Stompkopkewer kan SA miljarde kos

Stompkopkewer kan SA miljarde kos (Foto: Verskaf)

Suid-Afrika kan oor die volgende tien jaar 65 miljoen bome kwyt wees en meer as R200 miljard moet opdok weens ’n indringerplaag wat bome teiken en reeds oor agt van die nege provinsies in Suid-Afrika versprei het.

’n Studie deur die Universiteit van Stellenbosch (US) in samewerking met die Universiteit van Pretoria (UP), het bevind dat die stompkopkewer (polyphagous shot hole borer) reeds derduisende bome geïnfekteer het. Dit het reeds te wyd versprei om heeltemal uit te roei en dus kan die verspreiding bloot bestuur word. Die koste verbonde daaraan om geïnfekteerde bome te vernietig, asook om koolstofdioksied wat normaalweg deur dié bome uit die atmosfeer verwyder sou word, op ʼn ander manier te verwyder, word op R274 miljard geraam.

Die stompkopkewer is ’n indringerplaag wat bome infekteer en in 2012 vir die eerste keer in Suid-Afrika opgemerk is. Dit het sedertdien na agt van Suid-Afrika se nege provinsies versprei, wat dit tans die grootste uitbreking van hierdie indringerplaag wêreldwyd maak.

Terwyl die meeste van Suid-Afrika se mees berugte indringerspesies problematies vir landelike gebiede is, sal hierdie aggressiewe indringer die grootste uitwerking op bome in stedelike gebiede hê.

Die studie is behartig deur ekonome van die US se Skool vir Openbare Leierskap, ekoloë van die DWI-NNS- sentrum van uitnemendheid in indringerbiologie (SIB), die Departement Bewaringsekologie en Entomologie, in samewerking met die Universiteit van Pretoria (UP) se Instituut vir Bosbou- en Landboutegnologie.

Luidens ’n verklaring deur die US is die studie op ’n modelleringsbenadering gebaseer, wat gebruik maak van voorspelde reikwydte. Met die studie beoog die navorsers om die moontlike toekomstige reikwydte van hierdie indringer te simuleer, indien niks gedoen word om die verdere verspreiding hiervan te keer nie.

Die bevindings is gepubliseer in die artikel An assessment of the potential economic impacts of the invasive polyphagous shot hole borer (Coleoptera Curculionidae) in South Africa” in die Journal of Economic Entomology.

Prof. Francois Roets, ’n ekoloog in die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie en een van die mede-outeurs van die artikel, sê ’n boomryke dorp soos Stellenbosch loop die gevaar om 20 000 van die groot ou eikebome en plataanbome langs sy strate te verloor, weens die bedrywighede van die stompkopkewer.

Hy sê in Somerset-Wes, waar die stompkopkewer vier jaar gelede vir die eerste keer opgemerk is, is meer as 10 000 bome reeds geïnfekteer en sommige daarvan is nou besig om dood te gaan.

“Bome wat in stedelike gebiede voorkom, is meer vatbaar om voor die kewer se aanslag te swig, aangesien hierdie bome gewoonlik reeds stres ervaar in ’n stedelike omgewing in vergelyking met dié wat in ’n natuurlike woud voorkom, wat ryk aan biodiversiteit is. Mense in stedelike gebiede is ook geneig om meer uitheemse boomspesies te plant, waarvan baie gekloon is en nie die genetiese diversiteit het wat nodig is om nuwe plae af te weer nie,” sê Roets.

Opsies is beperk

Prof. Martin de Wit, ’n ekonoom van die US se skool vir openbare leierskap en hoofouteur van die artikel, sê as niks gedoen word om die verdere verspreiding van hierdie indringer te keer nie, sal munisipaliteite landwyd tussen 2020 en 2030 ’n geskatte 65 miljoen bome in stedelike gebiede moet uithaal en veilig ontslae van raak. Dit sluit die bome op privaat grond buite stedelike gebiede uit.

