Steve Hofmeyr gebroke ná broer se dood

Steve Hofmeyr het dié foto’s van sy broer op Facebook gedeel.

Die bekende musikant en skrywer Steve Hofmeyr en sy familie is in rou gedompel ná die skielike afsterwe van sy broer Johann “Goose” Hofmeyr.

Johann (56) is Dinsdagmiddag by sy huis oorlede. Steve het aan Maroela Media gesê sy broer was besig om te herstel ná ʼn beroerte wat sy gesondheid afgetakel het.

“Hy het sowat ʼn jaar en ʼn half gelede ʼn beroerte gehad en dit het sy hartfunksie geweldig beïnvloed. Sy voorland was om baie rustig by die huis te bly en nie te aktief te wees nie. Ek kon sien dit het hom gegrief, want hy was nie ʼn ou wat daarvan gehou het om stil te sit nie.

“Hy het gistermiddag teruggestap in die huis om iets te kry, en het daar inmekaar gesak.”

Volgens Steve is Johann in die ambulans dood verklaar.

Steve is die oudste van vyf broers, van wie Johann die tweede oudste broer was. Johann word deur Steve beskryf as “die stil Hofmeyr”. Hy laat sy vrou, Teresa, en sy dogter, Clarise, agter.

“Dit is vir ons almal baie swaar. Dit gebeur heeltyd om ons, maar jy dink nooit dit gaan met jou gebeur nie. Selfs al is daar waarskuwings en jy weet iemand is nie gesond nie, is jy steeds nie daarop voorbereid nie.”

Volgens Steve vind die begrafnis volgende naweek plaas.

“Ons gesin dink aan Teresa en Clarise, maar ook aan my ma. Geen moeder moet ʼn kind so groet nie. Ons harte is gebreek,” sê Steve.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sonblom ·

Innige simpatie aan die hele Hofmeyr familie. Om te sien iemand is siek maak dit nie makliker nie.

Di ·

Baie hartseer! Sterkte aan Steve en sy hele familie. Mag ons Vader julle dra deur hierdie moeilike tyd

Sonneblomkind ·

So hartseer! Sterkte aan Steve en sy hele familie. Mag ons Vader julle dra deur hierdie moeilike tyd.
Ons dra julle op in ons gebede en bid vir vertroosting.

Harley Davidson ·

Ons innige Simpatie aan Steve ‘n groot afrikaner leier en sy familie.

Nettie ·

Diepe meegevoel met julle verlies. Mag God julle almal toevou in Sy troos en Liefde, veral julle Moeder.

Wit Leeu ·

Sterkte aan die hele Hofmeyr familie. Die Here sal voorsien !

Hector ·

Ook van Vlaandere af my innige simpatie aan die hele Hofmeyr familie! Hector xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.