Storm oor Tshwane-metro se ‘korrupte’ R12 miljard-kontrak

Kgosi Maepa, streekswoordvoerder van die ANC in Tshwane, en Lesego Makhubela, woordvoerder van die ANC-koukus in die raad, spreek die media Donderdag toe. Foto: ANA

Die ANC het Donderdag ʼn beroep op Gautengse premier David Makhura gedoen om in te gryp in die “korrupsiebesmette” Tshwane-metro deur die hoofstad onder administrasie te plaas.

Kgosi Maepa, ANC se streekswoordvoerder in Tshwane, sê die party doen ʼn beroep op Makhura, pres. Cyril Ramaphosa en Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, om die stad onder administrasie te plaas terwyl daar ʼn spesiale ondersoek na die stad se sake gedoen word.

“Daar is nou bevestigde getalle uit die ouditeur-generaal se verslag wat aandui dat bykans ʼn halfmiljard rand aan Glad Africa uitbetaal is.”

Moeketsi Mosola, Tshwane se stadsbestuurder, is vyf dae gegee om dokumentasiebewyse in te dien teen die ouditeur-generaal (OG) se voorlopige bevindinge oor die stad se omstrede toekenning van ʼn R12 miljard-kontrak aan die ingenieurskonsultantgroep, Glad Africa.

Die gelekte OG-verslag bevat inligting oor die tender om infrastruktuurprojekte ter waarde van R12 miljard van stapel te stuur. Die verslag dui daarop dat Mosola, wat namens die stad opgetree het, nie aan die munisipale voorsieningskanaalbestuursregulasies voldoen het nie.

Die verslag noem ook dat die munisipaliteit versuim het om te demonstreer hoe hy sal baat by die kontrak met Glad Africa soos deur die regulasies vereis.

Oor die Tshwane-ANC se gefnuikte poging om ʼn mosie van wantroue in Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, ter tafel te lê, het Maepa gesê dié kwessie sal op 26 en 27 November in die hooggeregshof uitgeklaar word.

Randall Williams, waarnemende uitvoerende burgemeester van Tshwane, het in ʼn verklaring gesê die munisipaliteit erken dat die Glad Africa-aanstelling onreëlmatig was en dat daar ʼn onafhanklike ondersoek na die ooreenkoms gedoen moet word.

“Die wil van die mense van Tshwane word egter gefrustreer deur ʼn stadsbestuurder wat weier om die Bowman Gilfillan-verslag oor die saak in die raad ter tafel te lê. Mens kan maar net vermoed dat hy bekommerd is oor die inhoud van die verslag,” het Williams gesê.

Bowman Gilfillan is die maatskappy wat Tshwane se ondersoek na die tender behartig het.

Mosola het ook Donderdagmiddag ʼn verklaring oor die saak uitgereik. “Hoewel ek glo die ouditverslag is gelek met kwaadwillige bedoelings soos sulke gelekte dokumente maar gewoonlik is, het dit nie my vertroue in die ouditproses van die OG en sy ouditpersoneel gedemp nie,” het Mosola gesê.

“In ʼn konsepdekbrief [aan Mosola] het die OG sy respek vir die proses en redelike stappe bevestig deur die Stad Tshwane die geleentheid te bied, sou hulle van die bevindinge verskil, om dokumente ter bewyse en verduideliking in te dien.

“Ek en my bestuurspan het die nodige geskrewe kommentaar en verduidelikings ingedien om die OG in staat te stel om die bevindinge van die ouditverslag te finaliseer. Daarom sal ons nie verder hieroor kommentaar lewer tot die proses afgehandel is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Thinus ·

Die ANC moet liewers stilbly, want hulle is die mees korrupte en onbevoegde party ooit, maar wil kommentaar lewer oor prosesse wat nie gevokg is nie. Vir ‘n party wat R51 miljard gemors het is hulle die laaste om vinger te wys. Pot calling the cettle black…

zoom zoom ·

Daar is nie ‘n party wat nie korrup is nie. Tshwane gaan val en dit gaan die DA se eie fout wees. DA gaan alles op ‘n skinkbord aan die ANC en EFF gee.

SjN ·

Eers was dit millions, toe billions, waar gaan dit stop. Korrup.

Neutraal ·

Die neseier wat deur al die jare met respek opgebou is, word met een enkele transaksie leeg getap.???

Geregtigheid ·

Kom daar dan nie n einde aan die gemors nie??? Wanneer gaan hulle SA eerste stel en nie hulle eie agenda nie???

Skroef ·

He he he he!!!! Anc, da, acdp, inbevoegdheid en grootheidswaan lei tot sie grootskaalse korrupsie. Whoop whoop….. Good ole bbbee!

Hanna Hoekom ·

The pot calling the kettle black… Nou ja, toe! Gaan soek eerder daardie R51 miljard wat “verdwyn” het in ANC geledere. Wenk: begin by KFC en dan Liquor City.

thelsa ·

Dit is te wonderlik dat daar in ‘n oogwink ALLE prosesse omseil kan word met die toekenning van kontrakte en dan neem dit ‘n kommissie van ondersoek JARE om die skuldigee te kry of te straf.

koos ·

Die ANC nou die morele kompas?
Dis soos om Julius Malema minster van landbou en grondsake te maak!

D B ·

Daar is ‘n groter kans dat Malema ons volgende president sal wees as wat daar is dat ek ooit weer vir die DA sal stem, en my besluit het niks met die berig te doen nie.

Tot vandag toe wil ek nog weet hoe ons in Pretoria beter af is onder die DA? Water en krag pal af, geen paaie word meer skoongemaak nie, metro polisie is vertraag, om maar net enkele voorbeelde te noem, maar waag jy om een maand nie te betaal nie. Dan gaan ons uwe burgemeester en skryf miljoene rande se skuld af. Vir wat? Stemme?

So gepraat van burgemeester, hoekom is daar nou ‘n “waarnemende uitvoerende burgemeester”?

Sarel ·

Ek vind dit Komies dat due ANC skree Korupsie. Nou lekker gelag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.