Storm oor Zuma se salarisverhoging

Pres. Jacob Zuma.  Foto: DoC

Pres. Jacob Zuma. Foto: DoC

Pres. Jacob Zuma se salaris is Donderdag in die parlement met 4,4% verhoog ten spyte van sterk teenkanting deur opposisiepartye.

Die ANC het ʼn mosie om Zuma se salaris met 4,4% te verhoog goedgekeur, hoewel die DA, die EFF, COPE en die ACDP teen die verhoging gestem het. Zuma se salaris is nou R2 874 821 per jaar.

Volgens die opposisiepartye verdien Zuma nie ʼn salarisverhoging ná ʼn jaar waarin die ekonomie byna tot rommelstatus geval het, die Nkandla-debakel plaasgevind het en ’n mosie van wantroue in die parlement teen die president ingestel is nie.

Die DA het Vrydag in ʼn verklaring gesê die feit dat die ANC ʼn salarisverhoging vir die president goedgekeur het wanneer hy dit nie verdien nie, wys net weereens dat die party die ANC eerste stel en Suid-Afrika tweede. “Suid-Afrika se ekonomie is op die rand van rommelstatus as direkte uitvloeisel van die president se optrede en besluite in Desember verlede jaar. Sy salaris moet onveranderd bly om sy onvermoë om die ekonomie te verbeter en werk te skep te weerspieël,” het die DA gesê.

“Zuma se swak gedrag word met R7 876 per dag beloon, terwyl 8,2 miljoen Suid-Afrikaners uit die ekonomie uitgesluit is weens werkloosheid. President Zuma, sy makkers en ANC-kaders hou aan om ʼn lewe van ongerepte oorvloed te leef, beskerm deur korrupsie, onbevoegdheid en middelmatigheid, terwyl gewone, hardwerkende Suid-Afrikaners se finansiële sekuriteit en lewensbestaan gestroop word soos die ekonomie bly daal.”

Die ANC het in ʼn verklaring gereageer deur te sê Zuma het al telkemale die salarisverhoging wat hy aangebied is, verminder uit respek vir die land se ekonomiese klimaat. “In die jaar toe hy die amp vir die eerste keer beklee het [2009], het die kommissie [vir die Vergoeding van Openbare Ampsbekleërs] aanbeveel dat hy 8% verhoging kry, maar hy het dit na 7% verminder. In 2010 het die kommissie 7% aanbeveel, maar hy het dit tot 5% verminder en in 2013 het die kommissie 7% aanbeveel, maar die president het besluit om geen verhoging te aanvaar nie.”

Die party het die opposisiepartye se LP’s skynheilig genoem en gesê hulle “behoort hulle te skaam”, aangesien hulle doodgelukkig die salarisverhogings wat aan hulle toegestaan is, aanvaar het, maar teen ʼn salarisverhoging vir Zuma stem. “Nie een van die opposisie se LP’s wat jaarliks die parlement se oorweging van Zuma se salarisverhoging misbruik, het die moed gehad om ʼn laer of geen salarisverhoging vir hulself te kies nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Stomgeslaan.... ·

R2.8 Mil per maand….R7800 per dag! En belasting betalers moes vir Nkandla betaal….hoeveel sit sonder n sent, geen dak, geen kos…. Beautiful land van ons

Sune van Heerden ·

Dagsê Stomgeslaan

Ons vra om verskoning vir die verwarring wat ingetree het toe die berig aanvanklik gepubliseer is as “R2 874 821 per maand”. Dit moet lees “per jaar” – die berig is intussen gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

m ·

So baie geld vir strooi aanjaag… sjoe al sy dosyne vrouens is seker baie opgewonde met die spending money….

Gerd Lourens ·

Die salarisse wat die korruptes kry is maar ‘n druppel in die emmer van die korrupsie-geld wat na hulle toe stroom.

jaco ·

vergeet vir ‘n oomblik van Zuma se reusagtige salaris en kyk na ‘n gewone LP s’n: dis meer as R1miljoen per jaar PLUS ‘n lekker kar PLUS ‘n lekker huis PLUS verniet vlieg PLUS ‘n lekker onthaaltoelae. En hulle almal kry dit, OOK die DA en die Vryheidsfront Plus en die EFF wat aanmekaar huil pay back the money. Is hierdie reusagtige pakkette vir parlementslede regtig nodig? Verseker kan hulle met minder regkom. As opposisieparlementslede regtig besorg is oor vermorsing van belastingbetalers se geld, sal hulle met minder kan regkom en NIE die 4,5% verhoging op hulle salarisse aanvaar nie. Aanvar hulle dit, is een ding baie duidelik:” hulle is in die politiek NET vir die geld.

Daleen ·

M.A.W: ‘n lekker vet salaris vir niks doen nie? Ek wil daar gaan werk!

