Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het gesê hy betreur die afsterwe van die belowende stoeier, KleinJan Combrinck.
Combrinck en medestoeier Michael Gaitskill was Sondagoggend in ʼn motorongeluk betrokke tussen Springs en Nigel aan die Oos-Rand. Gaitskill is in ʼn kritieke toestand in ʼn hospitaal in Springs.
Combrinck, gebaseer in Richardsbaai in KwaZulu-Natal, het Suid-Afrika onlangs tydens die Statebondspele in Australië verteenwoordig. Hy het gereeld vir oefensessies na die Oos-Rand gereis en hy en Gaitskill was besig met voorbereidings vir die o.23-wêreldkampioenskap later vanjaar.
Hy het nie ʼn medalje ontvang by die Statebondspele nie, maar hy het die 2018 Afrika-titel in die 57 kg-afdeling gewen.
“Die verlies van KleinJan en Michael se ernstige beserings het die Suid-Afrikaanse sportfamilie geskud. Albei hierdie mans was uitstekende stoeiers en uitstekende ambassadeurs vir Suid-Afrikaanse sport op die internasionale verhoog,” het Gideon Sam, president van Saskok, gesê. “Ons innige simpatie aan KleinJan se familie oor hul tragiese verlies. En aan Michael se familie, sluit ons by die res van Suid-Afrika aan om hom vinnige beterskap toe te wens.”
Nico Coetzee, nasionale stoei-afrigter, wat ook deel was van Span Suid-Afrika by die Statebondspele vanjaar, het ook sy medelye betoon. “KleinJan se afsterwe is ʼn groot verlies vir die stoeigemeenskap. Almal gaan hom mis. Ons innige meegevoel met sy pa, ma en suster. Ons bid ook dat Michael ten volle sal herstel.”
KleinJan laat sy pa Jan, ma Linda en suster Maritia agter.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
7 Kommentare
Our sympathy goes out to the family of KleinJan Combrinck for their great loss and also best wishes for Michael to recover soon.
Liefste nederigste , pragtigste jong man ooit. …jy het diep spore in ons almal se harte en lewens getrap. Wat ‘n wonderlike voorbeeld was jy vir so baie jongmense.
Trots Baaitjie om jou deel te kon hê as leerder in Hoërskool Richardsbaai. Nou gaan jy by JESUS se voete sit en saam met HOM wandel in die HEMELSE TUIN.
Altyd net mooi dinge gehoor van Kleinjan alhoewel ek hom nie persoonlik geken het nie. Altyd hartseer as jong mense in die fleur van hul lewe weg geneem word. Mag God vertroosting bring vir sy familie. Prof Albert Basson
Mooi woorde.-Ver links
My hart gaan uit na die familie. My innige simpatie deur hierdie aaklikge tyd. Beterskap aan Michael ook.