Stop die selektiewe hantering van rassisme

rassisme mnn_com

Grafika: Mnn.com

Suid-Afrika is te geduldig met swart-op-wit-rassisme en -haatspraak. Gewone wit Suid-Afrikaners se onaanvaarbare rassistiese opmerkings op sosiale media word op die voorblad van elke koerant bespreek, terwyl invloedryke politici en regeringsamptenare met gesag se haatspraak veel minder aandag geniet.

Dit is van die bevindinge van ʼn verslag wat die vakbond Solidariteit vandag in Centurion bekendgestel het, wat ʼn duidelike patroon van dubbele standaarde met die hantering van rassisme en haatspraak toon. Die verslag vorm deel van Solidariteit se groter #StopRassisme-veldtog wat die vakbond aan die einde van Februarie vanjaar van stapel gestuur het. Die verslag is ʼn poging van die vakbond om ʼn meer gebalanseerde en deursigtige debat oor die kwessie tot gevolg te hê, want volgens Johan Kruger, adjunk uitvoerende hoof van die vakbond, is dit tans baie eensydig en emosioneel.

“In 2016 is daar ʼn gemiddeld van 643,6 mediaberigte geskryf oor elke geval waar ʼn wit persoon hulle skuldig gemaak het aan onaanvaarbare rassistiese kommentaar op sosiale media in teenstelling met soortgelyke oortredings van swart persone, wat gelei het tot ʼn gemiddeld van 50,3 mediaberigte daaroor. Indien ʼn mens die mediadekking rondom Penny Sparrow sou bywerk, was daar 1 268 mediaberigte oor wit-op-swart-rassisme en al sou ʼn mens Julius Malema se uitlatings teenoor wit mense in berekening bring, is daar net 66,4 mediaberigte in die geval van swart-op-wit-rassisme,” het Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI), gesê

Volgens Mulder word die prentjie nog verder skeefgetrek as ʼn mens in gedagte hou dat wit mense wat in die media gekap word oor hulle rassistiese uitlatings gewone landburgers is. “Hulle is eiendomsagente, ʼn ekonoom, student en gim-eienaar, maar politici en regeringsamptenare wat mense wil mobiliseer op grond van ras kry maar min aandag in die media oor húlle rassistiese uitlatings en haatspraak wat gewoonlik voor ʼn veel wyer gehoor gemaak word.

“Uit die gevallestudies is dit duidelik dat mediadekking oorweldigend eensydig is. Trouens, die grootste aantal mediaberigte vir ʼn swart oortreder, Julius Malema, met 163 mediaberigte, is bykans ʼn 100 berigte minder as die kleinste aantal vir ʼn wit oortreder, in dié geval Justin van Vuuren, met 251 mediaberigte oor sy uitlatings.”

Mulder het verder gesê dit is ook kommerwekkend dat die Suid-Afrikaanse menseregtekommissie (MRK), wie se taak dit is om rassespanning te kalmeer en aan te spreek, tot dusver op eie stoom teen gewone landburgers opgetree het, terwyl die 34 klagtes teen politici en regeringsamptenare eenvoudig nie vorder nie.

“Die MRK het ʼn bevinding teen Tlou Molele sowel as Matthew Theunissen gemaak. Molele, ʼn wiskunde-onderwyser van ʼn privaat skool, het in sy rassistiese uitlating op Facebook gesê hy dink wit mense is ʼn genetiese mutasie en hulle moet teruggaan na hulle land van herkoms. Theunissen, ʼn Kaapse student, het in sy rassistiese Facebook-inskrywing uitgevaar oor die internasionale sportgeleenthede wat afgeskaf is omdat sekere spanne nie aan sportkwotas voldoen nie. Albei moes om verskoning vra. Albei is tot gemeenskapdiens gevonnis. Al verskil is dat Tlou Molele 10 uur gemeenskapdiens moes verrig en Theunissen ses maande.”

Mulder sê die manier waarop die MRK haatspraak en rassediskriminasie hanteer druis lynreg teen die Verenigde Nasies (VN) se komitee vir die uitwissing van alle rassediskriminasie (CERD) se riglyne in. “Ons navorsing toon dat die MRK baie maklik teen wit liggewigte optree en swart swaargewigte ongestoord laat begaan,” het Mulder bygevoeg.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, versterk die optrede van die media en MRK die onderliggende idee in Suid-Afrika dat swart Suid-Afrikaners nie rassisties kan wees nie. “Dié vals idee moet uitgewis word, want dit voed ʼn klimaat waarbinne swart haatspraak aanvaarbaar is. Dit is nie net vals nie, maar ook gevaarlik, want dit gee vrye teuels aan uitsprake oor wit Suid-Afrikaners en lei daartoe dat honderde inskrywings op sosiale media suggereer dat wit mense vermoor mag word, sonder gevolge.

“Die deurlopende indruk wat geskep word dat net wit mense rassisties kan wees, maak van wit mense ʼn legitieme teiken en dit word aanvaarbaar en reg om op sosiale media te sê wit mense moet met ʼn bazooka geskiet word of geslag word. Suid-Afrika, ons speel met vuur.”

Solidariteit se veldtog sluit in ʼn massaklag, wat aan die begin van Mei by verskeie nasionale en internasionale instellings ingedien gaan word. Dit sluit in die Suid-Afrikaanse parlement, die MRK, die internasionale arbeidsorganisasie, die internasionale menseregtekommissie en die VN se CERD.

“Ná die sukses wat Solidariteit verlede jaar by CERD behaal het, is ons vol vertroue dat ons weer suksesvol sal wees. Die reaksie op die klag is ongelooflik. Ons verwag dat minstens 200 000 mense ons klag gaan onderteken.”

Hermann het beklemtoon dat alle vorme van rassisme en haatspraak verkeerd is en dat Solidariteit ook ʼn interne veldtog vir die vakbond se werknemers en lede van stapel gestuur het om wit rassisme aan te spreek.

“Dit is iets waaroor almal in Suid-Afrika sterk behoort te voel. Ons moet begin om nee te sê. Ons geduld met rasseboewe soos Malema is egter op. ʼn Verslag deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) toon dat die rasseverdraagsaamheid op grondvlak veel beter is as wat voorgehou word en vertroetel behoort te word. Iets soos die plaaslike afdeling van die World Value Survey wat deur die Universiteit Stellenbosch behartig word toon verder dat Suid-Afrikaners besonders baie gedeelde waardes het, waaronder ons voorkeur vir konserwatiewe sosiale waardes oor alle kleurgrense heen. Ons kan dit nie langer duld dat politici en regeringsamptenare hierdie goeie verhoudinge en ooreenstemmende waardes vertrap om mense op grond van ras te mobiliseer vir hulle eie gewin nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CHRISTA ·

Volgens ons regering en hulle trawante is rassisme teenoor blankes WETTIG!!! Voordat dit nie aangespreek word nie, sal geweld en diskriminasie teenoor blankes NOOIT VERANDER nie!!!

LB S ·

Ek moet ook eerlikwaar sê op grondvlak en my gewone daaglikse omgang tussen alle rasse vind ek nooit ‘n probleem nie. Almal groet mekaar vriendelik en gaan aan met die besigheid van die dag. Dit is mense soos Malema en sy soort wat al die probleme veroorsaak deur haatspraak en om elke geringe fout van ‘n witmens op die altaar te gooi. Dalk gaan hierdie saamstaan deur al die opposisiepartye uiteindelik daarin slaag om van hierdie euwel ontslae te raak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.