GES ·

En jy kan slaap in die banke terwyl die parlement in sittings is. Lekker man lekker ….

Karma ·

Die laaste paragraaf verwys. Ouens, as mens nou REGTIG eerlik wil wees, het die ANC ‘n punt hier beet. Die opposisie leiers is teen ‘n verhoging vir JZ gekant (ek ook, ek dink hy moet minder, eerder as meer verdien, dan sal hy weet hoe amper 70 % van die land se mense voel), maar hulle het ook nie hul eie verhogings verminder of van die hand gewys nie. En soos Jaco hierbo noem, is daar nog allerlei “fringe benefits” by die ou ‘joppies’ bygevoeg en dit, vir die meeste van hulle wat òf nie Parlementêre sessies bywoon nie óf sit en slap daartydens.

apie ·

hulle het nie al sy gades se inkomstes bygelas nie. dis dermiljoene per jaar ekstra . Hierdie vent het erken dat hy moet terugbetaal vir nkandla. dus erken dat hy gesteel het. in plaas van 2 biljoen spandeer op n vliegtuig moet hulle reel dat n universiteit gebou word vir zoeloes en xhosas in natal of transkei. ek is moeg van hierdie twak. ek het my absoluut simpel gewerk om erens te kom – en skielik is my pensioen niks werd agv hierdie man se nonsens

Johann ·

Wat no 1 per dag verdien, verdien ek en die meeste gewone mense nie eens per maand nie…

tammy ·

Dis n skande!!!!!hy is n vernedering vir elke opgevoede mens in die land. Die res natuurlik uigesluit soos verkragters en moordenaars. Dit moes -100% gewees het!,,,, Wat my betref lewer hy geen waarde aan hierdie land nie. NIKS

GES ·

Ek het jare gelede n verkeerde loopbaan gekies. Ek moes ook eerder ‘n beeswagter geword het en graad 5 afgeloer het.

Oom Boer ·

Hierdie verhoging maak net nie vir my sin, want onlangs met die SONA het die einste man dan so gal gebraak oor besparings veltogte regdeur die Parlement en nou dit met ‘n swak (Rommel Status) ekonomie ophande tans. Dit terwyl sovele mense daagliks hongerly, geen woonplek, medies ens het nie en gedurig verwys moet word na “The poorest of the poor” vra ek graag, is dit nie onsimpatiek teenoor ‘n land wat gebuk gaan onder geweldige finansieële druk. Is dit nie dalk diktatorskap, selfverryking of net bloot ignorering van ‘n land wat moet voortbou nie? Dit gesien in geheel is verdoemend en so onsensitief van ‘n ge-eerde “Leier”

Chris W ·

Hy is ‘n beleding en ‘n verleentheid vir ons land en hoort eerder ge-fire te word.Hy kan nie eers sy EIE anc stemmers tevrede stel nie.Wat ‘n pateet om president te wees van ‘n land.Dan gee hulle die nar ‘n verhooging?Een groot sirkus!

Bach ·

Parlementslede verdien ook geensins sulke astronomiese vergoeding nie maar nie een het die moed om dit te erken nie en as ‘n gebaar teenoor die miljoene armes en werkloses minder te aanvaar nie.

Jean ·

Wat n sirkus wat n grap die anc’s die eff’s . Die wiele kom af en daar is geen stop as die verval nie Ai.
Ja aanhou gryp want die fondse gaan opdroog en die land gaan nog erg brand!

wynand ·

Kom ons hou duimvas dat hy nie meer lank in beheer gaan wees nie. Hy en sy maatjies. Hy het nie verniet tonnels onder sy huisie gegrawe nie want hy gaan daar wegkruip of probeer ontsnap. Hy gaan n sewer rat word. Net tyd…….

jaycee ·

Een ding staan soos ‘n paal bo water: hierdie serebraal-beperkte individu probeer sy bes [seker onbewustelik?] om homself so aanstootlik as moontlik by die bevolking te maak. Sy gedrag sal ongetwyfeld ook buite ons landsgrense resoneer en ander Afrika-korruptes sal ‘n soort afguns en wrewel ontwikkel omdat hy ongestraf bly terwyl hy maak en breek soos hy wil met een doel voor oe en dit is om homself en diegene naby hom, ten koste van die gewone landsburgers te verryk.

coen vollgraaff ·

Gewone parlementslede is geregtig op verhogings want hulle is nie direk vir die verliese wat die land gely het verantwoordelik nie..

BuzzBull ·

Ek stem dat ons nie meer hoef belasting te betaal nie, siende die regering meer uit kry as ons wat betaal en nie die diens kry wat ons soek nie. Ek stem vir n staak teen belasting!!!

PJ ·

So hy het wragtig three hundred and twenty ten fifty eleven rand verhoging gekry ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.