Stiefma ‘jammer’ ná SA-tiener in Mauritius sterf

Marietjie Vosloo (Skermskoot uit TéléPlus se video)

Marietjie Vosloo, stiefma van die Suid-Afrikaanse tiener Mundolene Vosloo (17) wat in Oktober 2016 in Mauritius dood is kort nadat sy en haar stiefma in ʼn rusie betrokke was, is vandeesweek in ʼn hof in Mauritius skuldig bevind aan aanranding.

Landdros Navina Parsuramen het volgens die nuuswebwerf lexpress.mu glo in sy uitspraak gesê hy is nié oortuig dat Vosloo skuldig is aan ʼn ernstiger aanklag van aanranding met die doel om te moor nie. Volgens hom is daar steeds nie ʼn duidelike verband tussen Vosloo wat vir Mundolene geslaan het en die oorsaak van die 17-jarige se dood nie.

Parsuramen het gesê hoewel dat dit volgens die nadoodse ondersoek duidelik is dat Mundolene wel geslaan is, is daar nie bewyse dat Vosloo besef het dat Mundolene sou sterf of dat sy die bedoeling gehad het om haar te vermoor nie. Hy het gesê tekens van Phenytoin in haar maag wek ook vrae of Mundolene nie moontlik ʼn stuiptrekkingsaanval ten tyde van haar dood gekry het nie. Phenytoin is ʼn middel wat gebruik word om stuiptrekkings te beheer.

Mundolene Vosloo

“Die hof bevind dat die staat nie bo redelike twyfel kon bewys dat Vosloo vir Mundolene geslaan het met die doel om haar te vermoor nie,” het hy gesê.

Vosloo het ná die uitspraak aan die hof om verskoning gevra en versoek om by haar 11-jarige seun in Suid-Afrika aan te sluit. Sy is al langer as 530 dae in ʼn tronk in Mauritius.

Zaredhin Jaunbaccus, vir Vosloo, het aan die hof gevra dat sy ʼn boete in plaas van tronkstraf opgelê word.

Vosloo het buite die hof aan die televisiekanaal TéléPlus gesê sy kon nie voorsien wat gebeur het nie, en het uit woede opgetree. “Wat gebeur het, was ʼn fout. In ʼn oomblik wat jy kwaad of seergemaak is doen jy dinge wat jy nie bedoel het om te doen nie. Dit was nooit my bedoeling om haar te slaan nie, dit het net in ʼn oomblik van woede gebeur sonder dat ek gedink het.”

Oor haar versoek aan die hof het sy gesê: “Ek het hulle [die hof] om verskoning gevra vir wat ek gedoen het. Ek het ʼn 11-jarige seun tuis. Sy pa werk nie in Suid-Afrika nie en nou betaal ons ʼn oppasser om na hom te kyk omdat daar nie familie is wat na hom kan omsien nie. Ek wil regtig net huis toe gaan om by my seun te wees. Ek is baie lief vir my familie en ek behou kontak met hulle. Ek sal hulle bel en weer met hulle praat sodra ek weer by die tronk aankom.”

Mundolene Vosloo.

Sy het aan die televisiekanaal gesê sy leef nog daagliks met skuldgevoelens, maar dat sy dankbaar is aan die ondersteuning wat Mike Vosloo, haar man, aan haar bied. “Ek leef elke dag met skuldgevoelens. Ek was vir haar [Mundolene] lief asof sy my eie dogter was; al was sy nie my eie dogter nie, ek het haar as my eie beskou. Ek het dus ook ʼn kind verloor. Mike is elke dag daar vir my.  Hy ondersteun my en hy het vir my gesê hy weet ek is nie skuldig nie; ek het haar nie vermoor nie. Hy is daar vir my, hy help my en het nog nooit sy rug op my gedraai nie.”

Vosloo sal na verwagting Maandag gevonnis word.

Maroela Media het vroeër berig Mundolene is by die Hotel Riu Creole in Le Morne dood. Sy was saam met haar pa [Mike], stiefma [Vosloo] en twee broers met vakansie. Sy het die aand inmekaargesak en ʼn dokter by die hotel het haar ondersoek voordat sy dood verklaar is. Die polisie was kort hierna op die toneel en dit het glo aan die lig gekom dat Mundolene en haar stiefma in ʼn rusie betrokke was. Vosloo het Mundolene na bewering geslaan en sy is in hegtenis geneem. Vosloo is sedertdien in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ekke

Sjoe.

Adriana

Jammer maar mens klap nie iemand op of teendie kop nie en dit nogal gereeld.Wat se ‘liefde’ is dit?

Dink vir jouself

ok – het die mense nou nog nie geleer dat om jou hand te lig vir n ander persoon kan jou letwel in baie groot moeilikheid laat beland nie?? ek se nie die stiefma is skuldig nie maar hell, jy kan n mens hoe hard slaan/ klap dat die persoon iets beskadig of jy kan n persoon hoe sag slaan/klap en iets beskadig ewen dood maak sonder dat jy dit besef n mens kan met mekaar speel ” rof stoei” n persoon kan verkeerd val en dan is die persoon of bitter erg seergemaak of dood. mense moet bietjie begin… Lees meer »

Ekke

Wel ek hoop jy beheer jou woede in die vervolg.omrede dit weer kan gebeur.en dit dalk jou eie kind so hard klap!!! Ek is jammer.vir jou 11 jarige seun .en jy dan alleen by hom .terwyl sy pa buite SA werk ..

Gesiggie

Ek voel regtig so jammer vir jou, dit is die eerste keer wat ek die berig lees… hoe moet jy nou hierdie mense oortuig dat jy dit nie gedoen het omdat jy Mundolene wou doodmaak, maar dat jy dit uit woede gedoen het want ek weet hoe dit kan gaan tussen n stief Ma en Stief dogter… daar is altyd verskille… ek is so jammer dat so iets moes gebeur? en ja almal sal nou dink, jy het dit bedoel? maar as jy onskuldig is bly veg tot die einde…sodat jy daar uit kan kom om weer jou Familie en… Lees meer »