Stilfontein-skietery: ‘Ons lewe het onherroeplik verander’

Francois van Heerden. Foto: Verskaf.

“Op Sondag 10 Junie het ons lewe onherroeplik verander.” Só sê die familie van Stilfontein in Noordwes in ʼn verklaring ná ʼn pa en seun van dié gesin Sondag in ʼn skietvoorval omgekom het.

Die gemeenskap van Stilfontein in Noordwes is geruk ná die voorval waarin ’n geliefde dominee (63) op die dorp glo sy 31-jarige seun en daarna homself doodgeskiet het.

Kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het Maandagoggend aan Maroela Media bevestig dat die polisie Sondag omstreeks 14:45 na die toneel by ’n huis op die dorp uitgeroep is.

“Die polisie vermoed in dié stadium dat die pa die seun doodgeskiet het en toe die vuurwapen op homself gerig het.”

Die polisie wou nie onmiddellik die oorledenes se name bekendmaak nie, maar Maroela Media verneem vanaf Nicolize van de Walt, die amptelike familiewoordvoerder, dat die oorledenes ds. Francois van Heerden en sy seun, Rupert, is.

Van der Walt sê die voorval het in die pastorie plaasgevind.

“Mev. Herzola van Heerden, die predikantsvrou, was ten tyde van die voorval elders in die huis en het die skote gehoor toe dit omstreeks 14:30 gevuur is.  Sy het onmiddellik opgetree en die nooddienste en polisie met die hulp van bure ontbied,” het van der Walt gesê.

Pa en seun is op die toneel dood verklaar.

“Die polisie se forensiese eenheid was op die toneel en die uitslae van ballistiese toetse sal verdere lig op die voorval werp. Die familie versoek dat die publiek hulle weerhou van afleidings en bespiegelinge te midde van hierdie hartseer tyd en eerder konsentreer op die mooi nalatenskap van ds. Van Heerden.”

Francois en Herzola. Foto: Verskaf.

Herzola en Francois was vanjaar 41 jaar getroud.

“Ds. Francois was die afgelope tyd siek, maar die prognose was positief en daar is geen rede om tans te glo dat dit enigsins tot die voorval bygedra het nie. Die familie probeer nog tot verhaal kom, maar getuig van ds. Francois se verhouding met die Here en sê dat hy ʼn onbaatsugtige mens was wat God en ander altyd eerste geplaas het.”

Van der Walt het gesê Rupert was die egpaar se oudste seun en het in Johannesburg gewerk en naweke by sy ouerhuis deurgebring.

Rupert word oorleef deur sy seun, Rijn (20 maande), en vriendin van die afgelope ses jaar.

“Rupert was gek na die natuur, tuinmaak en aksiesport; hy was joviaal, gek na mense en het ʼn baie klein hartjie gehad. Die familie beskryf Rijn as sy oupa se oogappel. Naas Rijn was ds. Francois se grootste vreugde om muurbal te speel en tyd met sy gesin deur te bring. Dr. Andries Kritizinger wat 44 jaar lank vriende was met Francois, beskryf hom as ʼn man uit een stuk, ʼn man met ʼn integriteit. ʼn Reus…”

Die familie het hul dank betuig met elkeen wat vir hulle bid en vir die huldeblyke wat van reg oor die wêreld instroom.

Francois, Rupert en Rijn. Foto: Verskaf.

Francois word oorleef deur sy vrou, Herzola, en seun Carl (Rupert se jonger broer) wat werksaam is in Kaapstad, asook sy kleinseun, Rijn.

Die begrafnisdiens van pa en seun sal Saterdag om 11:00 vanuit die NG Kerk-Sentraal in Gonubiestraat, Stilfontein, plaasvind. Die ter aarde bestelling sal daarna plaasvind.

’n Saak van moord word ondersoek en ’n geregtelike doodsondersoek is begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Verstaan nie ·

Ek verstaan nie hoekom moet ouers altyd hulle kinders saam hulle om die lewe bring nie. As jy nie meer wil lewe nie, maak dan n einde aan jou lewe. Die Arme kleintjie van 20 maande moet nou sonder sy pappa grootword.
En ons sien dit elke dag, ouers skiet hulle kinders en dan hul self.

Sean Blom ·

Hou asb jou kommentaar vir jouself! Net soos jy nie verstaan nie, verstaan ek ook nie hoekom almal altyd iewers ñ eier te lê het oor sake waarvan hulle niks weet nie.

