Storm maak amok ná Radio Raps-konsert

Jonathan, Radio Raps, voor die tent omgewaai het. Foto: Tiaan Geissler

Jonathan, Radio Raps, voor die tent omgewaai het. Foto: Tiaan Geissler

“Toe kom daar ʼn wind so sterk soos Durban curry en blaas die tent weg!” So skerts die grapmaker Jonathan, oftewel Radio Raps, nadat ʼn storm Saterdagaand die markiestent waar hy vroeër by ʼn dryfhoubaan in Pretoria opgetree het, omgewaai het.

Hy was nie self daar toe ʼn groot donderstorm omstreeks 22:20 die Panorama Golf Range in Rooihuiskraal, Centurion, getref het nie. Minstens vyf mense het geringe beserings opgedoen toe ʼn stormsterkte wind die markiestent geskep en omgewaai het.

“Jonathan se vertoning het om 20:00 begin en die storm het ná die vertoning losgebars,” het Zygi Pekalski, een van die dryfhoubaan se drie eienaars, Sondag aan Maroela Media gesê. Pekalski het gesê hy is nie seker hoeveel mense toe onder die tent was nie aangesien baie van die mense reeds huis toe is. “ʼn Paar van die gaste het ná die tyd gebly om verder te kuier.”

Braam Kruger, woordvoerder van die nooddienste Emer-G-Med wat beseerdes op die toneel bygestaan het, het gesê drie mense het geringe beserings opgedoen nadat hulle hoofsaaklik deur die markiestent se pale getref is.

“Daar was geen ernstige beserings of lewensverlies nie. Mense is vir ligte skraapwonde en kneusplekke behandel,” het Kruger aan Maroela Media gesê. Hy het gesê die drie mense is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir waarneming. Twee mense is ook met hul eie vervoer na ʼn kliniek wat naby die dryfhoubaan geleë is.

Volgens Pekalski het die storm ook gazebo’s, sambrele, tafels en breekware beskadig.

Pekalski het die publiek bedank wat daar was en almal na veiligheid in die hoofrestaurant gehelp het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

foxi ·

Watwou!!!!!!Dit was die wind van die blou bulle wat verby gekom het!

Johann Marx ·

Hahahaa…die “wind” van die flou bulle? Jy’s reg…die Cheetahs het die wind uit hulle uit gespeel. Ek hoor die flou bul ondersteuners van Pta het nou soveel respek hulle stop by oranje verkeersligte? hahahahahaha……

Koos ·

Julle is reg dis daai wind toe die bulle gat skoongemaak het om uit Bloemfontein te kom terug na Pta. Hahaha

Poot ·

Praat die manne van die “flou bulle”. Ek wonder waar was hulle spanne die afgelope naweek? WeePee, Sharkies, Welpies….. Hulle het seker gras gesny by hul huise. Ten minste was die BULLE in die finaal.

Wondermaarnet ·

Die enigste drie wat die Floues kon druk was deur ‘n eks-Vrystater. Ha-ha-ha

Wondermaarnet ·

Nie een van die floues kon ‘n drie druk nie toe het ‘n eks-Vrystater maar ‘n drie vir hulle gaan druk. Ha-ha-ha

zahn ·

Nee, ek het nie gras gesny nie, ek was voor die televisie, besig om te geniet hoe jou span se jis geskop word. Antwoord dit jou vraag?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.