Storm oor bekende liedjieskrywer glo nie liedjies lewer

Johan Oberholzer. Foto: Facebook

Johan Oberholzer is ʼn “briljante” liedjieskrywer en die Suid-Afrikaanse musiekbedryf sal armer wees sonder hom.

Só sê Arnold Coleske van Coleske Artists (CA), ná verskeie kunstenaars Oberholzer, ʼn bekroonde liedjieskrywer en vervaardiger, gedagvaar het vir werk waarvoor hy glo betaal is, maar nie gelewer het nie. Verskeie kunstenaars beweer hulle het Oberholzer derduisende rande vir liedjies betaal wat hy glo net vir ander kunstenaars gegee het.

Oberholzer is nie in diens van CA nie, maar doen wel werk vir die maatskappy. CA verteenwoordig van Suid-Afrika se gewildste Afrikaanse kunstenaars.

Coleske sê egter hy maak geensins verskoning vir die foute wat Oberholzer gemaak het nie. Sy raad aan die liedjieskrywer was om te erken hy het foute gemaak en dit reg te stel.

“Die verblydende ding is dat hy (Oberholzer) weet dat hy drooggemaak het en dit wil regstel. Ek respekteer dit,” het Coleske gesê.

Coleske sê Oberholzer het nie in dié stadium genoeg geld om ál sy skuldeisers onmiddellik te betaal nie, maar tref glo reëlings om dit te doen. “Hy wil en gáán dit regmaak,” het Coleske gesê.

Retha Dreyer, eienares van die produksiemaatskappy Diamant Musiek, sê Oberholzer het haar nog vanoggend weer die versekering gegee dat hy haar geld sal terugbetaal. Dreyer sê sy eis meer as R100 000 van Oberholzer vir produksiewerk wat hy nie gedoen het nie, asook vir twee liedjies wat hy moes skryf.

“Ek is ʼn redelike mens. As hy (Oberholzer) my geld terugbetaal, vergewe ek hom en ons gaan aan,” het Dreyer gesê.

Oberholzer het onder meer die liedjie “Versekerseker” vir die sangeres Mariska Reynders geskryf. Diamant Musiek verteenwoordig haar. Dreyer het teen vanmiddag nog geen terugbetaling ontvang nie.

Dirk van der Westhuizen (Foto: Facebook)

Wian Smith van The Marketing Zoo wat die sanger Dirk van der Westhuizen se bemarking hanteer, sê Van der Westhuizen is heeltemal onkant betrap deur die onlangse bewerings.

Die opkomende sanger Ivan van den Heever beweer hy het R13 500 vir Oberholzer vir die liedjie “Salueer” betaal net om later uit te vind dat dié liedjie op Van der Westhuizen se nuwe album verskyn.

Oberholzer het ook van Van der Westhuizen se grootste treffers, waaronder die liedjie “Sexi vi My”, geskryf. In ʼn Facebook-video wat hy vanmiddag opgelaai het, sê Van der Westhuizen hy het wél al ʼn bloutjie met Oberholzer geloop, maar dat hulle dit sedertdien uitgeklaar en aanbeweeg het.

“Ek glo in vergifnis. Ek glo, wat ook al hy verkeerd gedoen het aan ander mense, sal hulle accordingly hanteer en hy gaan daai mense vergoed,” het Van der Westhuizen gesê.

“Ek was nie eens bewus van die feit dat ‘Salueer’ op my vorige album ook aan iemand anders verkoop is nie. Ek het dit nou eers agtergekom. Kom ons los die situasie in God se hande en by die regspanne en almal betrokke. Ek los hierdie goed in Coleske (Artists) se hande. Ek het dit vir God gegee en hoop van harte dat hierdie ding mooi uitgepluis word, dat Johan almal sal vergoed en dat almal wat te na gekom is, meer as oukei sal wees.”

Die opkomende kunstenaar Ivan van den Heever beweer hy het R13 500 vir Oberholzer vir die liedjie “Salueer” betaal. Foto: Facebook

Van den Heever sê hy sukkel al sedert 2016 om óf ʼn liedjie óf die R13 500 wat hy daarvoor betaal het, uit Oberholzer te kry. Hy sê Oberholzer het twee jaar gelede die lied “Salueer” vir hom aangebied en hy was geskok om dit sowat ʼn maand later op Van der Westhuizen se album te hoor.

