Stigter van Zuma-trust kry R406 miljoen-vlootkontrakte

Southern African Shipyards Foto: Facebook

Southern African Shipyards Foto: Facebook

ʼn Stigter van die Friends of Jacob Zuma-trust is voorsitter en mede-eienaar van ʼn maatskappy wat vlootkontrakte ter waarde van R406 miljoen ontvang het, berig die Sunday Times.

Don Mkhwanazi ontken dat sy verbinding aan die president enigiets te doen het met die toeken van kontrakte aan ʼn maatskappy waarvan hy 48% aandele besit.

“Die president ken nie tenders toe nie,” het Mkhwanazi skriftelik aan die Sunday Times gesê. “Enige verhouding met die president kan nie gekoppel word aan enige kontrakte wat deur ʼn openbare tenderproses toegeken is nie.”

Die koerant berig dat die departement van verdediging skipinstandhouding en -herstelwerk uitgekontrakteer het aan Southern African Shipyards, die privaat maatskappy waarvan Mkhwanazi mede-eienaar is. Die maatskappy het glo die afgelope drie jaar ses multi-miljoen rand se kontrakte ontvang.

Transnet het in Augustus ook ʼn kontrak ter waarde van R1.4 miljard aan Southern African Shipyards toegeken vir sleepbote.

Mkhwanazi, wat al sedert 2006 ʼn aandeelhouer in Shipyards is, was tussen 2010 en 2012 ʼn direkteur by Transnet. Hy het gesê die sleepboot-kontrak is aan die maatskappy toegeken twee en ʼn half jaar nadat sy termyn as direkteur van Transnet verstryk het.

Intussen berig die Sunday Times dat slegs een van die vier frigatte en een van die drie duikbote wat tydens die land se wapentransaksie gekoop is, steeds operasioneel is. ʼn Kommissie, onder leiding van regter Willie Seriti, ondersoek tans bewerings van korrupsie tydens die omstrede multi-miljard rand se wapentransaksie uit 1999. Die regering het onder andere 26 Gripen-vegvliegtuie vir die lugmag en frigatte en duikbote vir die vloot aangekoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.