommer en dan kan die persoon in die hospitaal sit en wag totdat die nommer geroep word.

Volgens Kenoshi sal die stelsel binne die volgende ses tot agt weke glad verloop, maar dit verg verdere opleiding vir personeel wat met die stelsel werk en samewerking van die pasiënte. “Ons bedank pasiënte en besoekers vir hul samewerking en geduld.”

Volgens Kenoshi het die hospitaal reeds komplimente en waardering vir hul poging ontvang. Hy het gesê die pasiënte sal oor die algemeen baie dankbaar wees dat iets gedoen is om die lang wagtydperk drasties te verminder.

Jack Bloom, koukusleier van die DA in Gauteng se provinsiale wetgewer en voormalige woordvoerder van gesondheid in die provinsie, het aan Maroela Media gesê hy hoop die hospitaal hanteer gou die stelsel se “groeipyne”. Hy sê die hospitaal is onredelik om nie sy deure vroeër oop te maak nie en het bygevoeg die hospitaal moet meer sensitief wees vir die pasiënte se behoeftes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ingrid ·

Ek was Maandag daar en die rye het verby die ingangshek gestaan. Daar is toegang geweier aan almal wat probeer het om die toiletgeriewe te gebruik. Die sop is bedien nadat jy jou nommer binne by ontvangs gekry het. Hopelik sal die stelsel werk maar ek kon geen antwoord kry van die dame wat by ons verbygeloop het oor hoe die situasie gehanteer gaan word.

Christine Breytenbach ·

My pa van 80 jaar was Maandag 12 ure by die hospitaal vandat hy 5 uur daar aangekom het die oggend en 4.30 daar uit nadat hy sy medikasie ontvang het dit is regtig baie erg vir ‘n persoon van 80 om so lank in ‘n ry moet staan hulle sal regtig iets moet doen daar aan oumense se bloeddruk val hulle wil omval van die lankstaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.