Stilbaai-moord: Vrou by man se lyk in kamer toegesluit

Johan en Christa Ungerer.

Christa Ungerer (61) het by haar man se liggaam gesit nadat hy vermoor is en sy het hom belowe sy sal sy moordenaars vind.

Die familie van Johan Ungerer (66) het nou ʼn beloning van R10 000 uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van sy moordenaars.

Juanita Leask, die egpaar se dogter, sê hulle hoop haar ma se unieke trouring wat ná die moord gesteel is, sal kan help om die skuldiges vas te trek. “As daai ring by ʼn pandjieswinkel verkoop word of êrens uitkom, sal dit kan help om die verdagtes op te spoor.” ʼn Gedenkdiens is Vrydag vir Ungerer gehou en hy word Maandag veras.

Die Ungerer-egpaar is laat Maandagaand in hul huis in Stilbaai oorval. Die aanvallers het toegang tot die huis verkry deur die glas van ʼn venster te verwyder. Volgens Leask het al die huis se vensters diefwering voor behalwe ʼn paar lang en nou vensters met aluminiumrame.

Die egpaar het in hul kamer geslaap toe die lig in die kamer skielik aangeskakel is. “Daar was drie aanvallers en twee van hulle was onmiddellik op my pa terwyl die ander een my ma begin slaan en ʼn skroewedraaier teen haar kop gehou het. My pa het baklei.” Die aanvallers het ook ʼn mes en ʼn vuurwapen by hulle gehad.

“Die aanvallers het blykbaar twee keer vir my pa gevra hoekom hy terugbaklei voordat hulle hom in die nek gesteek het.”

Christa se hande is agter haar rug vasgebind waarna sy vir haar man se moordenaars al die waardevolle items in die huis moes uitwys. Hulle het onder meer skootrekenaars, al Christa se juwele en geld gesteel.

Terwyl die aanvallers die huis geplunder het en heeltyd met Christa rondbeweeg het, het sy in ʼn stadium gehoor hoe haar man in die slaapkamer roggel. Sy het later gesien hy lê op die vloer en daar word vermoed hy het uit die bed probeer opstaan.

Die aanvallers het hierna vir die bakkie se sleutel en ʼn afstandbeheer vir die motorhuis gevra. Daar was ook ʼn nuwe BMW X5 in die motorhuis, maar volgens Leask het hulle nie daarin belanggestel nie.

Christa is toe by haar man se liggaam in die kamer toegesluit nadat hulle ook haar voete vasgebind het.

“Sy het by my pa gesit en vir hom jammer gesê omdat sy hom nie kon red nie en hom belowe sy sal sy moordenaars vind.”

Die polisie het nie onmiddellik geantwoord toe Christa gebel het nie. Sy kon uit die kamer kom en het by ʼn venster uitgeklim waarna sy om hulp geskree het. Sy het weer die polisie gebel en hulle was vinnig op die toneel.

Die egpaar se bakkie is later verlate op die Stilbaaipad gevind. Volgens Leask het haar ma nie enige van die aanvallers herken nie.

“Hierdie soort goed gebeur nie in Stilbaai nie en dit is juis hoekom my ouers van Gauteng af hiernatoe gekom het nadat my pa ook al twee keer vantevore die slagoffer van gewapende rooftogte was.”

Leask en haar broer Gerhard woon albei in Pretoria waar hulle ʼn vulstasie wat aan hul pa behoort bestuur. Volgens Leask was haar pa egter steeds bedrywig en het hy eiendomme gebou en dus baie werkgeleenthede in die gemeenskap geskep.

Enigiemand met inligting word versoek om sers. Ludwig Schnetler by 028 754 6100 of 079 894 1593 te bel of ao. Tekkie Grebe by 082 469 6752.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Strandloper

My hart bloeie vir dit en my bloed kook!

Kaptein

Ek is so geskok. Ek en Johan het soveel jare altyd gesels as ek my kar gaan was het by die vulstasie of hout gaan koop het of as ons mekaar iewers raak geloop het. Ek bid die Here se vertroosting toe aan sy Familie.
Baie sterkte vir julle.
Ek dink aan julle

Persheks Adri

Hierdie is ‘n land van moord en dood elke dag! Sterkte aan die familie en vriende mag God julle dra in die moeilike tyd!

Kokkie

My innige simpatie aan Christa, Juanita en Gerhard. Mag die Here julle vertroos.

JohanF

Baie tragies, weereens my simpatie aan die familie, so ń rustige mooi dorpie, ek tree volgende jaar daar af, gaan tans 1x pm.
Dit is bardare van buite, begin nou kleiner plekkies teiken, ek verneem selfs hengelaars, tot Valsbaai, Muizenberg kan nie meer alleen hengel nie…. Diefwering en alarms is ons voorland, enige plek.