Storms vir Gauteng, dele van ander provinsies voorspel

Foto: Pixabay

Erge donderstorms en swaar reën word die naweek vir Gauteng sowel as dele van Noordwes, Mpumalanga en Limpopo voorspel.

Donderstorms kan moontlik reeds Vrydagaand in Gauteng voorkom. Volgens die weerdiens bestaan die moontlikheid dat die storms met hael, sterk winde en kitsvloede gepaard kan gaan.

Die noordoostelike gebiede van Noordwes, die Hoëveld van Mpumalanga en die suidwestelike dele van Limpopo kan moontlik ook donderstorms verwag. Aansienlike reënval is ook moontlik in die genoemde gebiede.

Die Tshwane-nooddienste sê intussen hy is op ʼn hoë gereedheidsgrondslag indien die storms tot noodgevalle lei.

“Die stormweer kan tot oorstromings van paaie en laagliggende brûe lei wat reis moeilik kan maak en skade aan formele en informele nedersettings kan veroorsaak,” het Charles Mabaso, woordvoerder van die nooddienste, gesê.

“Daar is ’n risiko dat bome weens sterk winde ontwortel kan word. Dit kan lei tot skade aan infrastruktuur en eiendom, sowel as ’n gevaar vir mense inhou.”

Motoriste word aangeraai om nie laagwaterbrûe wat oorstroom het, oor te steek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anonymouse

Soos hulle in Engels sê: “Bring it on!”.

AW

Eina !