Storm Filipo bring gou reën

storm, winde, Suid-Afrikaanse Weerdiens, reën, see, water

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Die tropiese storm Filipo kan vanaf Dinsdag en Woensdag verspreide reën- en donderbuie oor die Laeveld meebring, met swaar reën wat oor die verre noordoostelike dele van KwaZulu-Natal verwag word.

En hoewel dit vir inwoners in dié dele van die land welkome verligting kan bring ná die afgelope week se hittegolf, waarsku die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) dat tropiese storms gevaarlik is.

Luidens ʼn verklaring van die SAWD het storm Filipo oornag van ʼn tropiese laagdrukstelsel in die Mosambiekkanaal tussen Madagaskar en die vasteland van Suider-Afrika versterk en word dit nou as ʼn matige tropiese storm geklassifiseer.

Dit beteken stormsterk winde met ʼn gemiddelde spoed van tussen 63 en 89 km per uur kan verwag word. Teen Maandag het Filipo weswaarts teen ʼn matige spoed van 11 km per uur beweeg.

Storm Filipo sal na verwagting hoofsaaklik die suidelike streke van Mosambiek raak en ook ʼn uitwerking hê op die noordoostelike dele van Suid-Afrika.

Volgens die weerdiens sal die storm veral suid van Beira swaar tref waar sterk rukwinde en golwe verwag kan word.

“Vooruitskattings dui daarop dat plaaslike seevlakke met tot 50 cm langs die kuslyn tussen Beira en Vilankulos kan styg,” sê die SAWD.

Swaar tot sterk reënstorms word tot Woensdag verwag soos wat die storm suidwaarts beweeg. In Limpopo sal daar ʼn hoë risiko van uitermatige swaar reënval wees.

Riviere in die sentrale en suidelike helfte van die Krugerwildtuin, waaronder die Olifants-, Letaba-, Sabie- en Sandrivier, sal waarskynlik oorstroom.

Inwoners in die noordoostelike dele van KwaZulu-Natal, veral langs die kus van Richardsbaai en die noordelike binneland, kan van Woensdag af volgehoue swaar reënstorms verwag.

Vir die res van die land sal daar ook ʼn klein mate van verligting kom, met uitermatig hoë temperature wat sal afneem.

Volgens die SAWD sal die kwik in Gauteng teen Dinsdag begin daal.

Hittegolftoestande met hoë temperature sal egter oor die oostelike dele van die Noord-Kaap, Noordwes en Vrystaat, asook die sentrale en noordelike dele van die Oos-Kaap voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.