Stoomopwekkers eers later by Koeberg vervang

Die Koeberg-kernkragsentrale. (Argieffoto)

Eenheid twee van die Koeberg-kernkragsentrale wat middel Januarie aan die kragstelsel onttrek is, sal in Junie – soos aanvanklik beplan – in volle werking wees. Die eenheid se stoomopwekkers sal egter eers later vervang word.

Die eenheid is vir geskeduleerde opknapping en hervulling van sy brandstofvoorraad onttrek.

Volgens Eskom het hy met betrekking tot die vervanging van die eenheid se stoomopwekkers voor die aanvang van enige onomkeerbare werk ’n finale hersiening gedoen.

Hy het toe tot die gevolgtrekking gekom die waarskynlikheid groot is dat die eenheid later as beplan na die netwerk teruggestuur sal word.

Eskom het aanvanklik gesê die opknappingswerk sal tot Junie duur.

“Weens die potensiële ernstige impak van die terugbesorging van hierdie eenheid ná Junie, is die besluit geneem om die vervanging van die stoomopwekkers uit te stel tot die volgende onderbreking op hierdie eenheid, wat vir Augustus 2023 beplan word. Dit is om die risiko te vermy dat elektrisiteitstoevoer tydens die winterperiode – met ʼn hoë kragaanvraag – beïnvloed word,” sê Eskom.

Eskom sê hierdie uitstel het geen impak op die veilige werking van die Koeberg-kernkragsentrale of op Eskom se lewensverlengingsplan vir Koeberg nie, wat die vervanging van die stoomopwekkers op albei eenhede vereis.

“Die veilige en betroubare werking van die twee kerneenhede speel deurgaans ’n beduidende rol in die toevoeging van stabiliteit tot die netwerk.”

Tot op hede is die brandstof suksesvol hervul, en die meerderheid van die werk wat vir die vroeë deel van die onderbreking beplan is, het goed gevorder. “Eenheid twee van die Koeberg-kernkragsentrale sal dus in Junie weer in diens geneem word. Dit word beplan om die druk op die res van die opwekkingskapasiteit te help verminder en om die impak van beurtkrag gedurende die winterperiode te beperk.”

Die vervanging van eenheid een se stoomopwekkers word vir September vanjaar beplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Stories wil dit hê dat Koeberg se kundiges die een na die ander die pad vat. Waarom sou dit wees want as dit waar is, is daar ‘n skroef los. Die hoof is glo ook onlangs in ‘n miswolkie gehul, weg. Wat gaan regtig aan? Weet diegene wat oor is, hoe daai masjiene werk?

Strandloper ·

Skrikwekend. Beide reaktors ook getooi in n blou blokie raaisel van die see se kant met veele kruise? Dit moet sekerlik die oorblyfsels wees van toetse, of is dit dalk die rede vir die uitog?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.