Steve Hofmeyr: ‘baken van omgee’, ‘kampvegter’ of ‘politikus’?

Steve Hofmeyr. Foto: Burger Meyer/Maroela Media

Steve Hofmeyr. Foto: Burger Meyer/Maroela Media

Die sanger Steve Hofmeyr voel gevlei om as ‘n “baken van omgee” beskryf te word maar meen hy sal nie onmiddellik die politiek wil betree waar hy “ʼn agterbankuitsig op Julius Malema se sotlike sirkus in die parlement” sal hê nie.

Miljoen Stemme vir Steve, wat oorspronklik in Maart as ’n Facebook-groep gestig is ter ondersteuning van die sanger, het vroeër die week aangekondig dat hy op 15 en 16 Desember ʼn “Boere en Bikers-geloftefees” in die Bothaville-distrik in die Vrystaat aanbied. “Passiewe stilswye oor die moorde op ons plaasboere dui op ongeërgde goedkeuring en Miljoen Stemme vir Steve kan dit nie verder duld nie,” het die organisasie, wat later as ʼn niewinsgewende maatskappy geregistreer is, aangevoer oor die rede vir die byeenkoms. “Die gasspreker sal natuurlik niemand anders wees nie as ons eie baken van omgee, Steve Hofmeyr!”

Maroela Media het in reaksie hierop ʼn onderhoud met Hofmeyr gevoer:

In die lig van die Geloftefees wat gaan plaasvind, dink jy sulke geleenthede is nodig? Is die doel daarvan om bewustheid te skep of eerder om mense moed te gee?

Beide. Napoleon het reeds gesê dat as jy sy wapens afvat en hom net die vlae sou gee, hy die veldslag sou wen. Simbole is soms die laaste ding wat staande bly as jy in klein, minderheidsgroeperings funksioneer. Soos ons, die Boervolk, die Afrikaners, en Afrikaanses doen. Hierdie simbole neem ons dan desnoods ook aan in virtuele formaat, reeds omdat ons fisiese heugenis gevandaliseer word. Wat Paul Kruger (en Jan van Riebeeck – en God en Christus) simbolies vir my doen, staan onaangeraak van die antagonisme daarteen en die verskuiwing, verbanning, redigering of marginalisering daarvan kan dit nie troef nie. Ou nasionalisme is beslis sondebokke, maar sondebokke wat hersien moet word eerder as om uitgegooi te word saam met die baba, die badwater, die bestendigheid, die behoudendheid, die inbors en die braai.

Jy is uitgesproke oor plaasmoorde en sekere politieke kwessies. Dit het in ʼn mate gesorg dat jy gebrandmerk is. Sou jy iets anders gedoen het as dit wat jy die afgelope jaar gedoen het wat betref jou uitlatings en inskrywings op Twitter?

Ek staan hier beginselvas ongeag die finansiële pakslae wat dit my op die hals haal. Dat

  • dit wat ek sê NIE rassisties is nie,
  • dat alle onderskeid tussen rasse, volke, geslagte, groepe nie altyd rassisties is nie,
  • dat die rassegesprek en rassisme nie dieselfde ding is nie,
  • dat rasse bestaan en dat dit nie noodwendig ʼn slegte ding is nie,
  • dat niemand my my vlak van paranoia sal voorskryf in die mees gewelddadige land ter wêreld nie,
  • dat niks my sal maak akklimatiseer aan hierdie naargeestige substandaard nie,
  • dat veralgemening meesal die rokie is wat homself oor ʼn vuurtjie span,
  • dat swartes ʼn kollektiewe verantwoordelikheid het ten opsigte van die lewensverwagting wat hulle oor ander Suid Afrikaners uitspreek,
  • dat swartes oor die algemeen verantwoordelik is vir wie hulle in bewind hou met hul oormag by die demokratiese stembus, en
  • dat ek sonder uitputting sal streef na die universele regte van enige minderheidsgroep se afstig na selfbeskikking en selfstandigheid. My verhouding met ander volke is nie onder verdenking nie omdat ek met alle kleure en geure skouerskuur regoor die wêreld. Maar Suid Afrikaanse swart volke kom met ʼn “custom-built” toe-eieningstrofee, onderskryf deur die siek propaganda dat alles wat jy sien eintlik joune is en dit alles in die afwesigheid van ʼn tradisie van skryf en lees, en daarom konteks, plaasvind. So kan hulle byvoorbeeld die Marxistiese krummels uit Malema se mondhoeke oplek terwyl dit andersins 20 jaar gelede as ideologie liederlik gefaal en agtergelaat is as sogenaamde “redding” vir ontwikkelende lande.

