Stiefpa sit lank na verkragting

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 39-jarige Man van Mpumalanga wat sy twee stiefdogters verkrag het terwyl hul ma by die werk was, is Dinsdag in die Nelspruit-streekshof gevonnis.

Die man, van Pienaar naby Nelspruit, se naam mag nie bekend gemaak word nie om die identiteit van die meisies te beskerm. Die meisies was onderskeidelik vyf en 13 jaar oud toe hulle verkrag is.

Hy is tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy Vrydag skuldig bevind is op twee aanklagte van verkragting, het ʼn Sapa-korrespondent berig.

Die man het Dinsdag, tydens die betoë vir versagtende omstandighede, sy prokureur afgedank en gesê daar is niks wat hom aan die verkragtings bind nie. “Ek wil nie hê ʼn prokureur moet my verder verteenwoordig nie,” het die man gesê. “Ek wil appelleer teen hierdie skuldigbevinding.”

Landdros Willie Wilkins het aan die beskuldigde gesê hy kan slegs sy aansoek om verlof tot appèl toestaan nadat die vonnis uitgespreek is.

“As die meisies se stiefpa moes jy hulle beskerm het, maar jy het teen hulle gedraai en hulle verkrag. Jy het geen berou getoon oor dit wat jy aan die meisies gedoen het nie,” het Wilkins gesê. “Boonop het jy die meisies ook nie net een keer nie, maar ʼn paar keer verkrag toe hul ma nie teenwoordig was nie. Ek vind geen gronde vir ʼn ligter vonnis nie.”

Wilkins het gesê verkragtingsake waar stiefpa’s en oupas die oortreders is, kom gereeld voor. “Daar is nie ʼn maand wat verbygaan sonder een só saak nie,” het hy gesê.

Die man se naam word ook op die lys van seksuele oortreders bygevoeg.

Die man se aansoek om verlof tot appèl is toegestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.