Storm ontwrig NWU-Pukke se jool

Verskeie studente het geringe beserings opgedoen nadat ‘n stormwind die biertent op die NWU-joolplaas omgewaai het. (Skermgreep: Facebook)

Veiligheidsbeamptes was Vrydagoggend nog besig om ʼn bestekopname te doen nadat ʼn stormwind Donderdagaand ʼn biertent op die Noordwes-Universiteit se joolplaas in Potchefstroom omgewaai het.

Dit het die feestelikhede liederlik ontwrig.

Louis Jacobs, woordvoerder van die universiteit, het gesê nege mense is beseer toe die tent in stormweer meegegee het. Hulle het geringe beserings soos skraapmerke opgedoen.

Honderde mense het in die tent teen die reën geskuil, en video’s van die tent wat omwaai is wyd op sosialemediaplatforms gedeel.

Volgens Jacobs is die joolplaas Vrydagaand ná die voorval ontruim.

Gisteraand se byeenkoms was die begin van die jool en duisende mense word by vanaand se konsert verwag. Jacobs het gesê veiligheid is egter nou die grootste prioriteit.

Die konsertorganiseerders, die universiteit se direkteur van studentelewe, asook die polisie en veiligheidsbeamptes van die munisipaliteit het vanoggend die perseel geïnspekteer om seker te maak dit is veilig vir die verrigtinge om voort te gaan.

Behalwe vir die biertent wat beskadig is, is heelwat skade ook aan die verhoog aangerig. Dit sal na verwagting wel betyds herstel kan word as daar besluit word dat die konsert mag voortgaan.

Jacobs het gesê die universiteit sal belangstellendes op sosiale media en ander media op die hoogte hou sodra ʼn besluit geneem is.

Dit was vanoggend steeds bewolk oor die dorp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Louis ·

Moenie hierdie gebeure vlak kyk nie. Daar is ‘n waarskuwing in hierdie gebeure, As jy aan die toeval glo hoort jy nie op die kampus nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.