Stiefpa vas oor moord van driejarige

Argieffoto (Foto: Pixabay)

ʼn 29-jarige man beweer hy was onder die invloed van alkohol toe hy glo sy meisie aangerand en sy driejarige stiefkind vermoor het.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het in Esigangeni in Nongoma, KwaZulu-Natal, plaasgevind.

“Hy was langer as ʼn maand voortvlugtig en kon sy oë nie glo nie toe die polisie by sy nuwe huis in Cottonlands in Verulam opgedaag het. Hy is in hegtenis geneem op aanklag van moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy sal Dinsdag in die Nongoma-landdroshof verskyn.”

ʼn 22-jarige vrou, haar dogtertjie en haar kêrel was op 10 Desember 2019 by hul huis toe die man en vrou begin baklei het. “Die man het gewelddadig opgetree en die vrou aangerand. Hy het die kind herhaaldelik op die vloer geslaan. Alhoewel die vrou gehuil en by hom gepleit het om op te hou, het hy aangehou om die kind aan te rand totdat die kind bewusteloos was. Hy het daarna dadelik die huis verlaat,” het Naicker verduidelik.

Die driejarige en haar ma is na ʼn plaaslike hospitaal geneem, maar die dogtertjie het aan haar beserings beswyk. “Toe die verdagte hoor die kind het gesterf en dat ʼn saak van moord ondersoek word, het hy die gebied verlaat en weggekruip in die hoop dat niemand hom sou vind nie. Sy nagmerrie het Sondagoggend om 03:00 ʼn werklikheid geword toe polisiebeamptes van Verulam by sy nuwe huis opgedaag en hom in hegtenis geneem het.”

Lt.genl. Khombinkosi Jula, provinsiale polisiekommissaris, het beamptes van Verulam geloof dat hulle so vinnig op ʼn wenk reageer het wat tot die inhegtenisneming gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.