Martie ·

Sê ek ook “Verstaan nie” , skiet dan net jouself, en dan sê hul “hy ander voor hom geplaas” klink nie vir my so nie.

Gert ·

Ek stem saam niks gee jou die reg om n kind sy reg te ontneem om te lewe , moord is moord en ons weet wat se die groot boek oor moord.

Dink mooi ·

‘n Mens moet baie mooi dink voor jy jou mond uitspoel en oordeel oor ander. Ek regverdig nie die gebeure nie, maar niemand weet wat daartoe aanleiding gegee het nie. ‘n Mens bly ‘n mens met foute, of jy ‘n predikant is of nie. Niemand is perfek nie. Lees mooi, daar word gesê “na bewering”. Jou eie afleidings gaan jou niks in die sak bring nie en ook nie die situasie verander nie. Betoon asb. respek aan die familie en vriende wat agterlaat is. Onthou niemand is gevrywaar van so iets nie, dit kan met enige iemand in enige gesin gebeur. Ds. Francois was ‘n mens met ‘n hart van goud!

Spook ·

Gert en Sies- soos altyd kan jy enigiets regverdig uit die groot boek. Draai die wang vs ‘n oog vir ‘n oog, moord vs liefde, slawerny vs menseregte. Mense se mites en spookstories kan egter nie die realisitiese wereld bepaal nie.

KG ·

Elke huis het maar sy kruis. Hoe ookal sy, dit bly hartseer. Baie sterkte aan beide mans se geliefdes.

Oud Stillie ·

Dis maklik om afleidings te maak en vinger te wys maar nie een van julle wat kwetsende kommentaar lewer het die gesin geken nie. Ook was nie een van julle tydens die voorval teenwoordig nie. Mag jy nie geoordeel word soos jy self ander oordeel.

Andre ·

Ds Francois was ons predikant vandat hy en Herzola in Stilfontein aangekom het. Waarlik ‘n hart van goud. Niemand sou ooit kon dink dat so iets sal gebeur nie.
Niemand mag ‘n oordeel fel sonder al die feite op die tafel nie.
Sondag was juis nagmaal, sy preke was altyd pitkos en iets wat mens bygebly het.
Ai, ek gaan hom mis…

Koos de Meyer. ·

Die Bybel sê vir ons die Satan loop rond soos ‘n brullende leeu en kyk wie hy kan verslind. Wie is ons om te oordeel. Hartseer dat sulke dinge al meer gebeur.

Pieter ·

Ek jen Ds Francois en sy vrou van 1981 af toe hy hy Stilfontein aangekom het. Hy was n dierbare dierbare mens wat my met baie issues in my persoonlike lewe gehelp het, insluitende n selfmoordpoging.

My meegevoel aan Herzola en Carl wat agterbly. Rus in Vrede Ds Francois en Rupert.

Nou toe nou ·

Vreemd hoe dit altyd net goeie mense is wat doodgaan.

Anton ·

Ai die mense wat so maklik tot gevolgtrekkings kom. Julle was nie daar nie en dit lyk my meeste van julle het ook nie die man geken nie. Ek het. Dalk moet die gesin en familie ruimte gegun word, of is dit te veel gevra?

Oom Kalahari ·

Alle medelye aan hierdie familie gedurende hierdie tyd asook aan alle vriende, kollegas en gemeente lede. Dit is ‘n tragiese gebeurtenis en baie hartseer wat vele se harte aanraak en wat hierdie gesin in persoon geken het en nou moet afskeid neem. Alle sterkte en Seeninge aan almal en behou die goeie herinneringe in jul harte. Mag God hierdie famielie deut hierdie tyd van rou dra en SY teenwoordigheid ook vertroosting bring.

SNEL ·

Dis vreeslik en baie hartseer op meer as een gebied. My hart gaan uit na hierdie twee mans se geliefdes. Baie sterkte, mag die Here julle krag gee en dra deur hierdie moeilike tyd.

martien ·

Onduidelik dat soveel getuig hul het hom geken en van sy goeie lewe getuig. Maar so eienaardig, dat dit lyk of niemand hom werklik geken het nie want nou getuig almal niemand het geweet hy gaan doen wat hy gedoen het nie. Maw NIEMAND het hom geken nie anders het hul geweet wat hy gaan doen. Ek is so jammer vir jou mevrou wat met die hartseer sal moet saamleef.

