Stiefpa, vriend in hof vir moord op minderjarige

Argieffoto

Twee mans het Maandag in die Bultfontein-landdroshof in die Vrystaat verskyn nadat hulle glo ʼn 11-jarige meisie vermoor het. Een van die mans is die meisie se stiefpa.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die stiefpa, Tshidiso Molefi (30), en sy vriend, Joseph Ramakhala (26), se hofsaak is eers uitgestel en hulle sal na verwagting weer op 4 September in die hof verskyn.

Makhele vertel die meisie, Lerato Nkenjani, se liggaam is op 13 Augustus langs die R708-pad in Phahameng, Bultfontein, gevind nadat sy vir haar ouma in Phahameng gaan kuier het.

Haar hande en bene was met draad vasgebind. “Dit wil voorkom asof dit dieselfde draad is waarmee sy verwurg is,” sê Makhele.

Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris in die Vrystaat, het die taakspan wat bestaan het uit speurders van Lejweleputswa en lede van die Bultfontein-polisie, geloof vir hul harde werk om die moordsaak so vinnig op te los.

“Verder bedank ons ook die lede van die Phahameng-gemeenskap vir al hul pogings om ons te help met waardevolle inligting wat ons in staat gestel het om die moontlike skuldiges in hegtenis te neem,” sê Motswenyane.

Intussen is nog ’n minderjarige meisie se liggaam aan die begin van die maand in ’n beskadigde gebou in ’n openbare park in Phahameng, Bultfontein, gevind. Lede van die gemeenskap het op 1 Augustus om 08:00 op dié liggaam afgekom. Die liggaam is later geïdentifiseer as die 15-jarige Tshepo Diphoko.

Makhele sê ’n voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat sy ’n dag voor haar dood die laaste keer saam met haar 18-jarige kêrel by sy woning gesien is.

“Nadat die liggaam ondersoek is, is vingermerke op een van haar bene gevind. Sy het ook talle kneusplekke gehad. Dit lyk asof iemand haar geweldadig rond geruk en pluk het.”

Die kêrel is vir ondervraging na die polisiestasie geneem. Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.