Van den Heever sê hy is ontnugter deur die proses en skryf deesdae eerder sy eie musiek. “Ek glo nie ek gaan my geld terugkry óf ʼn liedjie van hom ontvang nie. Dit sal wonderlik wees om ʼn liedjie te kry wat vir my suksesvol kan wees, maar ek sal nie weer met hom kan saamwerk nie,” het Van den Heever gesê.

“Dis ʼn ongelukkigheid. Jy sit alles in om geld te kry om vir ʼn liedjie te betaal en dan ontvang jy dit nooit. Maar ek was die afgelope jaar stééds baie suksesvol en ek kan net vir die Here dankie sê daarvoor.”

Kenners meen ʼn liedjie met goeie liriek is geen waarborg dat die kunstenaar wat dit vrystel, wél daarvan ʼn treffer gaan maak nie. ʼn Liedjie bly boonop die eiendom van die skrywer daarvan en kan deur enigiemand anders opgeneem word sodra dit gepubliseer (vrygestel) is.

Oberholzer het nie Maandag op ʼn versoek om kommentaar gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Elene ·

Dis julle eie fout. Hoekom betaal Julle hom vooruit?. Hy hoef mos nie marteriaal te koop nie!

Santjie ·

Nee, huule het nie nodig om hom vooruit te betaal nie, maar hy dring seker daatop aan? Waar is sy eer?

Santjie ·

Hy versoek seker ‘n “deposito”? – maar dis glad nie ‘n eerbare ding om te doen nie! as dit nou nog een sanger was wat gekla het, maar nou is daar al ‘n hele paar! Oberholzer, doen die eerbare ding en gee die mense se geld terug.

Lizl ·

En hier sit ek en wens iemand wil tog eendag my goed lees en dit n kans gee…

Rohan Barnard ·

Hi Lizl, gaan soek my op FB. Ek kan moontlik help. My vriend is die beatuurder van onder andere Nicholis Louw en Vernon Barnard van “The Voice South Africa”. Ek kan julle in verbinding laat tree. Miskien kan julle dalk saam werk.
My profiel foto is van my en my lewensmaat, met ‘n raam om wat sê “adopt, don’t shop”

PlainJane ·

Ek wil dit sê en gaan dit sê: Sangers dis julle eie probleem hierdie. Hoekom vertrou julle so maklik? Gullible.

Kasper Rasper ·

Afrikaanse ‘musiek’ (sic!) in sy geheel was nog altyd vir sy infantiliteit bekend…. naamlik die gedurige “handjies klap en koekies bak” tipe wysies & lirieke – so reg uit die kleuterskool se boekies uit. Pateties.

Andrea van Vuren ·

Maai baby! Wat het van ons talentvolle liedjieskrywers geword? Sinnelose herhalings en ‘n gedoef-doef. Hulle besig om ons kosbare musiekwêreld te besoedel. Baai maai baby…

IK ·

Dit lyk asof iemand(e) ‘n ander deuntjie (gaan) sing? Nee-wat, dis ‘n herhaling en rymelary wat skrik vir niks. Iets soos:
Ek het jou lief,
my boeliebief,
my hartedief,
my soetelief.
Herhaal tot vervelenstoe . . .

Gert van Wierdapark ·

Miskien moet sangers Verseker-Versekering uitneem as liedjieskrywers met hul geldjies verdwyn sonder om te rimpel en rym. Ek sal sangers ook salueer as hul sodanige Verseker-versekering uitneem. He-he-he, lag die liedjieskrywer in sy mou, my baby, soek vir jou ‘n vrou, my baby ek wil trou, my baby, kom tog gou! -Virseker sal dit ‘ n tref-ver wees!

Johan ·

Moenie vergeet van die sangers wat so op back tracks sing nie. Dan is daar van hulle wat n helse naam het. Neewat ou Steve en Anton bly maar koning.

Tina ·

En soos gewoonlik is daar weer ‘n hele paar mense wat kommentaar lewer sonder om te weet waarvan hulle praat. Johan Oberholzer het beslis verkeerd opgetree, maar hy skryf vrek goeie liedjies. Weet julle ooit wat se liedjies al uit sy pen gekom het? Nee ek glo nie as ek so kyk na party van julle se kommentaar nie.

Rohan Barnard ·

Lizl, ek kan jou moontlik help. Soek my op facebook. Op my profiel foto is ‘n raam wat sê “adopt don’t shop”. Dit is ook ‘n foto van my en my lewensmaat. My vriend is die bestuurder van Nicholis Louw sowel as Vernon Barnard van “The voice SA” faam.

Musiek Kenner ·

Net ‘n Regstelling Rohan. Ferdie Steyn is Vernon Barnard se PR.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.