Wat presies is dit van dié kwessies wat jou so na aan die hart lê en hoekom het jy besluit om jou daaroor uit te laat of daarvoor te veg?

Seker maar lewenskwaliteit (wat vreedsaamheid, lewensverwagting en ekonomie insluit) en omdat ek oud genoeg is om te onthou dat mense meer werd is en beter standaarde verdien. Daarby saam word ʼn groep, wat grootliks (95%) deel is van my volk, in volksuitwissende terme verwoes: by name die kommersiële boer. Swygsaamheid hier, is aandadigheid. Dan kring my pleitrede uit na die weeskindstatus wat ons taal, kultuur en tradisies moet geniet en die boeliebewind wat daaroor aangestel is. Onderliggend faal alles daarmee saam, jou ekonomie, jou instellings, jou oorlewing en uiteindelik jou trots. My konserte is klein nostalgiese opeisings daarvan, in ruimtes waar ons weer vrylik kan asemhaal tussen die verse van Die Stem.

In die verklaring word jy beskryf as ʼn “baken van omgee”. Is dit wat jy wil wees of het jy ander ideale in terme van die kwessies waarvoor jy as ʼn kampvegter gesien kan word?

Ek voel gevlei en is dankbaar, en ja, die maatskaplike gegewe is onderliggend aan alles. Maar dit is ook ideologies, kultureel en polities en daarom die aktivisme. Maar dis seker nie vreemd om te baklei vir ʼn mate van selfbeskikking onder ʼn vaandel genaamd “omgee” nie. Polities is ons uitgelewer aan die spektrum opinies onder ons eie mense, ook wit mense in die breë, en in welke mate hulle die Swartbewussynscredo omarm. As jy apartheid voor die voet afskiet as boos, moet jy gewillig wees om voor die voet jou erfporsie en die van jou kinders op daardie altaar te verbrand. Die somtotaal van my studies en lees en navorsing bring my ALLERMINS by die gevolgtrekking dat een nasie, ras en volk die verantwoordelikheid moet dra vir die hele wêreld se nederlae, ekonomiese lamsakkigheid, politieke verlamming en ander antropologiese agterstande. Vir my was die 1992 Gelykbreekpunt, ʼn redelike wegspringplek. Maar ek was jonk en naïef.

Wat is dit wat jy wil sien gebeur in terme van Suid-Afrika en die kwessies wat jy aanspreek?

Ek sien NIE sekere rasse as verhewe nie. Enige groep kan seker enigiets vermag. Dit beteken natuurlik nie alle groepe doen nie. Ek soek minder ontkenning en meer eerlikheid hieroor. Almal by die tafel is effe onder verdenking en sal moet kompromitteer. Ja, ek weet, ʼn kinderlike hersenskim. Daarom verlang ek niks minder as totale selfbeskikking nie, alleen omdat my voormalige grootmoedigheid om JA te stem vir ʼn land wat almal kon deel in my gesig teruggesmyt is en my respek vir alle Suid-Afrikaners uiteindelik niks minder was nie as ʼn dolk in die hart van my volkie (en ras); ek soek duidelikheid oor die definisies van die groot woorde, soos transformasie, bemagtiging, eenheid, regstellende aksie, toegangsvereistes, rassevoorkeurebeleid, sodat ons daar binne kan leer wat van ons verwag word as Suid Afrikaners; ek verlang na die leierskap van my regerings, eerder as die ideologies beheerde mag van ʼn paar sotte; maar my grootste gebed is om nie deur ander nasies regeer te word nie (wat ironies ʼn grondwetlike en universele reg is).

Hoe voel jy oor die kritiek wat jy weens jou uitlatings op die hals gehaal het? Pla dit jou of voel jy “it comes with the territory”?

Dit doen ongelukkig. Maar ek moet ook AL die tekens lees. As ek die Progressiewe Engelse-, Afrosentriese Swart- en Liberale Afrikaanse media moes glo, sou die sing van Die Stem ʼn godskreiende boosheid wees. Maar as ek my kontrakte lees, lui dit so: ons vra u om asseblief te kom sing in Florisfontein ALLEEN as u AL vier verse van Die Stem sal sing….

