Storm oor visumbrief belemmer SA toerisme

Minister Aaron Motsoaledi. Foto: GCIS/Flickr

Die minister van binnelandse sake het Sondag ontken dat ʼn daling in toeriste uit die buiteland die gevolg is van die inhoud van ʼn uitgelekte omsendbrief wat sy departement in Desember uitgestuur het, waarin na Europese toeriste as “swaeltjies” of “sonjagters” verwys is.

Die omsendbrief was bedoel vir die grensbestuursowerheid (GBO) en het gelui dat toeriste wie se visums verstryk het, die land moet verlaat of hulle sal as onwenslik verklaar word.

Die minister het Sondag gesê die storm wat die uitgelekte brief ontketen het, was nie soseer as gevolg van die uitwerking wat dit op toerisme gehad het nie, maar eerder om “modder na die departement” te slinger.

Die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika stem egter nie saam nie.

Rosemary Anderson, nasionale voorsitter van Fedhasa, sê alhoewel dit slegs vir interne gebruik bedoel was, het die omsendbrief Suid-Afrika se toerismesektor aansienlik geknou.

“Die departement se vertraagde reaksie in die terugtrek van die brief, het veroorsaak dat talle negatiewe ervarings oor Suid-Afrika versprei is, wat die persepsie van Suid-Afrika as “onvriendelik” versterk het.”

Motsoaledi sê hy is bewus van berigte dat talle buitelanders sedertdien by die grens weggewys word, ten spyte daarvan dat hulle strokies het wat bewys dat hulle aansoek gedoen het vir ʼn hernuwing van hul visums. “Ek het dit al telkemale in die parlement probeer opklaar.

“Hierdie omsendbrief was bedoel om amptenare by die hawens en grensbeheer te lei oor wat hulle moet doen wanneer hulle burgers van ander lande – wat binne bepaalde kategorieë val – by die grense teëkom.

“Dit sou onder andere individue wees wat aansoek gedoen het vir visumverlenging, kwytskelding of appèlle en nog nie hul uitkomste ontvang het nie,” het hy gesê.

“Eerder as om enigiemand te lei, het hierdie dokument ongelukkig ʼn bohaai in die media en by ondernemings veroorsaak ​​wat die toerismebedryf negatief beïnvloed het.”

Hy het benadruk dat die departement van binnelandse sake niks daarby sal baat deur die toerismebedryf – wat as een van die pilare van die ekonomie beskou word – te vernietig nie.

Volgens Anderson het die voorval nie net die onmiddellike planne van talle internasionale besoekers geraak nie, maar ook saadjies van twyfel oor Suid-Afrika se deursigtigheid as toeristebestemming gesaai.

“Die skade wat die omsendbrief aangerig het – onder meer om individue te dwing om te vertrek en hulle vir ʼn tydperk as persona non grata (onwelkom of onaanvaarbaar) te merk – strek veel verder as blote ongerief.

“Dit het die noodsaaklike vertroue en sekuriteit wat toeriste soek wanneer hulle ʼn bestemming kies, weggekalwe.”

Sy sê die verwysing na “swaeltjie” was veral onnodig.

“Hierdie individue, wat skuiling soek teen die harde Europese winters, is nie bloot toeriste nie, maar is ekonomiese bydraers wat hul tyd en hulpbronne in ons plaaslike gemeenskappe en ondernemings belê.

“Die behoefte aan ʼn meer akkommoderende visumbeleid, een wat die waarde en potensiaal van sulke langtermynbesoekers erken, was nog nooit so duidelik nie.”

Voorstelle vir visumregulasieverbeterings

In reaksie op hierdie uitdagings het Fedhasa verskeie verbeterings aan die raamwerk vir voorgestel. Dit sluit in dat die instel van langtermynvisums oorweeg moet word en die visumverlengingsproses vereenvoudig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Attie ·

En die duisende onwettige Afrika immigrante reik hulle paspoort aan uit. Die mense, met alle respek gesê, is net ‘n las op ons land se dienste. Die wat hulle uitgooi bring te minste geld in ons land in, en help ook net werkskeping.

Andre ·

…díe minister,soos sy ampsbroers,het geen benul waaroor hulle portefeuljes gaan nie!

Anel ·

Mense hou nie sommer vir langer as 90 dae vakansie nie. Enige lande waarheen jy wil gaan, reik ‘n visum uit vir 90 dae uit. Vir enige ander rede moet daar motivering wees. Hoekom dink mense hulle kan na Suid Afrika toe kom en dat hier nie ook rëels is nie!!! En ek glo dis al die wat onwettig hier wil bly en kom werk wat die meeste kla. Ander lande gooi jou uit om nie ‘n las op hulle ekonomie te wees nie. Maar hier het almal, behalwe die belastingbetalende burgers, mos menseregte!!!

Alex ·

Eerste plek maak jy nie opmerkings nerens nie. Dit lek op n manier uit. Baie swak!

Martie ·

Anel ek stem volkome met jou saam. As ek oorsee gaan moet ek dag en datum van gaan en terugkom gee. En dis nie net Afrikalande se burgers wat onwettig hier is nie, hier is baie ander ook. Europa en Amerika vat niks drama van toeriste nie. jy is wettig of jy gaan en sommer vir goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.