Stilswye heers nog oor aantygings teen Albert Fritz

Albert Fritz, die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. (Foto: Twitter)

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, snoer sy mond oor die “ernstige aantygings” wat teen die geskorste LUR vir gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz, gemaak word.

Fritz is Maandag met onmiddellike inwerkingtreding geskors nadat die “aantygings” oor sy gedrag gemaak is.

Anroux Marais, LUR vir kultuursake en sport in die Wes-Kaap, is intussen as waarnemende minister van gemeenskapsveiligheid in Fritz se plek aangestel terwyl die saak ondersoek word.

Winde het Maandag in ʼn verklaring gesê hy verstaan daar is baie vrae oor die aard van Fritz se bewerings, maar hy kan nie in dié stadium antwoorde daarop verskaf nie.

“Ek is nog altyd oop en deursigtig met die inwoners en media. Maar in dié geval – met inagneming van spesifieke versoeke deur die klaers vir vertroulikheid, die erns van die bewerings en die regte van alle partye op ʼn regverdige en onbevooroordeelde ondersoek – mag ek tans geen inligting gee nie,” sê Winde.

Winde het ook sekere gerugte wat die ronde doen in die kiem gesmoor.

“Gerugte word versprei deur enkelinge wat die saak wil verpolitiseer. Ek sal nie politiek speel met die welstand van mense nie en wil enigiemand wat dié aangeleentheid as politieke sokker beskou, versoek om selfbeheersing aan die dag te lê. Dit is veral met inagneming van die versoeke wat deur die klaers gemaak word en die regte van almal op ʼn regverdige proses.”

Volgens Winde word die saak met die erns wat dit verdien, hanteer.

“Ek sal so gou as wat ek enigsins kan bykomende inligting rakende die saak verskaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

Ja nee – jy moet ‘n krimineel wees om op die Parlement te kan dien

Andries ·

Sonder ‘n kibbel sy skorsing aanvaar wetende dat hy moontlik aangejaag het.

JohanR ·

‘n DA word darem geskors. ‘n ANC sal gou op die volgende vliegtuig wees as ambasadeur Thailand toe. Jy kan moes nie ‘n ANC sonder ‘n werk en salaris he nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.