Dan is daar toenemend die teken dat ek nie net ʼn groter getal opinies onder die Suid Afrikaners verteenwoordig as wat voorgegee word nie, maar moontlik die meerderheidstem het onder Afrikaners self. Baie wil hê ek moet dit polities toets, maar dan wen jy niks minder nie as ʼn uur of wat in ʼn wegwedstryd, op meerderheidsboelies se tuisveld, met ʼn agterbankuitsig op Julius Malema se sotlike sirkus in die parlement. Ek wil eers my tyd op ʼn paar ander plekke mors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

Magda van der Westhuizen ·

Ek wens meer mense wil so standpunt inneem soos Steve. Hy veg vir die AFRIKANER se voorbestaan,ons taal,kultuur en volk. Hy dwing nie sy sienings op enige iemand af nie, moedig nie grondhervorming,taalhervorming(in die geval uitwissing van Afrikaans) soos sekere andere in rooi oorpakke nie,aan nie. Sodra hy dinge in die openbaar sê wil almal hom gesel, maar Malema doen en sê net wat hy wil en dit word daar gelaat. Ek staan agter jou STEVE!!

chris ·

“Daarom verlang ek niks minder as totale selfbeskikking nie..”…. Steve, dankie dat jy begryp wat Afrikaners werklik benodig vir oorlewing en nie bang is om dit openlik te se nie. !

Bruno Stef ·

Dit is goed gese Steve Staan vas voor jou het baie van ons ouer mense n harde stryd gevoer.Dit was jare terug ons siening en sal so bly ( Die Selfbeskikkingsreg van die Afrikanervolk is nie onderhandelbaar nie)

Dollie Joubert ·

Steve is ons man vir die politiek. Wie sal anders na ons Blankes omsien. Dit is nou meer as ooit APARTHEID se skuld, vir elke plaasmoord, aanval ens. dan hoor ons dit is APARTHEID.
Die blankes het al lankal gestop met dit en ons nuwe regering bly dit die skuld gee.
Doodstraf en strenger vonnisse sal dalk ons land kan red. Steve jy is my Ikoon. Elke Blanke Afrikaner staan agter jou. Maak jou stem vir ons dik asb.

Gustav ·

Uitstekend Steve!
Jy is vir ons meer werd as wat enige parlementêre politikus ooit kan wees. Die sirkus is vir die narre. Ons het ‘n volk en ‘n land om te bou.

J Blom ·

1990 as jong polisiekonstabel het ek gedink hierdie Steve Hofmeyer is n probleem, maar vandag is ek te dankbaar vir hierdie “probleem”. Hou so aan broer, jy gee trots wat ons deesdae baie nodig het.

Izzy ·

Enige iemand wat Geloftedag herdenk (wat gaan oor die erkenning van God se genade & beskerming van ‘n volk, op daardie vreeslike dag van 16 Des) het ek respek voor.

Sue ·

Steve, ek het baie respek vir jou! Is al van jou jong dae ñ aanhanger en ek waardeer baie wat jy doen en dat jy so baie verloor terwille van die Afrikaner. Wil net asb een ding vra, selfbeskikking kan nie meer wag nie, dit moes al gister gebeur het. Die afrikaner kan nie nog 20 – 30 jaar wag vir selfbeskikking nie, want dan is ons of almal uitgemoor of land verlaat of in plakkerskampe. Asseblief, selfbeskikking is die belangrikste op die oomblik, die res sal ons opbou soos gewoonlik. Vir 22 jaar word daar al gepraat oor selfbeskikking, maar niks kom tot ñ werklikheid nie. Naas ons Bybel, het ons selfbeskikking die meeste nodig. Asseblief

Oom Jan ·

“alleen omdat my voormalige grootmoedigheid om JA te stem vir ‘n land wat ALMAL kan deel in my gesig teruggesmyt is” … jy slaan die spyker op sy kop, Steve, die reenboog was net ‘n hersenskim en net totale selfbeskikking is die enigste wat vir ons oorbly!!

Siela ·

Dankie Steve dat jy opstaan vir dit waarin ons glo!! Al die pad agter jou!!

Ant ·

Baie dankbaar vir Steve se oortuigings. Ek glo nietemin dat die politiek ‘n doodloop straat is. Ons getalle is eenvoudig te klein. Internasionale regsprosesse met ‘n onderhandelde proses van selfbeskikking is die enigste antwoord.

Rupert Ashford ·

Selfbeskikking? Vra jou self die volgende:

1.) Is jy bereid om Weskus of Orania toe te trek? Die Boererepublieke is uit, vergeet daarvan.
2.) Is jy bereid om van voor af te begin en hard te werk? Ek bedoel met jou eie hande, nie om vir Joseph en Selina te supervise nie.

Selfbeskikking gaan geweldige eise stel. Ons sal niks “kry” nie, ons sal vir alles moet werk. Weet ons waarvoor ons onsself inlaat en is ons regtig bereid om die prys te betaal…

Sarie ·

Die Orania mense al is hulle min is ‘n voorbeeld vir ons. Hulle kry dit reg.

