Steve se ‘apartheid-twiet’ het nie swart mense aanstoot gegee nie, hoor hof

Conrad Koch en sy buikspreekpop Chester Missing. Foto: LeonieWagner op Twitter.

Conrad Koch en sy buikspreekpop Chester Missing. Foto: LeonieWagner op Twitter.

Steve Hofmeyr se twiet dat swart mense die argitekte van apartheid was, het nie swart mense aanstoot gegee nie, het die Randburg-landdroshof Donderdag gehoor.

Hofmeyr doen aansoek om ʼn interim beskermingsbevel teen Conrad Koch permanent te maak. Koch staan die aansoek teen.

“In my gepubliseerde rubriek voer ek aan dat die sogenaamde apartheid-twiet deur Steve nie swart mense aanstoot gegee het nie… dit het wit liberales aanstoot gegee,” het Dan Roodt, wat Hofmeyr verteenwoordig, aangevoer. Roodt het ʼn gedeelte van die rubriek aan die hof voorgelees.

Landdros Naren Sewnarain het Roodt gevra of Steve se twiet op teistering neerkom. Wetgewing rakende teistering maak voorsiening vir ʼn beskermingsbevel teen teistering. Roodt het gesê dit is oop vir interpretasie en dat dit moeilik is om die twiet verder te verduidelik. “…maar mnr. Hofmeyr het dit in minder as 140 karakters verduidelik,” het Sewnarian gesê.

Roodt het aangevoer dat Hofmeyr “…go figure” aan die einde van die twiet geskryf het. Volgens Roodt het Hofmeyr ook aangevoer dat apartheid ʼn misdaad teen die mensdom was voor 1994. “Hofmeyr het aangevoer dat almal wat deel gehad het in die Suid-Afrika van voor 1994, deur tuislande en so aan, deels verantwoordelik is vir apartheid, ongeag van ras.”

Roodt het aangevoer dat daar ʼn permanente bevel teen Koch gemaak moet word. “Indien dit nie toegestaan word nie, sal daar ʼn storm van verontwaardiging teen Hofmeyr wees oral waar hy gaan weens die respondent se gedrag op sosiale media en oral anders,” het Roodt gesê. Steven Budlender, Koch se regsverteenwoordiger, sal volgende aanvoer hoekom die bevel nie permanent gemaak moet word nie.

Klik hier om die verloop van gebeure op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.