Steyn wakker, haal self asem ná ongeluk

Steyn Steenberg en sy suster, Karla, voor die ongeluk. (Foto: Verskaf)

Steyn Steenberg, die gr.10‑leerder van Hoërskool Garsfontein in Pretoria wat ʼn week gelede by die dood omgedraai het ná ʼn ernstige motorfietsongeluk, kon vandag vir die eerste keer in sy hospitaalbed regop sit.

Die 16-jarige Steyn word steeds in die waakeenheid van die Netcare Unitas-hospitaal behandel.

Jacques Steenberg, Steyn se pa, sê die ventilator is gistermiddag omstreeks 12:00 verwyder en sy seun kan nou heeltemal op sy eie asemhaal. Intussen ontvang Steyn ook fisioterapie en is hy die afgelope naweek gehelp om regop aan die kant van sy bed te sit.

“Hy het maar nog baie seer en hy beweeg moeilik, maar blykbaar druk die fisioterapeute hulle nogal om te vorder. Hy doen so goed, maar hy is maar nog lam en pap. Hy is deur verskriklike trauma – ʼn week gelede was hy amper dood,” sê Jacques.

Maroela Media het vroeër berig Steyn het ernstige beserings opgedoen toe hy op Moedersdag sowat ʼn kilometer van sy ouerhuis teen ʼn staalversperring gebots het. Al drie sy hoofslagare in die been is tydens die ongeluk afgesny. Sy beserings was van só ʼn aard dat dokters tussen sy lewe en sy been moes kies, en sy been is gevolglik geamputeer.

Steyn se longe het ook kort na die ongeluk platgeval en sy bekkenbeen is tydens die ongeluk gebreek.

Volgens Jacques kan Steyn nog nie praat of sluk nie weens die asemhalingspyp wat in sy keel was, maar kommunikeer hy deur sy kop te knik. Sodra hy weer kan sluk, sal die voedingspyp in sy neus ook verwyder kan word.

Christa en Jacques Steenberg in die hospitaal. (Foto: Tania Heyns)

Steyn is egter heeltemal by sy bewussyn en nou deeglik bewus van sy been wat geamputeer is.

“Hy lyk vir my bietjie emosioneel vandag, maar dit is eintlik op ʼn vreemde manier goed, want dit wys vir my hy verstaan werklik wat om hom aangaan.”

Hoewel Jacques en sy vrou, Christa, verheug is oor Steyn se vordering, weet hulle daar lê nog ʼn lang herstelpad vir hom voor. Die ondersteuning en gebede wat van oral instroom, is egter meer as wat hulle ooit kon verwag.

“Dit is regtig merkwaardig. Toe ek die Facebook-blad begin het waarop ek Steyn se vordering deel, het ek dit eintlik gedoen as ʼn tipe dagboek vir hom, sodat hy later wanneer hy beter is, kan lees waardeur hy is. Nooit het ons gedink dit sal so groot gaan nie. Hierdie tragedie het nou ontaard in ʼn verhaal van ’n gemeenskap wat bymekaarkom en uitreik na ’n jong seun en sy gesin wat ondersteuning nodig het,” sê hy.

“Vandag is ons net dankbaar dat ons seun weer teruggee is om nog ’n rukkie op aarde saam met ons te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

anni ·

Jy sal wonderbaarlik herstel en presteer, jy is nog baie jonk. Kyk Wat het Oscar vermag. Vandag se tegnologie is uitstekend. Een van die dae lees ons van n ene Steyn Wat rekord geswem het. Ek Hou jou dop hoor. Mooi pad vorentoe,vir jou gesin ook.

Netso ·

Mag jy baie vinnig gesond word. My man was drie dae saam met jou in Multicare ICU en ek het voor die deur gesit en vir julle almal daarbinne gebid. My man is bly om uiteindelik uit te wees. Hoop dit is gou-gou ook vir jou in die vooruitsig.

Helena. ·

Wonderlike nuus!!! Almal wat bid moet aanhou bid vir die jong seun..glo en vertrou op die Groot Geneesheer. Voorspoed in die toekoms en sterkte aan die ouers en suster..

Elsabie ·

Awesome nuus!! Baie sterkte vorentoe!! Hou aan bid en glo!! God is groot!

Steyn ·

Bid vir jou alle beterskap toe, Steyn! ons is bly om te hoor dit gaan beter. Hou net moed. Vat dit 1x dag op ‘n slag. Dit gaan nie ‘n maklike pad wees om te stap nie maar onthou dat God in beheer is. Vandag, en altyd. Hierdie ouma sal vir jou bid. :)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.