Steyn breek wéér harte

Morné Steyn (argieffoto) (Foto: GB Jordaan)

Die Bulls-bestuur gaan seker planne beraam om Morné Steyn se kontrak met nog ʼn paar jaar te verleng, want ʼn mens kry die gevoel dat die immergroen losskakel selfs in sy veertigs nog wedstryde vir sy span kan wen.

Steyn se geleerde skopvoet kon vandag weer eens die verskil tussen wen en verloor wees toe hy in die 78ste minuut van die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd tussen die Bulls en Edinburgh op Loftus Versfeld stelling agter die skopkelkie ingeneem het.

In só ʼn geval is die somme eintlik eenvoudig: strafskop + Steyn = drie punte. Oudergewoonte het die voormalige Springbok nie teleurgestel nie en die tuisspan het ʼn aksiebelaaide kragmeting met 33 – 31 in Pretoria gewen.

ʼn Kort rukkie ná Steyn se heldedade het Henry Immelman hom probeer nadoen, maar die Upington-boorling se strafskoppoging was mis en Edinburgh moes noodgedwonge die aftog blaas.

Diegene wat egter geglo het dat die Europese spanne op ʼn warm Septemberdag in Suid-Afrika sal sukkel, sal weer moet dink.

Edinburgh het beslis die kwik op Loftus Versfeld laat styg en die Bulls moes sweet om die Skotse span in toom te hou.

Darcy Graham is ʼn driedrukmasjien en hy het drie keer die tuisspan se verdediging aan die slaap gevang.

Trouens het die ganse Edinburgh-span ʼn bedreiging ingehou en dit was so ʼn hittete of die doedelsakke het op Loftus geblêr.

Maar dankie tog vir Steyn, Marcell Coetzee, Cornal Hendricks en Elrigh Louw. Die Bulls weet steeds nie van verloor nie; selfs al moes hulle dié keer diep delf om met die louere weg te stap.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Johan Grobbelaar, Elrigh Louw, Cornal Hendricks en Stravino Jacobs. Doelskoppe: Chris Smith (2). Strafskoppe: Smith (2) en Morné Steyn.

Edinburgh: Drieë: Charlie Savala, Darcy Graham (3) en Damian Hoyland. Doelskoppe: Mark Bennett (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.