Ant ·

Ja Rupert ek is, en maak reeds so. Om die waarheid te se as jy nie bereid is om voor te begin en uit te kom by wat regtig saak maak in hierdie lewe nie gaan jy sukkel vorentoe, want Joseph en Selina wil he wat joune is, en jou tyd en vermoe om daaraan vas te hou, asof enige van dit jou heil gaan bewerk, word al minder my vriend. Sterkte

Tokkelossie ·

Ek stem heeltemal saam Rupert . Ons kan nie op ons eie oorleef nie . Ons het ander nasies nodig in hierdie land . Ons moet ophou dink dat die land nie sonder ons blankes kan funksioneer nie . Ons moet eerder saam met die ander landsburgers werk om die situasie onder beheer te kry .

Rupert Ashford ·

Ek se nie “nee” vir selfbeskikking nie, inteendeel glo ek ook ons is by die “point of no return ” verby en is die enigste opsie. Maar my vrae was bedoel om ons na realiteit terug te bring. Ons sal self moet werk, en moet trek na ‘n gebied waar ons ‘n meerderheid kan word om so ‘n droom te verwesenlik.

Willie ·

Ek dink dit is baie verwaand van Steve om te dink dat hy ”moontlik ‘n meerderheidstem” onder die Afrikaner het. Jy kan nie so ‘n stelling baseer bloot op ‘n gevoel nie. Sy selfwaan is nie op feite gefundeer nie. Ek moet hom dit toegee, ek het lanklaas iemand teegekom wat so ‘n verwaande opinie van homself het. Dit plaas hom in dieselfde klas as Zuma en Malema.

Willie ·

@jan. Ek het kommentaar gelewer oor Steve se grootheidswaan, nie oor tokomsvisies nie!

Piet ·

Gaan Hofmeyr ‘n groen ‘overall’ aantrek wanneer hy Parlement toe gaan?

Petro ·

Willie, ek dink Steve maak jou bietjie bang ne??? Miskien verstaan jy nie presies WAT hy se nie.
Steve is die ENIGSTE mens wat die moed en durf en deursettingsvermoee het om elke dag na almal (joune inkluis) se negatiewe, afbrekende kommentaar te luister en nog steeds aangaan om reg en geregtigheid en eerlikheid en nasietrots en al daardie moeilike begrippe wat julle liewers onder die mat in wil vee (want saam met dit kom daar n verantwoordelikheid wat swaar op ons skouers rus ) te volhou en voor te veg. Ons het nou n positiewe, intelligente en welbesproke persoon nodig om vir ons te praat. Steve is daardie persoon tensy jy aan iemand beter kan dink.

Bruno Stef ·

Steve die mense wat so negatief kommentaar lewer het jare terug ook die tuie sit en bevuil en vir die kiesers publiek vertel van die Wigte en Teenwigte wat in die grondwet ingebou is.Die oomblik van waarheid het nou aangebreek ons sit in spanning en wag dat dit in werking gestel moet word.Die saak van die behoud van die Afrikaner is groter as ons almal saam.

Piet ·

Gelukkig is Hofmeyr nie die die enigste individu wat kan help om Afrikaners se belange te bevorder of te beskerm nie.

Dirk ·

Ek ondersteun Steve ten volle in sy toekomsvisie. As ek so na die kommentare kyk lyk dit vir my ons kyk te veel na die mens “Steve”. Ons sê ons glo in dit wat in die Bybel staan, maar ons glo nie dat God vir Steve jan gebruik nie. God het al baie gebroke, sondige mense gebruik om Sy volk te lei. Simson het n hoë dunk van homself gehad en Gideon het geen selfvertroue gehad nie. Baie van ons Boereleiers het ook maar hul tekortkominge gehad. God kyk na die hart van Sy kinders. Go Steve Go…

Breytie ·

Vir my is Steve ‘n mens wat op geestelike vlak baie verder gevorder het as meeste van ons. Sy aanvoeling is hoorbaar en voelbaar in sy vermoë om ware menswees te laat leef in sy liedjies; sy diepte is beleefbaar in sy poësie; sy toewyding en lojaliteit is duidelik in sy onbaatsugtige strewe na ‘n beter lewe vir ons volk. Dit alles tesame roep uit dat hy homself asseblief nie moet gaan laat besmeer in die leuenagtige wêreld van die politiek nie.

Afrikaners sal nooit weer polities regeer nie, maar dis ons verantwoordelikheid om geestelik te regeer – en ek verwys nie na godsdiens nie. Ons moet met meer toewyding bou aan ons onderlinge verhoudings, ons moet ons eie gemeenskappe regoor die land sterker maak. Ons moet Steve se voorbeeld volg en diep-denkers word sodat ons die wonderlike potensiaal kan sien wat oop voor ons lê as ons maar net wil kyk.