Rooikop ·

Volgens Beeld het die dominee kanker gehad wat verskriklik is ……………… maar hoekom sy seun ook dood skiet ?????

Vriendin ·

Ai mense, julle kan so te kere gaan, sonder dat die feite bevestig is, Rupert is ‘n ou vriend van my en ek was baie jare in Ds. Francois se kerk, so ek ken die twee manne goed, ons het die nuus alreeds Sondag aand ontvang en in die geval was die boodskap dat seun sy pa geskiet het. So ek sal almal aanbeveel om rustig te raak want niemand behalwe Rupert en Ds Francois weet wat het daai dag gebeur, al wat julle doen is om die familie net verder te traumatiseer. Tannie Herzola en Carl, sterkte vorentoe ek vra omverskoning dat die situasie so gesensionaliseer is deur die media en die onsensitiewe mense.

Aldo Berg ·

Die Duiwel is die aanklaer, die Heilige Gees die Berader. In so ‘n aangeleentheid moet mens eers vra deur wie jy gelei word, voordat jy skryf. Sterkte en liefde aan almal wat geraak word.

Veer ·

Moord is moord of dit nou deur n geharde krimineel of n “geliefde” dominee gepleeg word…

Absoluut ·

Absoluut, ek oordeel nie, maar daar was drasties iets verkeerd anders sou ‘n geliefde mens nie in so situasie beland het nie. My 1ste gedagte was skiet ongeluk en dat hy dalk nie met dit sou kon saamleef, maar met al die vure doodslaan sit dit verkeerde denke aan die gang.

Suster Van Eck ·

Glo nogsteeds hy het nie eerste geskiet nie…. en glo ook nie hy sou ten spyte van sy siekte of wat die rede was homself of sy kind om die lewe bring nie… sterkte aan die familie wat agterbly…

Anoniem ·

Ten spyte van n hele klomp onsensitiewe ongevraagde sinnelose rusbank speurders en sielkundige kenners se idiotiese kommentare hierbo, kan ek asb my simpatie aan die gesin en uitgebreide familie aanbied. Ek dink aan julle in hierdie baie moeilike tyd.

Ds (=Domeritus) Danie Malan ·

Al die onsekerheid oor hierdie absoluut tragiese skietvoorval kon voorkom gewees het as die polisiewoordvoerder nie voortydig en skaars twee ure na die voorval ‘n ondeurdagte, feitelik onbewese impulsiewe verklaring “na bewering” gemaak het nie! Dit was ongevraagd en onbillik. ‘n Sagmoedige uiters begaafde prediker en kollega is sonder dat alle omstandighede, deeglike forensiese en ballistiese ondersoeke en verslae uitgereik is, klaar deur die media e.a. skuldig bevind aan moord en selfmoord terwyl daar verskeie ander moontlike scenarios kon wees. Ek betwyfel dit baie sterk dat die tragedie deur enigeen (allermins deur dr Francois) doelbewus vooraf beplan sou gewees het. Of ons ooit sal weet wat presies tot die sinnelose dade aanleiding gegee het, is ook sterk te betwyfel. Persoonlik haat ek enige vuurwapen naby my! Meer mense is myns insiens al deur hul eie wapens beseer of gedood as diegene wat dit in noodweer as afskrikmiddel sou kon gebruik het. Mag ons liewe Hemelvader ons almal – in besonder die uiters getraumatiseerde en geskok-verslae naasbestaandes deur sy Heilige Gees troos en vertroos en uiteindelik ook die genade skenk om die onverklaarbare, diepsnydende tragedie te kan verwerk as iets wat Hy nie in sy – vir ons onbegryplike – Raad gewil het nie, maar tog toegelaat het. Kom ons swyg eerder en word stil voor die Alwetende Skepper en Beskikker oor lewe en dood.

willem ·

Daar sal nie haar van jou hoof val sonder dat Hy nie daarvan weet nie . Sterkte aan almal.

Mariska ·

Was saam Rupert in Laerskool en Hoërskool . Ds Van Heerden was n wonderlike mens so ook Rupert ons het as tieners altyd daar gekuier en die gesin is wonderlike mense, wat gebeur het is vir die van ons wat hulle geken het onwerklik vir ander is dit net nog iets om oor teoordeel. Ds Van Heerden het ons kinder lewe gevul met bybel stories, speletjies en liefde , die wat oordeel kan maar , maar ons sal hom onthou soos wat hy was, Rus in vrede Ds en Rupert , ons onthou julle soos julle was ….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.