“Ons benodig ’n nasionale beleid en gekoördineerde strategie vir munisipaliteite om hierdie kewer in sy spore te stuit,” waarsku hy. “Tot op hede is die stompkopkewer nog nie op die regering se lys van uitheemse en indringerspesies wat val onder die nasionale omgewingsbestuur se Wet op Biodiversiteit nie, wat dit vir munisipaliteite moeilik maak om doeltreffend te reageer.”

Prof. Brian van Wilgen, ’n ekoloog van die SIB en mede-outeur van die studie, sê die opsies vir die bestuur van hierdie indringer is beperk. “Gegewe die feit dat dit reeds wydverspreid voorkom, is die uitroei daarvan onmoontlik en die bestuur hiervan sal daarop moet fokus om die verspreiding te verminder en om die uitwerking hiervan te versag. ’n Eerste stap − en waarskynlik die mees ekonomiese een − sal wees om die vrye beweging van potensieel besmette plantmateriaal, hout en houtprodukte te beperk,” sê hy.

Volgens Roets kan die stompkopkewer slegs kort afstande vlieg – van 500 m tot 2 km – en daarom is sy vinnige verspreiding in Suid-Afrika hoofsaaklik te wyte aan mense wat hout oor munisipale en provinsiale grense heen vervoer.

“Die slegte nuus is dat ’n enkele maagdelike wyfie ’n nuwe kolonie kan vestig deur slegs ’n manlike nageslag te produseer en dan met hulle te paar. Hierdie ‘perfekte indringer’ voorsien ook hulle eie kos in die vorm van die swam Fusarium euwallaceae, ’n uitheemse spesie wat saam met die kewer in omloop gebring is,” verduidelik Roets.

Navorsing is aan die gang om ’n biologiese beheermiddel teen die swam (Fusarium euwallaceae) te vind wat met die kewer verbind word. “Dit sal egter minstens ’n dekade neem om so ’n ‘agent’ los te laat – indien een ooit gevind kan word. En dit sal selfs langer neem voordat daar enige noemenswaardige afname in die verspreiding verwag kan word,” skryf die outeurs in die artikel.

Tot dusver is geen getoetste en goedgekeurde insek- of swamdoder in Suid-Afrika geregistreer waarmee die stompkopkewerbesmetting behandel kan word nie. “Enigiemand wat jou vertel dat hulle jou boom sal red met chemiese middels en swamdoders jok,” waarsku Roets.

“’n Gekoördineerde strategie om die indringers in Suid-Afrika te hanteer, vereis ’n hersiening van wetgewing en die skep van beleidstellings rakende biologiese indringers. Tans is daar geen gekoördineerde bestuur van indringerspesies in stedelike ekosisteme nie − ’n sorgwekkende versuim,” skryf die outeurs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Willempie ·

Nog ‘n virus uit die OOSTE …. vanaf Vietnam en Taiwan … danksy onse regime die anc. RSA grense is mos oop vir ieder en elk en alles wat daarmee gepaard gaan.

JohanR ·

Dog amper toe ek na die prentjie kyk is ‘n ANC minister!

Roebs ·

What is Beauveria bassiana used for?
Beauveria bassiana is an entomopathogen that infects a huge variety of insects and is used to control crop infestations by aphids, thrips, and whitefly. The fungus is cultured in solid state fermentation and formulations of its conidia are sprayed on plants as an emulsion or a wettable powder.

Martin ·

Ek het slegte nuus vir die kewer hy het groot kompetisie met ons huidige regering met betrekking tot die vermorsing van geld…

Swerwer ·

Aangesien die ANC wesens so lief is om alles aan die brand te steek en af te breek kan hul nou hul regering help om die Stompkopkewer uit te roei.

Suzette ·

Die regering gaan nie omgee nie – soveel keer al bewys – dit is hoekom die land is waar dit is…..

Pablo ·

Sedert 2012 bekend maar niks gedoen om die kewer uit te roei nie. Hulle stem seker vir die ANC.

Theunis ·

My vraag is dat hul in 2012 die kewer opgemmerk het en geweet watse skade hy kan aanrig nou 10 jaar later wil hul iets omtrent dit doen wat duidelik te laat is amper het hul gedink in 2012 dit gaan somme net wegraak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.