Stormagtige naweek vir verskeie provinsies voorspel

Foto: Pixabay

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Vrydag gewaarsku teen ʼn naweek van swaar reën en erge donderstorms vir die meeste dele van die oostelike en noordelike provinsies.

Kevin Rae, weervoorspeller by die SAWD, het gesê swaar reënval en donderstorms word voorspel oor die noordoostelike dele van die Vrystaat, die noorde van KwaZulu-Natal, die oostelike dele van Noordwes, Gauteng, die hoëveld van Mpumalanga en die westelike en suidelike dele van Limpopo.

“Hierdie toestande sal Vrydag veral in die aand begin en dan oorspoel na Saterdag toe,” het Rae gesê. Rae het gewaarsku dat die swaar reën oorspoelings op die paaie en swak sigbaarheid tot gevolg kan hê.

Hy het ook gewaarsku dat sommige van die donderstorms met groot hael, stormsterk winde en plek-plek vloede gepaard kan gaan.

Rae het gesê die rede vir die verandering in die weerstoestande kan toegeskryf word aan drie kenmerkende weerverskynsels wat vanaf Vrydag oor die binneland van Suid-Afrika waargeneem kan word, waaronder ʼn stroom tropiese vog wat na die suidelike dele beweeg en beduidende koeler en vogtige lug wat vanaf Saterdag oor KwaZulu-Natal en die Hoëveld sal beweeg.

Rae het gesê die publiek kan koue en winderige toestande vanaf Saterdag verwag. “Die laevlak-winde sal styg en die lug verder destabiliseer wat verdere reënval en plek-plek vloede oor bogenoemde provinsies sal bring. Die swaar donderstorms sal hier en daar voorkom saam met koue en reënerige toestande oor die oostelike helfte van die land,” het Rae gesê.

Die goeie nuus is dat die weer Saterdag vanuit ʼn westelike rigting sal begin opklaar. “In dié stadium word daar verwag dat Gauteng Saterdag ʼn droë nag sal ervaar soos wat die reënstelsel ooswaarts en noordwaarts na Limpopo en Mpumalanga beweeg en veral in KwaZulu-Natal sal dit voortduur tot Sondagoggend,” het Rae gesê.

Die SAWD het die publiek weereens gewaarsku om sover moontlik binnenshuis te bly en nie riviere en strome oor te steek wanneer daar oorstromings voorkom nie.

“Indien jy in jou motor vasgevang word, probeer so vinnig moontlik uit die voertuig en op hoërliggende grond kom. Wat geboue betref, moet waardevolle items na bo die verwagte vloedlyn geskuif en die kragtoevoer afgeskakel word,” het Rae gesê.

Die SAWD monitor die situasie en sal nuwe inligting deurgee soos nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harry ·

Ek kan nie glo wat ek lees nie. Oral word daar gebid vir reen maar hier moet ek lees dat “die goeie nuus is dat die weer Saterdag sal begin opklaar”
Ek sien daagliks hoedat die vragmotors met voer bosveld toe ry omrede die boere nie meer weiding vir hul vee en wild het nie.
Ek vra maar net.

Andrea ·

Dit het my ook opgeval! Geen reën is ooit v my té veel nie.

Rita Young ·

Ek hou nie van Maroelamedia se woorde dat ” die goeie nuus is dat dit van Saterdag vanuit die weste sal begin opklaar” nie, ons het reën nodig, en dis beslis nie goeie nuus dat die reën weer so gou gaan opklaar nie! Goeie nuus is REEN!! En ek is niemand se “jong” nie!

Adri ·

Rita, ek stem volmondig met jou saam. Ek kan nie glo dat die berigskrywer so ongevoelig kan wees om te skryf dat droë weer goeie nuus is nie. Hy of sy wil seker liewer gaan swem as dat ons land wat smag na reën heerlik nat word.

Let wel ·

Let wel dat dit die weervoorspeller se woorde is en nie MM. Ek stem saam met die eerder té veel as té min. Jammer vir jou wat onder die vloedlyn jou bevind want dan wou jy nie luister.

Just Saying ·

Ek dink julle ruk almal die dam onder die eend uit en lees iets in wat nie gesê of bedoel word nie. Hierdie berig gaan suiwer oor die donderstorms en die verligting wat teen saterdag verwag word omrede donderstorms geneig is om baie skade aan te wend vir mens en dier dit het NIKS te doen met die feit dat hulle en ander ondankbaar is vir die reen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.