Breytie Breytenbach ·

Nou dink ek daaraan: in ‘n tyd nadat ons volk neergeslaan was deur ‘n wrede en lafhartige empire wat laag genoeg gedaal het om vrouens en kinders in kampe te laat doodgaan van ellende en plase afgebrand het omdat hulle dit nie as soldate kon regkry om ‘n oorlog te wen nie, toe was dit Afrikaanse digters soos Eugene Marais, Leipoldt en baie ander wat die inspirasie gebring het en almal laat glo het aan ‘n toekoms wat die moeite werd sou wees. Liedjieskrywers het die FAK sangbundel vol geskryf met vrolike en inspirerende werke terwyl die politici onder mekaar geredekawel het en iemand soos Jan Smuts sy rug gedraai het op sy volk en sy gesin. Nou is ons weer daar, ons smag na die inspirasie van digters en sangers van die kaliber van Steve Hofmeyer en ander. Los liewer die geteem oor “waarom het jy my verlaat” en laat ons hoor hoe ons kan opstaan, kan beter word, kan “carpe diem” elke dag te midde van die gemors rondom ons. Lank terug het iemand vertel van ‘n situasie in Berlyn toe die vrede gesluit is en die hele stad in puin geskiet is deur die geallieerdes. Te midde van die rommel het ‘n blom oopgegaan en iewers het iemand begin viool speel. En vir die skrywer het ‘n nuwe toekoms sy vriendelike gesig gewys.

Dis waar ons nou moet wees.

Rex ·

Dit is wat gebeur as jy, as middeljarige, kwynenede sanger, media aandag soek.

Peet J ·

Ai Steve my hart klop sommer lekker nadat ek jou kommentaar gelees het!! Ek ondersteun ANT. se standpunt ook bly maar voorlopig uit die politiek, soos ek verstaan maak die Grondwet wel voorsiening vir selfbeskikking. Die punt is jy sal omtrent 90% steun van die Afrikaners agter jou moet hê Ek hoop en vertrou dat die Almagtige God jou die nodige verstand en leiding sal gee die plae is besig om hierdie land te verteer.

Alida ·

Sjoe Rex en Willie, ek neem aan jul is gemaklik met die omstandighede in ons land? Steve is vir ons inspirasie, iemand wat weer trots aanwakker om Afrikaans te wees.

Poplap ·

Jammer om te hoor dat jy iemand nodig het wat jou moet aanspoor om trots en Afrikaans te wees Alida.

Willlem ·

Talk is cheap… al steve se gepraat doen niks aan ons benarde posisie nie. Ja, miskien kry sommige van julle ‘n warm gevoel, maar dit gebeur ook as jy jou broek natmaak. Sorrie Steve, maar voordat jy nie iets daadwerkliks doen nie, bly jy maar net ‘n has-been sangerkie.

Arnold de Beer ·

Ek het min of meer die selfde “vraag” daar by MSVS geplaas gister. Die reaksie was oordonderend. Soveel so dat hulle my nou geblok het. Persoonlik hou ek van Steve vir die eenvoudige rede dat hy bewys het dat die Volk wel kan saamstaan, en ook vir sy politieke oortuigings.
Ongelukkig is die MSVS FB blad deur Wanna be’s en libeberaliste besmet. Hulle ontbinding gaan nie meer lank neem nie. En dan sien ek ook dat die “Stemme” daar net so vinnig daal as wat dit gestyg het.

Zirk ·

Ek het lanklaas gelees of gehoor hoe enigiemand so digterlik en met so ‘n ryke taalgebruik ons land se huidige toestand so skerpsinnig kon beskryf nie. Dis vir my bewonderingswaardig. Ek wil net verder byvoeg, dat in stede van die veelgeroemde reënboogland wat dit alias Tutu, moes wees, is ons in der waarheid ‘n granaatland. Enkele stroopsoet (blanke) enklawes, omring deur ‘n labirint van bitterheid. Ek is nogal teleurgesteld in sekere lamsakkige lesers wat met hul mees uitputtende breinstorm, altyd net vir Steve wil verkleineer. Maar nouja, hulle was deur al die eeue altyd daar.

Leeutjie ·

Zirk ek stem 100% saam met jou!! Ek wonder of hulle wel Steve se ryke taalgebruik en skerpsinnigheid verstaan! Hy probeer tenminste en skuil nie agter agterbakse kommentaar in ‘n koerantjie waar hulle floreer met kritiek nie… Soos jy se…diesulkes moet daar seker ook wees ne?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.